God se Woord in vandag se woorde

Beur teen die wind


My vriend daar uit Durbanville bel my. Hy sit met ’n vriendin en gesels en hulle wonder hoekom dit soms so swaar gaan met Christene. Ja, hulle het genoeg om te eet en te drink en hulle is dankbaar daarvoor, maar sjoe, soms voel dit asof die lewe net té hard druk. ’n Mens se bene begin bewe om alles bo te hou. En nou bel hulle my om te hoor wat ek dink.

Die woorde rol die een na die ander oor my lippe, want sien, ek het hope ondervinding en baie voorbeelde van swaarkry. Branders wat die een na die ander na my toe aangerol kom. Ek onthou êrens myself sê: “Ons Christene kry nie ’n binnebaan nie. Inteendeel!”

Net die volgende oggend staan ek by die volgende teks stil (ek staan elke keer verwonderd oor God se tydsberekening!): 12Toe jy ’n gelowige geword het, was dit nie net maanskyn en rose nie, maar jy het ’n vyand, Satan, gekry om teen te veg. Die grootste fout wat ’n jong bekeerling kan maak, is om te dink dat hy nou rustig kan terugsit, want die versoekings en uitdagings het nou eers hulle ry gekry.

Nee, kyk boeta, die dag toe jy besluit het om oor te skuif na Jesus se kamp, het jy opgeskiet en ’n baie hoë boom geword. En hou maar daai hoë bome se toppe dop. Daar bo waai die wind woes en dit is ’n gesukkel om regop te bly staan.

As jy ’n kind van God is, is jy die heeltyd in die visier van die duiwel en hy is lus vir baklei. Hy en sy trawante is daarop uit om jou van God se pad weg te lok. Jy is deel van die opposisie en jy kan maar aanvalle verwag. Baie daarvan. Om elke hoek en draai is hulle besig om planne te maak om jou by te kom en te mislei.

Hy plant ’n klein saadjie in jou kop van drome om dit eendag groot te maak, wat op sigself mos nie verkeerd is nie, maar as jy dit nie saam met die Here doen nie, verloor jy balans en dalk jou gesin en dan begin jy op ander trap om bo te kom.

Dit is ’n voltydse stryd en ’n mens moet wakker bly. Jy moet jouself voorberei en staal teen die aanvalle. Dit gaan vir seker nie maanskyn en rose wees nie. Daar gaan dae, weke en soms maande van swaar wees. Daarom die voorstel:

12… Veg daardie geveg voluit deur naby aan God te bly, want dan sal jy ook vir ewig saam met Hom leef. God het jou geroep om dit te doen en jy het voor baie mense gesê dat jy dit sal doen. Wat ek nou vir jou sê, is nie net praatjies nie.

Hoor jy? Dis nie praatjies nie. Dis nie speletjies nie. Dis die reine waarheid. Die bose loop hier rond soos ’n brullende leeu. Maak ruimte vir die Heilige Gees in jou lewe, want dis Hy wat jou sal waarsku teen die aanvalle wat op pad is.

Die Heilige Gees wil en sal jou hand neem om deur die swaar te beur. Die bose sal nie die oorhand kry nie. Doen jou deel en beur teen die wind. Met die Gees aan jou sy sal jy nooit omgestoot word nie.

Teks
1 Timoteus 6:11-16

Om oor na te dink
Waar kom jou wind vandaan?
Sukkel jy om staande te bly?
Waar moet jy versterkings kry?

Gebed
Vader, dis nie maklik nie. Soms voel dit vir my ek kan tou opgooi. Soms voel die winde net te sterk. Help my om staande te bly. Help my om ander te help om staande te bly. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek