God se Woord in vandag se woorde

Bid, omdat gebed werk


Filippense 1:3-4

Dis tyd vir ’n belydenis.

Nee, nie ’n belydenis om te sê waarin ek glo nie. Nee, hierdie is ’n belydenis oor iets waarmee ek sukkel.

Ek sukkel om te bid. Al my lewe lank. Ek dink dit het iets te doen met die feit dat ek sukkel om te konsentreer. As ek stilraak, moet dit 110% stil wees. Geen rekenaar moet aan wees nie. Niks moet êrens ’n geluid maak nie, anders marsjeer my gedagtes dadelik by die deur uit.

Baie mense sukkel met gebed en tog is dit een van die belangrikste elemente van ons verhouding met God. Dit is die plek waar ons intieme verhouding met God begin. Dit is die plek waar ons nader aan God groei. Dis die plek waar die geraas van die wêreld uitgedoof word en ons ingestel kan wees op God se stem.

En tog maak ons so min tyd hiervoor.

Gebed kan lewensveranderend wees. Dis die tyd en plek waar ons petrol kry om die res van die lewe in te gaan. Dis hier waar God met ons praat en sy hart met ons deel oor hoe Hy dink die beste vir ons sal wees om deur die lewe te loop.

Maar meer nog, hier waar God en ek aan die kuier is, raak ander mense se lewens anders. Hoe kry ’n mens dit reg? Ek sien die vraagtekens in jou gedagtes.

Ek glo in gebed. Ek glo met alles in my aan gebed. Ek weet dat my ma gedurig op haar knieë was en vir haar ses kinders gebid het. Ek glo dat as my ma nie vir ons gebid het nie, ons lankal van die pad af sou wees. Ons lewens is vir seker op ’n heel ander pad, net omdat my ma gebid het.

Paulus praat ook gedurig met God oor die mense van die gemeentes vir wie hy briewe skryf. So ook vir die ouens van Filippense: 3Elke keer wanneer ek aan julle dink en met God oor julle praat, sê ek vir Hom baie dankie vir gelowiges soos julle. 4In geen gebed slaan ek oor om spesifiek aan julle te dink nie, en dit is ook baie lekker vir my om vir julle te bid.

Paulus glo ook in gebed. Hy glo nog meer dat hy vir ander moet intree en met God oor hulle praat.

Ek skryf deesdae my gebede neer sodat my gedagtes nie meer so afdwaal nie. Dit help my om te fokus op my gesprek met God.  Daarom skryf ek neer as ek vir elkeen van my alleenlopende vriende en vriendinne bid vir ’n maat. Vir my broer en susters en hulle eggenote en kinders, bid ek soos my ma vir my gebid het. Ek skryf neer wanneer ek vir my skoonfamilie bid. Selfs die vreemdeling kry nou en dan ’n beurt.

Dis lekker.

Dis ’n voorreg.

En dan is ek anders, omdat ek in die teenwoordigheid van God was.

Om oor na te dink

Bid jy?

Bid jy genoeg?

Bid jy vir ander?

Gebed

Here, dis ’n voorreg om met U te kan praat oor die mense vir wie ek liefhet. Wanneer ek met U praat, word ek bewus van hoe U wil hê ek moet in hulle lewens ’n verskil maak. Help my om gehoorsaam te wees. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek