Bly kalm en bly in beheer
Gerjo Ben preek Sondag om 9:00 op www.kruispad.tv Skakel gerus in en kuier só saam met ‘n gemeenskap van gelowiges. Tema: Voel jy soos ‘n hond? Hier’s ‘n hoop genade … 2 Samuel 9:1-13
Ons vyf vriende wat van skool af saamkom stap langs die rivier in Brisbane. Dis mooi. Daar is parke en swembaddens. Ons staan verwonderd oor die prag en hoe alles net so netjies is. Selfs die mense is rustig en sit rustig en bak in die son.
Ewe skielik hoor ons ’n vrou skree. Sy gil verby haar stem se hoogste noot. Sy storm op ’n ander fynerige meisie af. Sy bars omtrent ’n aar in haar kop, so ontsteld is sy. Dan draai sy om om stoom af te blaas, net om vir die volgende rondte weer terug te kom om nog harder te skree. Sy lyk of sy van haar kop af gaan raak.
Almal staan verstom, want sulke gedrag is vir seker nie hier in Australië algemeen nie. My Aussie-vriend sê dat die polisie vinnig gaan opdaag, want dit word glad nie geduld nie.
Die groot vrou draai weer om en dit lyk of dit die einde van die sage is. Maar nee, sy kom terug, bekyk die klein vroutjie so en boef, klap sy haar dat sy deur die lug trek tot binne die bosse.
’n Klomp jong manne kom tot die meisie se redding en vorm ’n muur. Die groter vrou blaas die aftog.
Dit was nogal vreemd om so ’n gestoeiery hier in Aussieland te sien. Hier waar alles so kalm en rustig is. Ons weet nie presies wat die rede vir die klein oorloggie was nie. Blykbaar het die een te mooi na die ander een se mannetjie gekyk.
Die vrou het dit verloor. Sy kon haar emosies nie in toom hou nie. Mooi kon ons sien hoe die gesprek spoed optel en die vroue mekaar al hoe meer opwerk. Die emosies het al hoe meer ingeskop, totdat die een heeltemal buite beheer was. Sy het irrasioneel begin optree en was later buite haar eie beheer.
Dis dalk ’n ekstreme voorbeeld, maar ons almal word soms deur dinge gekonfronteer wat nie lekker binne ons manier van doen pas nie. Dit is sulke tye wat ons emosies begin opstaan en as ons nie in beheer van hulle bly nie, kook hulle oor. Dis hier waar die gemors kom en ons dinge doen waaroor ons baie keer na die tyd sleg voel.
Een van die groot eienskappe van ons Christene is: selfbeheersing. 8… Hy moet homself goed kan beheer sodat die sonde geen houvas op sy lewe kry nie. En dis ook nie so maklik nie, want ons moenie net met sonde beheer toepas nie, maar ook in al die ander areas van ons lewe.
Sommige mense kan nie beheer uitoefen oor hoeveel hulle eet nie. Ek sukkel ook daarmee en sê mos dat my vol-knoppie stukkend is, maar dis nie ’n verskoning nie. Ons moet onsself beperk en seker maak dat ons nie gemors in ons kele afdruk nie.
Op al die ander terreine moet ons in beheer wees en bly. Ons moenie soos die vrou oorgee aan ons emosies nie, want dan sal die een lyk na die ander op ons paaie gesaai wees. En die gevolge vir onsself nie te mooi nie.
Maak ook seker wat by jou oë inkom binne die wil van God is, want as jy hier beheer verloor, kan dit jou hele lewe se heer oorneem. Maak seker dat jy in beheer bly van jou tong, want weet ons nie hoeveel skade hy op sy eie kan veroorsaak nie.
Draai eerder om, wees die minste en bly in beheer. Bly kalm. Bly in beheer.
Teks
Tit 1:6-10
Om oor na te dink
In watter areas van jou lewe sukkel jy om jouself te beheer?
Watter stappe kan jy doen om sulke situasies te vermy?
Het jy al die Heilige Gees gevra om jou hiermee te help?
Gebed
Here, soms neem my emosies oor en verloor ek beheer. Help my in my swakheid. Amen.