God se Woord in vandag se woorde

Bootjie van geloof


Geloof is om te glo in dinge wat ’n mens nog nie kan sien nie. ’n Mens het nie geloof nodig vir wat jy kan hoor, sien of ruik nie. Dit is dan daar reg voor jou! Die vraag of dit bestaan, is beantwoord, want dit staan dan daar in lewende lywe. Geloof dat dit bestaan, is nie meer nodig nie.

Wanneer dit egter by dinge kom wat jy nog nie kan sien, raak, voel of ruik nie, is ons eerste gewaarwording dat dit nie bestaan nie. Dis maar hoe mense werk. Dis hier waar ’n mens ’n goeie skoot geloof moet bymekaarmaak. Geloof is die bootjie wat ’n mens na die onsienbare neem, en al sien jy dit nog nie, om vir seker te weet dat dit tog bestaan.

Dis presies wat Noag gehad het. Hy het ’n bootjie gehad wat hom geneem het na die onsienbare vloed wat op pad was. Hy het vir seker geglo dat dit wel aan die kom was en die mal perd opgesaal en begin om bome af te saag vir planke om ’n boot te bou.

7… Gelowig het hy geluister en gedoen, al was daar nog geen teken van reën of oorstromings wat sou kom nie. Sy geloof het duidelik gewys hoe ongelowig die ander mense was, en daarom kan hulle nie nou verskonings maak nie. Noag het gewys dat vertroue op God ’n mens vrymaak voor God.

Dis egter nie so maklik nie. Ek sien baie mense, baie slim mense, wat net nie in hierdie bootjie van geloof kan klim nie. Hulle haal alle empiriese feite uit die boek om juis te bewys dat God nie bestaan nie.

Êrens moet ’n mens die sprong in die donker maak. Êrens moet ’n mens op die bootjie klim en met alles in jou vashou aan die wete dat die bootjie jou sal neem na dit wat jy nie nou kan sien nie.

Die wonderlikste is dat wanneer ’n mens in die bootjie sit, ’n mens anders sien. Dan kyk ’n mens deur ’n bril van geloof wat die gebeure om jou in fokus bring en kan jy juis God se hand daarin raaksien. Dan besef jy daar moet ’n God wees.

Met jou sig in fokus, sien ’n mens God in die skepping raak. In die volmaakte roosknoppie wat besig is om oop te breek, in alle prag en praal. In die glimlag van ’n vriend of vreemdeling. Hoe meer jy in geloof leef, hoe meer wonderwerke pop orals in jou lewe op.

Binne die bootjie van geloof verstaan ’n mens vir die eerste keer regtig wat Jesus vir ons gedoen het. Dan kan ’n mens nie meer net daar sit nie. Jy spring terug in die nou-wêreld en begin iets vir ander doen. Net uit dankbaarheid en groot waardering vir wat Jesus vir jou aan die kruis gedoen het.

Dis wat geloof doen. Dit verander jou hele lewe op aarde. Maar nog meer, dit maak ’n mens vry voor God en met sekerheid kan ’n mens weet dat God vir ons met ope arms staan en wag. Al kan ons dit nie nou sien nie, neem ons geloofsbootjies ons soontoe en ons weet dit net vir seker.

Teks
Hebreërs 11:7

Om oor na te dink
Hoe lyk jou bootjie van geloof?
Moet jy ‘n bietjie werk aan jou geloof?
Hoe kan God jou help?

Gebed
Vader, dankie vir die bootjie van geloof. Dankie dat U my help om te glo in wat ek nie sien nie. Soms, moet ek bieg, klim ek self uit die bootjie, en dan sien en glo ek nie lekker nie. Help my tog in sulke tye weer terug, Vader, want sonder my geloof loop die dinge nie lekker nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek