God se Woord in vandag se woorde

Borrelende liefde


Gedurig hoor ’n mens stories van pasgebore babas wat in ’n vullisdrom of een of ander afvoerpyp weggegooi is. Gelukkig kon die meeste van die babatjies gered word. Ek wonder wat gaan deur die moeder se hart as sy so van haar eie vlees en bloed ontslae raak.

Op die nuus hoor ek van ’n New Yorkse vrou wat haar swangerskap vir haar vriend weggesteek het. Sy het in sy woonstel geboorte geskenk en toe die baba by die venster uitgegooi. Dit was op die sewende vloer! Het so ’n moeder ’n hart?

Ai!

Aan die ander kant van die skaal, is daar weer paartjies wat so graag een klein babatjie wil hê, maar nie kan swanger raak nie. Hulle sal enige iets gee om net hulle eie bondeltjie vas te hou. Mense met harte wat oorloop van liefde en deernis.

Soos Andriette vertel:

Ek het 10 jaar infertiliteitsbehandeling gekry en uiteindelik twee kinders aangeneem. 

Een van hulle is outisties (eers twee jaar gelede gediagnoseer) en dit was ’n bitter pad, want 40 jaar gelede was daar nie kennis en hulp nie. Maar ons het haar gedra. Ons staan haar steeds in alles moontlik by. 

Vandag het hierdie kind twee outistiese kinders as enkelma. Meer hoef ek nie te sê nie.

Van jongs af het ek hierdie as my roeping ervaar en nou, met die twee kleinkinders, soveel te meer.    

Ek wil net sê, deur al die pyn, lyding, dramas, hofsake, ensovoorts, het Jesus ons nie een dag verlaat nie. Ek ervaar regtig dat net ’n mosterdsaadjie nodig is. 

Hierdie drie outistiese kinders is almal Jesuskinders en probeer tot Sy eer leef. 

Sien jy ook die hart van liefde en deernis? Al is ’n paar rowwe kurwe balle na haar kant toe geboul, dryf haar hart haar en word dit haar roeping. Sy stap die pad saam met haar Verlosser. Daarom borrel die liefde en die deernis uit oor die kinders wat juis die liefde so nodig het.

Sy is presies soos Paulus sê ons moet wees: 2… hulle moet vriendelik en sensitief wees. Hulle moet met deernis teenoor almal optree. Selfs al kom daar krom balle na ’n mens toe aan. Selfs al word ’n stel kaarte vir jou uitgedeel wat nie lekker is nie.

Dit is eintlik onafwendbaar as ’n mens ’n kind van God is. As jy verstaan hoe lief God jou het, dat Hy bereid was om sy Seun te laat hang aan ’n kruis en daardeur jou lewe van die ewige verderf gered het, verander jou hart. Die liefde wat jy ontvang, kan jy dan mos nie net vir jouself hou nie. Dis te veel. Dit borrel uit ons harte.

Kom ons maak seker dat ons liefde uit ons harte borrel en op die mense om ons val. Kom ons maak seker dat die wêreldjie waarin ons elkeen leef, anders word, omdat ons Jesus se liefde daar gaan uitleef. En selfs vir die wat nie van ons hou nie, kom ons tree met deernis ook teenoor hulle op.

Teks
Tit 3:1-2

Om oor na te dink
Vloei jou liefde?
Waar moet jy liefde gaan uitleef?
Teenoor wie moet jy deernis betoon?

Gebed
Jesus, ek wil die pad saam met U stap, en ook deernis vir ander hê. Selfs wanneer dit moeilik is en selfs as ander nie altyd vriendelik is met my nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek