Da Bo, my girl. Da Bo!
Ons kap lekker ons hakke hier op die aarde in. Baie koop huise en rig dit so lekker in. En daarmee is niks fout nie. Ons kan vir seker die tydjie hier op aarde vir ons lekker inrig, maar tog moet ons besef dat die tyd hier net tydelik is.
So het Abraham, Isak en Jakob ook geglo. 13… Hulle het besef dat hierdie wêreld eintlik nie hulle regte blyplek is nie. Hulle was maar net tydelik hier. 14Deur so te praat het hulle gewys dat hulle uitsien na ’n ander blyplek wat net hulle s’n sou wees.
As ek so om my kyk, sien ek baie mense besef nie dat die aardse woning maar net tydelik is nie. Baie van hulle sien nie eintlik uit na die volgende lewe nie. Inteendeel, hulle is bang vir die dood.
As jou saak met God reg is, besef ’n mens dat die tyd hier op die aarde net tydelik is. Maar meer nog. ’n Mens sien so uit na die lewe wat op die wat in God glo, wag, na hierdie ene verby is.
Wanneer ’n mens die eindpunt in die oog het, lewe ’n mens nou anders.
My seun was, soos ek, nie ’n goeie student nie. Nie dat hy nie die vermoë gehad het om baie goed te presteer nie, maar hy kon net nie stilsit en leer nie. Ons het mooi gepraat en soms hard gepraat. Maar niks wou rêrig werk nie. Totdat ek vir hom ’n glyskaal met belonings uitgewerk het. Toe ewe skielik skiet sy punte op.
As ‘n mens weet daar is ’n beloning aan die einde van die ry, werk jy net soveel anders en soveel beter.
As ons weet dat die lewe hier op aarde net tydelik is en dat daar ’n wonderlike beloning aan die einde van die lewe is, sal ’n mens mos anders leef? Die vraag is net of ons dit regkry om so te lewe?
Ek kry die kostelike storie van ’n oom wat so uitgesien het na die lewe hierna:
My liewe stiefpa is verlede Oktober op 86 oorlede. Ons glo dit was sy tyd. Hy was vir die laaste maande nogal deurmekaar, soos dit dikwels gaan.
Drie dae voor die tyd, kom hy aangeskuifel:
“Waar’s my kierie, my girl?” (Hy het Ma so genoem.)
Toe vat hy ‘n Bybel onder elke arm, en sleutels in die hand.
“Nou kort ek net ‘n sakdoek” (Sy het eers vir hom ‘n stuk papierhanddoek opgevou, maar hy kyk dit met afkeuring aan en sê: “Ek kan mos nie met toiletpapier daar Bo aankom nie!”)
“Waar gaan jy, my man?”
“Huis toe, girl.”
“Waar’s huis, my man?”
“Daar bo, my girl, daar Bo!”
Mag ons ook so uitsien na die ewige lewe saam met God!
Teks
Hebreërs 11:8-19
Om oor na te dink
Hoe vas is jou anker op aarde?
Sien jy uit na die lewe saam met God in die hemel?
Vertel jou lewe nou waarheen jy op pad is?
Gebed
Here, help my om nie so op die tydelike dinge te fokus, dat ek vergeet daar is ‘n lewe hierna nie. Help my om my prioriteite reg te kry en so te leef dat dit duidelik is dat die hemel vir my ‘n werklikheid is. In Jesus se Naam, amen.