God se Woord in vandag se woorde

Dansend vry!


Partykeer wonder ek hoekom God nog iets met my te doen wil hê. Ek voel soms of ek dit eenvoudig net nie maak nie. Ek beur te veel oor die lyne. Ek dop gereeld die rustig-bly-toets. Ek is soms meer lou as warm. Ek doen baie keer nie dit wat ek weet ek móét doen nie.

Dan wonder ek hoekom God my nie uitspoeg nie. En ek wonder wat Petrus gaan sê as ek eendag by die poorte gaan aankom.

Klink al dié gewonder bekend? Dalk wonder jy ook en word jy ook soms deur onsekerheid oorval.

Wel, eintlik moet ons ’n afspraak maak met onsself, want ons is besig om teen die verkeerde boom te blaf. Jy sien, ons verlossing het niks te doen met wat ons doen of nié doen nie. Ons is eintlik glad nie in die prentjie wanneer dit oor die verlossing van die mens gaan nie. Net God en Jesus is in die prentjie wanneer dit oor die mens se verlossing gaan.

8… God het ons mos weer sy vriende gemaak en gevra om net vir Hom te leef. 9Hy het dit nie gedoen omdat ons so goed is of so ’n goeie lewe lei nie, maar Hy het self besluit om dit te doen omdat Hy so goed vir ons wil wees, al verdien ons dit nie regtig nie.

Lees jy mooi wat hier staan? Ons verlossing het nie ’n bloue duit te doen met wat ons hier op aarde vermag nie. Daar staan nie eksterne eksaminators met brille op hulle neuse en ’n clipboard in die hand en gee ons ’n punt uit 10 vir ons lewe op aarde nie. Die wat bo 5 kry, maak dit. Die res nie. Wel, dan sal ek vir seker in die laaste groep val.

Nee, dit werk nie so nie. Dis God se besluit. Klaar! God loop oor van liefde. Dit is deel van Sy karakter. Aangevuur deur die liefde, omring met hope en hope liefde, stroom die liefde uit Hom uit. Daarmee stoot Hy die hekke van die hemel oop om nooit weer toe te gaan vir dié wat Hom as hulle Verlosser aanvaar het nie. Vir ons, mét ons lastige sondes.

Net omdat Hy ons só lief het.

My kop is eintlik te plat om dit te verstaan. Ons sal nog vir iemand wat goed doen iets doen, maar vir mense wat ons keer op keer teleurstel, skop en seermaak sal ons wegstoot en verstoot.

Nie God nie.

9… God het nog voor die wêreld begin het al besluit om so goed te wees vir almal wat aan Christus Jesus se kant staan.

My reaksie daarop: Wow! My spelprogram verander dit outomaties in die volgende: joe, hete, jitte, maggies, magtie! En dis eintlik so reg! Ek spring op en af, want God is goed! Onverdiend ontvang ons verlossing. Jesus kom vat die pak vir die dinge wat ons aanvang.

Kom ons maak die handbrieke los. Soos die Engelse spreekwoord sê: Let your hair down. Dit beteken: to allow yourself to behave much more freely than usual and enjoy yourself. Ja, kom ons lewe soos mense wie se laste afgegooi is en vry is. Kom ons dans en sing en leef God se verlossende liefde in die wêreld uit!

Teks
2 Timoteus 1:8-12

Om oor na te dink
Hoe verstaan jy jou betrokkenheid by jou verlossing?
Hoe verstaan jy God se betrokkenheid by jou verlossing?
Hoe maak jy jou brieke los?

Gebed
Jesus, ek wil graag só leef dat U kan sien hoe dankbaar ek is vir wat U vir my gedoen het. Ek wil in gehoorsaamheid leef en U deel maak van my hele lewe. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek