Deel van die volk
Ek was bevoorreg om in ’n kort tydjie in ’n klompie verskillende lande te wees. Nederland, Frankryk en Australië, maar ook hier in Afrika: Namibië, Botswana, Zimbabwe. Ek het selfs ’n paar meter in Zambië gestap.
Dit is opvallend dat elke land se nasie êrens iets unieks het. Die Hollanders praat snaaks en ’n mens wil-wil iets daarvan verstaan. Die Franse is maar redelik kortaf en moeg vir die klomp toeriste in hul land en is glad nie skaam om hul misnoeë te wys nie.
Die Aussies is orals gaaf. Net soos die Namibiërs wat enige iets sal doen om jou tuis te laat voel. In die ander Afrika-land staan daar altyd ietsie mooi op en sien ’n mens wit tande wat orals lag.
Binne een volk is daar ’n hoop verskille, maar êrens loop daar ’n goue lyn deur wat elkeen verbind. Is jy so ’n tydjie in ’n vreemdeling se lewe, kom die goue lyntjie deur en weet jy presies waar daardie een vandaan kom.
Ook nie altyd nie, want mense vermeng. Mense verlaat hul moederland en gaan woon by hul kinders of waar dit veiliger is. Later raak hulle so deel van hulle nuwe land dat hulle daardie land se manier van doen aanleer. Dalk word die eerste geslag nog hier en daar as vreemdelinge erken, maar die volgende geslag is so tuis in die nuwe land dat hulle presies soos daardie land se mense word.
Dis seker alles te verstane.
So behoort ek en jy nie net tot die volk waar ons woon nie, ons behoort ook aan God se volk. 14Christus het sy lewe ter wille van ons opgeoffer om ons los te koop uit die mag van die sonde. Nou behoort ons net aan Hom. Ons is sy volk. Syne alleen!
Die vraag is of dit so is? As mense ’n paar minute in ons geselskap is, gaan hulle ons erken as kinders van Jesus se volk?
Ons elkeen sal maar in stilte ons eie antwoord op die vraag moet kry.
Ek weet baie van ons het so deel geraak van die wêreld dat ons nie meer uitgeken kan word as kinders van Jesus se volk nie. Ons leef te lekker om op te staan. Ons is so besig met ons eie dinge dat onsself alles oordonder en ons nie eintlik meer deel vorm nie. Ons is besig om ons eie koninkryk te bou. Ons eie volk af te stig.
En die eie volkie van ons gaan dit nie maak nie. As die swaar winde begin waai, gaan ons uitmekaarval. Dan sal ons nie staande kan bly nie.
Ons het mekaar nodig. Ons het die medegelowiges van God se volk nodig om deur die lewe te beur. Kom ons maak ’n punt daarvan om te lewe soos kinders van die lig. Kom ons vat hande en breek met die sonde. Kom ons lewe saam ’n lewe van oorwinning. Kinders wat vry is van die las van sonde.
Ja, kom ons wees nie skaam nie en gaan wys vir die wêreld hoe lyk die volk van God, sodat hulle jaloers kan word en hunker om ook deel te word van God se volk.
Teks
Tit 2:11-14
Om oor na te dink
Is jy deel van God se volk?
Kan ander dit raaksien?
Wie is die medegelowiges wat jou hiermee kan help?
Gebed
Here, my eie planne en drome is vir my so belangrik, dat ek soms vergeet dat ek deel is van U koninkryk, U volk. Help my om U eerste te stel, en die hemelse kultuur hier uit te leef op aarde. Amen.