God se Woord in vandag se woorde

Deel van God se plan


Efesiërs  5:1-5

Soms gebeur daar dinge in ’n mens se lewe wat jouself tussen die vloer en politoer indruk. Soms reën die een probleem na die ander jou toe wat jou laat voel dat jy eenvoudig net nie goed genoeg is nie. Ja, daar kom tye wanneer die omstandighede my gemoed toeval en ek nie eintlik veel van myself dink nie.

Ek moes eers amper by die halfpad merk van ’n eeu kom voordat ek rêrig besef hoe lank God se plan met my was. Verskoon dat ek myself as ’n voorbeeld gebruik, maar dalk help dit jou. Ek was nie deel van my ouers se gesinsbeplanning nie. Vir hulle was 5 kinders oorgenoeg en vir ’n sesde het hulle nie kans gesien nie. Tog was God se plan anders. God het baie jare terug besef dat Hy met sy kinders eendag deur hulle skerms wil praat. Hy het iemand soos ek in gedagte gehad.

Die probleem was dat my ouers se gesinsbeplanning nie lekker daarvoor plek gemaak het nie. Dit is egter nie vir God ’n probleem nie. Te midde van stopstrate, valleie en onbegaanbare kanale bou God ’n brug om sy plan tot uitvoer te bring. Nege maande later steek die sesde sy kop skreeuend in die wêreld uit.

Het jy al daaraan gedink hoeveel anders sou dit gewees het as die spermpie wat net duskant jou geswem het, ’n kort koppie voor jou was?

Daar is ’n rede hoekom juis jy die swem gewen het. Jy is deel van die plan. Jy is deel van God se plan. Jy is nie maar net toevallig hier besig om die stuk te lees nie. Nee, jy moet weer hoor dat jy spesiaal is. Ja, al voel dit nie so nie. Al druk die lewe jou dat jou oë traan. Al voel dit vir jou of jy nou aan die einde van jou lewe gekom het. Jy moet nou weer hoor dat jy spesiaal is.

In die besigheidswêreld vra mens altyd wat is die een unieke produk of diens wat jou spesiaal maak. Hulle noem dit jou competitive advantage. Dit sit jou so ’n kort koppie voor die res.

My en jou competitive advantage is dat ons ’n God het wat ’n plan vir ons het selfs voordat ons in die lewe gekom het. Ten spyte van die mens se planne, soos my ouers se gesinsbeplanning, het God al die planne vir ons lewe uitgestippel. Deel van die groot plan was eintlik ’n reddingsplan. ’n Plan wat ons uit die moeilikheid sou haal.

Deel van God se plan was ’n reddingsplan: 2Hy het ons so liefgehad dat Hy sy lewe tot ons voordeel gegee het. Hy het Homself geoffer en God het die offer aanvaar as betaling vir al die skuld wat ons met ons sondes gemaak het.

Dit is eintlik te groot om te verstaan. Ons God dink ons is so spesiaal dat Hy nie anders kan as om Homself deur sy Seun aan die kruis te laat doodgaan nie. Die straf wat ons verdien vir die verkeerde dinge wat ons doen, kom neem Hy op Hom. Ja, Hy kom dra die straf. Soos die ou liedjie klink: “Nog voor ons kon kies, nog voor ons kon vra, het Hy die skuld vir ons kom dra”.

God moet ons darem verskriklik liefhê om so iets te doen.

Dit moet ons nooit vergeet nie. Wanneer die lewe ons weer so pap druk, wanneer ons niks meer voel as die wurmpies wat in die voëltjie se bek is nie, moet ons opstaan en sê: Ek is spesiaal, want God het my gekies. Ek is deel van God se plan. Ek is nie toevallig hier op aarde nie. Ek was die een wat ’n kort kop voor was en daar is geen toeval daaraan nie. Inteendeel, ek is so spesiaal dat God selfs sy Seun gestuur het om die straf vir die dinge wat ek verkeerd doen, te dra.

Ek kan my kop oplig. Ek kan die lewe weer in die oë kyk, want ek is deel van God se plan!

Om oor na te dink

Glo jy dat jy deel is van God se plan?

Glo jy dat God jou liefhet?

Jy is spesiaal vir God!

Gebed

Ons Vader in die hemel, U is ’n merkwaardige God. U is ’n God wat afbuk na die mens en Hom spesiaal maak. Dankie dat ek spesiaal kan wees. Dankie dat U my gekies het en ’n plan het met my lewe! Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?