God se Woord in vandag se woorde

Deel van Jesus se glans en glorie


Baie mense onderskat die krag en die werking van die Heilige Gees. Dis seker hoekom dit rondom ons lyk soos dit lyk. Kragteloos en deurmekaar. Baie van ons hoor nie meer die leiding van die Heilige Gees nie, want ons is te besig en te gejaagd.

Die Heilige Gees is God se geskenk aan ons. God het geweet ons gaan sukkel om tussen die geroesemoes van die wêreld ons fokus op Hom te hou. Daarom word die Gees aan ons gegee as Helper. Dis juis Hy wat reeds voor ons nog na God uitgereik het daar was. Dit is juis Hy wat ons gehelp het om God aan te neem:

14Dit is regtig net aan die Gees te danke dat julle nou glo. Toe ons die goeie nuus aan julle bekend gemaak het, het julle Sy roepstem gehoor. Daarom sal julle ook deelhê aan ons Here Christus Christus se heerlikheid. Julle sal eendag by Hom in al Sy hemelse glans en glorie gaan bly.

Die Heilige Gees het geroep en geroep. Hy raak nooit moeg nie. Hy hou aan totdat ons luister. Wanneer ons Hom dan innooi, is Hy dadelik daar. Hy vra nie vrae oor die toestand van Sy blyplek nie. Die gemors daar binne sal Hy mettertyd uitsorteer. Skoonmaak, uitvee, weggooi en regpak. Dit is wat ons die heiligmakingsproses noem. ’n Proses waar ons geleer word om ontslae te raak van die wêreldse dinge totdat ons al hoe meer tot eer van God begin leef.

God het dit so beplan dat ons deel kan hê aan dieselfde glorie en eer wat Jesus Christus in die hemel ontvang het. Ek kan my net voorstel watter groot vieringe daar in die hemel moes wees toe Jesus na Sy aardse lewe by die hemel aangekom het. Engele wat sing en in verwondering staan oor Jesus, die Seun van God. Die troon wat gereed staan sodat die Koning kan gaan sit.

Net so gaan ons wat in Jesus Christus glo, verwelkom word by ons ewige tuiste saam met ons Vader. Die Heilige Gees wil ons help dat ons reg is die dag as ons by die hemel instap. Hy wil seker maak dat ons pas by wat ons gaan ontvang. Daarom wil Hy help dat ons al die gemors van die wêreld sal afskud. Hy wil elke deel van ons gedagtes, woorde, bedoelings en dade in lyn kry met God se wil vir ons lewe.

Dis nie altyd so maklik nie en baie keer maak dit seer. Ons moet soms dinge opgee waaraan ons al lankal gewoond geraak het. Gelukkig weet ons dat die Heilige Gees vir ons gegee is om te help.

Ons moet moeite maak om tyd vir die Heilige Gees te gee. Ons moet onsself op dieselfde stasie as die Heilige Gees kry, sodat Hy ons kan lei om die regte besluite daar by die warm oond van die wêreld te neem. Dan sal ons op die einde gereed wees om die hemel in te stap en in Jesus se glans en glorie te deel.

Teks

2 Tessalonisense 2:13-17

Om oor na te dink

Hoeveel lei die Heilige Gees in jou lewe?

Hoe vêr is jy met die heiligwordingsproses?

Waar en wanneer kan jy elke dag stil word?

Gebed

Sjoe, Vader. Ek kan nie glo dat ek gaan deel in Jesus se glans en glorie nie. Dis eintlik vir my te onwerklik. Ek vermoed my lewe is nog te vêr van die prentjie wat U van my het. Ek en die Heilige Gees het nog baie werk voor ons. Maar ek wil en gaan meer plek maak vir die Heilige Gees se werking in my lewe. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek