God se Woord in vandag se woorde

Deur watter bril kyk jy?


Filippense 1:12-18

Een van die dinge wat my hart die seerste maak, is wanneer kinders van die Here onder mekaar stry. Sommige skroom nie om ander uit te haal en dit in die Naam van die Here nie. Maar die ergste is dat ons self maklik in die kategorie inklim. So maklik lewer ’n mens kritiek op ander se manier van doen en dan glo ons dat ons die enigste weg en waarheid beet het. Dink maar mooi na oor wat jy die afgelope tyd van ander gesê en gedink het.

Paulus ervaar die teenkanting van sy broers in geloof aan sy lyf: 15-17Onder julle is daar party mense wat ook graag op die kansel klim. Hulle is egter jaloers op my en wil wys dat hulle beter as ek is. Hulle probeer dit vir my moeilik maak terwyl ek hier in die tronk is. Hulle wil net graag aandag trek en stel nie regtig in ander mense belang nie.

Ek sê weer ons moet pasop dat ons nie te vinnig hier vinger wys nie. So maklik maak ons ’n opmerking oor ander se manier van glo en doen, so asof ons die enigste waarheid beet het.

Ek het ’n paar groot lesse hier geleer. Ek het besef dat ek na die Bybel en geloof kyk deur ’n bril. Die bril werk soos ’n sonbril. ’n Sonbril keer dat sommige strale nie deurkom nie en ander strale wat wel deurkom, val as ’n ander kleur op ons retina. Dit gee vir die een wat ’n sonbril dra ’n ander prentjie van die realiteit. Die wêreld is eintlik nie so groen of bruin soos wat die sonbril die storie deurlaat nie.

Net so kyk ek met ’n sekere bril na die Bybel. Die bril se glase is gevorm deur my ouers, die kerk waarin ek grootgeraak het, my vriende, my familie, daar waar ek my nou in die lewe bevind en nog vele meer. Daarom kan ek en jy na presies dieselfde teks kyk en iets heeltemal anders sien en verstaan.

Ons moet besef dat die Woord van God, God se woorde is. Dit is ’n dinamiese Woord en mense kon dit die afgelope 2 000 jaar nie uitge-figure kry nie. Dis ’n Goddelike Woord en ons is net mense.

Ons moet ruimte hê vir mekaar en nie te vinnig die vinger lig en kritiek uitspreek nie. Nee, ons moet soos die ander groep in Paulus se lewe maak: 15-17Maar daar is gelukkig ook mense wat baie goed met my oor die weg kom. Hulle is lojaal teenoor my en het my lief. Hulle weet mos dat ek in die tronk is omdat die verspreiding van God se goeie nuus vir my baie, baie belangrik is.

Die een groep sien deur hulle bril dat Paulus ’n tronkvoël is. Die ander se bril wys ’n ander prentjie van ’n man van God wat nie bang is om sy mond oop te maak en die Evangelie uit te dra nie. Die eerste groep breek met hulle tonge en manier van doen af en die Evangelie ly daar onder. Die tweede groep gee krag en ondersteuning, soveel so dat ons vandag nog by Paulus en sy geskrifte leer.

Kom ons leer die dure les by die mense wat Paulus omring. Kom ons besef eerstens dat ons met ’n bril na die Woord en na die lewe kyk. Kom ons besef dat ons na dieselfde prentjie kan kyk, maar dat ons bril ’n heel ander beeld na ons reflekteer. Kom ons maak ruimte vir mekaar. Kom ons ondersteun mekaar, al is ons vure nie op dieselfde plekke nie. Die meeste van ons het ’n stuk van die waarheid beet, soms net verskillende dele van dieselfde waarheid.

Kom ons wys die wêreld hoe verskillende mense met verskillende agtergronde en verskillende brille op, mekaar se hande kan vat en mekaar kan ondersteun.

Om oor na te dink

Hoe groot is die verskille?

Hoe lyk die prentjie deur jou bril?

Het jy genoeg ruimte vir ander?

Gebed

Ons Vader wat in die hemel is, help my om my eie bril raak te sien. Help my om meer ruimte te hê vir ander. Help dat ons ten spyte van ons verskille mekaar sal omhels. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek