Deure wat oop en toe maak
Gerrie skryf benoud:
Wat maak ’n man as jy voor hierdie berg skuld staan van ’n betreklike nuwe besigheid waarin jy al jou drome (en geld) vasgepen het?
Ek byt vas, staan vas in die hoop, glo dat alles sal verbeter, my deurbraak sal kom, maar dan slaan die realiteit my plat as ek prokureursbriewe kry, staan weer op as die Here my seën met genoeg geld om salarisse te betaal maand na maand (prys die Here!) net om weer te val as die een of ander geldkrisis my beet het.
Ek kyk met ’n traan in die oog na hoe wonderlik die Here my vrou en kinders seën en sterk maak in hulle lewens en die ongelooflike ondersteuning van hulle kant af. Hulle weet dit gaan swaar maar het geen verwyte nie, my kinders verstaan met ’n volwassenheid wat my stomslaan.
Dan besef ek net weer God se genade, sy liefde en trou, sy beloftes en ek dank Hom daarvoor. Dis net hierdie dekselse donker (geld-) wolk wat die laaste jaar of so my omvou en half versmoor en ek weet net nie wat om te doen om daar uit te kom nie.
Hoe kan ’n man hierdie aanhoudende druk volhou?
Die eerste ding wat Gerrie en al ons ander moet doen, is om die hele pakkie na God toe te neem: 6Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor.
Dit bring onmiddellik ’n klomp gemoedsrus wanneer ons versterkings inroep. Dis nie net meer ek en my probleme alleen nie. Ek het ’n Partner, Iemand met wie ek alles kan bespreek. Hy help dra aan die swaar, maar meer nog – Hy help my om beter besluite te neem. Hy help my om te sien watter deure moet ek oopmaak en watter moet ek toemaak of toe los.
Sien jy wat hier gebeur? Ek is nog steeds verantwoordelik vir die oop en toemaak gedeelte. So baie keer bid ons: Here, maak asb. vir my die regte deure oop. Here, maak die deure toe waar ek nie moet in nie. Ek wonder sommer hardop of God nou al die werk moet doen? Wat doen ek om die situasie te beredder?
Ek glo daarin dat ons die moontlike moet doen en die onmoontlike vir God moet los. Daarom moet ons eerder bid dat God ons die oop deure sal wys en ons krag sal gee om hulle oop te maak.
Vir Gerrie het ek dieselfde vraag gevra. Wat kan jy doen? Watter deure staan oop voor jou? Sy e-pos kom gou hier by my ingevlieg:
Ek sit met ’n moewiese smile op my gesig nadat ek jou email gelees het!
Net eergister loop ek ’n ou vriend raak, ’n CA, wat nou spesialiseer in SME’s (klein besighede). Ek dink ek het nou ’n baie goeie idee wat om te doen. Baie, baie dankie vir jou raad. Die Here werk maar net op ongelooflike maniere!
6Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. En doen jou ding!
Om oor na te dink
Waar haak dit?
Praat jy met God?
Wat is die moontlike wat jy kan doen?
Gebed
Here, ek weet ek praat te min met U. Dit sukkel en ek weet nie aldag waarheen nie. Wil U nie my vennoot word nie? Wys my waar ek moet gaan. Blok waar ek nie moet ingaan nie en gee my die wysheid en krag om op U paaie te stap. Amen.