God se Woord in vandag se woorde

Die beste Advokaat en Hy is nog gratis ook!


’n Vriend van my werk by ’n baie groot internasionale prokureursfirma. In die hooggety van Covid-19 vra ek vir hom hoe dit met hul maatskappy in hierdie moeilike tyd gaan. Hy sê sy afdeling doen heel goed, maar die ouens wat litigasie doen, sukkel maar, want die howe is nie oop nie. Hy las by dat die manne met die sake gewoonlik baie, baie groot geld vir die maatskappy inbring.

’n Vriend van ons familie is ’n briljante advokaat. Hy word in baie van die hoëprofielsake gebruik. Hy het al mense losgekry wat niemand verwag het sou loskom nie. Ek vermoed sy rekening aan die einde van die hofverskynings is redelik gelaai.

Die beskuldigde vertrou sy prokureur en advokaat met alles in hom. Sy hele lewe is letterlik op die spel. Hy ken nie die prosedures in die hof nie. Hy weet nie wat om te sê en wat om nie te sê nie. Daarom sal hy die beste verdediging kry om sy saak namens hom in die hof te beveg en daarom is hy ook nie bang om die dik beursie uit te haal nie.

Dit is presies wat eintlik met ons gebeur. Ons doen verkeerde dinge hier op aarde. Niemand kan daaroor stry nie. Ons almal is van die menslike groepering en deel van ons pakkie is om sonde te doen. Sommige meer as ander.

Vir hierdie sondes wat ons so lekker hier op aarde doen, word ons in die hemelse hof aangekla. Ons saak is eintlik verlore, want die getuienis teen ons is verdoemend. Ons besef dit maar terdeë.

Daarom moet ons die beste span kry om ons saak te verdedig. Ons moet iemand kry wat 100% betroubaar is. Ons moet iemand kry wat sy storie ken, want die bewyse is heeltemal teen ons.

Wie beter is daar as Jesus om ons verlore saak in die hemelse hof te gaan verdedig: 14Ons bely dat ons God vertrou en daaraan moet ons met albei hande styf vashou. Ons het baie goeie rede om dit te doen: Jesus, die Seun van God, is ons groot Hoëpriester wat tot by God self gegaan het. Hy sal ons saak by God behartig.

Ek sê altyd dat ons as Christene hier op aarde nie ’n binnebaan het nie. Ons ontvang nie voorkeurbehandeling omdat ons kinders van God is nie. Inteendeel, dit gaan soms juis swaarder!

Tog, in die hemel is daar vir ons ’n binnebaan. Hier hoef ons nie in die lang ry te staan nie, maar ons word agter gehaal om heel eerste die hofsaal in te stap, want die hofpersoneel weet die saak gaan in ’n japtrap afgehandel word. Hulle weet al wat God, die Regter, se uitspraak gaan wees.

Hoekom? Hulle ken die Advokaat wat aan diens is. Hy wen elke liewe saak. Hulle weet al God sê: “Onskuldig”. Jou straf op jou sonde is reeds aan die kruis betaal, deur hierdie einste Advokaat. En dan lig Jesus Sy hande en almal sien die gate daarin.

En die beste van alles, daar is nie soos die aardse advokate ’n dik rekening na die tyd nie. Dis gratis. Dis net genade.

Dankie tog!

Teks
Hebreërs 4:12-16

Om oor na te dink
Hoe lyk jou pakkie sonde?
Wat gaan jou uitslag in die hofsaak wees?
Hoekom?

Gebed
Vader, dankie vir die beste advokaat om vir my in die hof te baklei. Dankie dat Hy dit alles vir my moontlik maak. Dankie vir al die hope genade wat U aanhoudend oor my uitstort. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek