God se Woord in vandag se woorde

Die busbestuurder sal vir jou stop


Daar word hierdie oulike storie vertel van ’n klein seuntjie wat rustig en geduldig op die sypaadjie gestaan en wag het vir die bus.

’n Man het daar verbygeloop en vir hom gesê: “Boetman, as jy vir die bus wag, sal jy na die volgende straathoek moet gaan. Dis waar die bus sy passasiers oplaai. Jy gaan baie lank hier staan, want die bus stop nie hier nie.”

Die man het mooi vir die seuntjie probeer verduidelik, maar die seuntjie het net daar bly staan. Terwyl hy die kind probeer oortuig om aan te beweeg, kom die bus om die draai, ry stadiger en stop by die seuntjie sodat hy kan inklim.

Op die onderste trappie draai die seuntjie om en glimlag breed vir die man en sê vir hom: “Meneer, ek het geweet die bus sal hier stop. Die busbestuurder is my pappa.”

God is ons busbestuurder en Hy sal enige plek vir ons stop. Die vraag is of jy dit weet? Glo jy dit? Glo jy dat God vir jou uit die diepste hoekies van die wêreld sal kom oplaai? Glo jy dat God geen steen onaangeroer sal laat om jou te kom oplaai as jy na Hom roep nie?

Maak nie saak hoe ver jy van God afgedraai het nie. Maak nie saak wat jy gedoen het nie. Maak nie saak hoe lanklaas jy op jou knieë voor Hom was nie. Hy sal altyd daar wees as jy na Hom roep.

Hoekom?

In een vers met vyf woorde kry ons die antwoord.

11Timoteus, jy is God s’n.

Maar dit is nie net Timoteus wat God s’n is nie. Elke mens wat vir Jesus as sy/haar Verlosser aanvaar, behoort aan God. Ons ís, omdat ons God s’n is. Ons is nie sommer maar net nóg ’n mens nie. Nee, ons het ontsaglike waarde, want God het ons gemaak.

Ons mag praat van die Almagtige God as ons Vader. Weet jy wat? Hierdie hemelse Pa van my ken my op my naam. Hy het ons elkeen op ons naam geroep en ons is Syne. Hy sal die bus op enige plek stop om ons op te laai.

Weet jy hoeveel waarde het jy? Jy is die eiendom van God en Hy is verskriklik trots op jou! Dit maak nie saak watter klomp bagasie jy rondsleep nie. Dit verander niks aan jou waarde in God se oë nie.

As God na jou kyk en Hy sien hoe jy sukkel, krimp Sy hart ineen. Dan wil Hy met alle mag ’n engel stuur om jou situasie in ’n oogwink te verander. Tog doen Hy dit nie, want Hy weet ook wat die beste is vir jou. Dalk kan jy nie nou jou omstandighede en God se passie vir jou in een lyn sien nie. Maar weet dit: Jy is God s’n.

Jy is een van die spesiale mense wat deur God uitverkies is om Sy kind te wees. Daarom het jy waarde. Jy is ’n koninklike, want jou Pa is ’n Koning. Daarom moet jy vandag die lewe instap as ’n prins of prinses.

Stap die wêreld met al sy uitdagings tegemoet. Doen die dinge daar soos wat jou Pa wil hê jy moet doen. Storm jou probleme tegemoet met die wete dat jou Pa saam met jou daar is en jou sal help met krag en wysheid.

En onthou: Jy kan jou arm enige plek uitsteek en die bus sal stop, want jou Pa is die busbestuurder.

Teks
1 Timoteus 6:11-16

Om oor na te dink
Glo jy dat die bus enige plek vir jou sal stop?
Glo jy dat jou hemelse Pa die busbestuurder is?
Laat dit jou anders deur die lewe loop?

Gebed
Ons Vader in die hemel, dankie dat ek U my Vader kan noem. Dankie dat U vir my goed is en enige plek vir my sal stop. Help my om op die pad te bly. Help my om die lewe en my probleme aan te pak en dat ek sal bly glo dat U oral saam met my beweeg. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek