God se Woord in vandag se woorde

Die % en ander kwessies


Ons klomp pelle eet saam by ’n restaurant op die dorp. Ek sien sommer met die intrapslag dat dit nie goed gaan met my een vriend nie. Toe hy sit, loop die woorde sommerso uit sy mond. Die een kontrak waaraan hy nou jare werk en wat sy besigheid deur die moeilike tye sal trek, is net gedeeltelik aan hom toegestaan. Hy kry nie eers 10% daarvan nie.

Ek is ook dadelik boos, want ek weet hoe hard hy daaraan gewerk het. Ek weet hoe afhanklik hy en sy besigheid van die kontrak is. Ek is skaam om te sê, maar ja, daar was ’n hele ry kragwoorde om my misnoeë uit te spreek. En die ergste van alles, soek hulle nog afslag ook!
Hoe werk die mense se koppe? Kan hulle somme maak? Is hulle opgewasse vir die taak? Ek sal eerder nie my probeerslae vir antwoorde hier skryf nie, want dit is mos ’n familiestasie …

Ek lê die nag lank wakker en stadig begin dit insink. Hierdie reaksie is heel menslik en baie sal so reageer, maar wat wil God hê moet ons doen? Moet ons die stukkie van die kontrak in dik letters vir hulle op die grond gaan smyt en sê, “Kry vir julle!”?

Ek besef dis nie die regte manier nie en trek my foon nader. Ek stuur vir hom ’n WhatsApp-boodskap:

More my tjom! Ek het heel nag gedink oor die %. Dit is eintlik ’n klap in die gesig en ja, ek vloek saam, totdat ek begin wonder het wat die Here wil hê jy moet doen. Dalk moet jy nog steeds optree soos Hy wil. Ons weet mos nie wat om die draai aan die gang is nie. Straal jy tog Sy lig uit. En gee die % in Sy hande. Ek weet Hy wil jou hand ook hier vat. Dalk ietsie leer. Dalk om net op Hom te vertrou en nie op ’n % nie. Ek weet dis nie maklik nie, maar mag jy die krag ontvang om Sy wil ook met die % te doen. Sterkte ou maat!

Ek weet dis nie maklik om, daar waar die tire die teer slaan, waar jy al jou energie gebruik om net kop bo water te hou, aan jou geloof vas te hou nie. Dis sulke tye wanneer jy God se stem begeer. In die hitte van die stryd, is al wat oor is die hoop dat God op ’n manier die ding sal kom uitsorteer.

Dan kry ek effe kalmte as ek die vers lees: 6…’n mens sal God net soek en na Hom toe gaan as jy oortuig is en vertrou dat Hy dáár is en dat Hy mense wat na Hom toe kom met oop arms ontvang.

Dis al wat oorbly. Net ons geloof. Net ons oortuiging. Net ons vertroue dat God op ’n manier vir ons sal voorsien. Ons hang aan die hoop dat God wel daar êrens is. As ons na Hom soek. As ons regtig daar by die hoek van die bed gaan kniel en net oorgee en sê: “Here, ek glo en vertrou en hang aan U. Ek gee die % of die of daai saak oor …”, sal God daar op ons wag.

Hy sal met Sy arms oop staan en op ons wag. Wanneer ons in Sy arms toegevou word, sal ons rustig raak. Daar sal ons ook krag en wysheid ontvang om die % kwessie en al die ander wat ons pootjie, trompop, reg aan te vat.

Teks
Hebreërs 11:1-6

Om oor na te dink
Waar druk dit by jou?
Hoe kan jy dit oorgee in God se hande?
Waar sal jy dan wysheid kry?

Gebed
Vader, ek is so moeg gestoei. Ek weet nie hoe verder nie. Ek het al alles probeer. Ek gee dit nou oor in U hand. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek