God se Woord in vandag se woorde

Die gewer sal oorvloedig ontvang


Filippense 4:10-20

Kom ons pak dié bul by die horings: Gee jy vir ander? Hoeveel keer gee jy?

(Kyk of jy die stuk klaar kan lees! Heel onder is ’n belofte vir jou.)

Dis nie lekker om op ’n nugter maag so gekonfronteer te word nie. Tog is dit belangrik dat ons onsself dwing om so nou en dan die gee-boeke te vat en te kyk wat gee ek en ja, dis nie maklik om te gee as ek self nie lekker deur die maand kan kom nie.

Die mense van Filippi het dit glad nie breed gehad nie. Hulle het self gesukkel om deur die maand te kom, maar tog het dit op hulle hart gedruk om vir Paulus by te staan: 15… Ek het die goeie boodskap oor Jesus daar in die noordelike deel van Griekeland versprei. Nie ’n enkele gemeente wou my toe help nie. Maar julle was daar! Julle was bereid om te help. 16Ek was al in Tessalonika toe het julle my nog steeds gehelp. Sommer ’n paar maal het julle vir my iets gestuur toe ek dit regtig nodig gehad het.

Toe ander mense afwesig was en vir Paulus in die steek gelaat het, het die mense van Filippi, wie dit self nie breed gehad het nie, hulle hande opgesteek. Hulle was bereid om te help. Uit dankbaarheid vir wat Paulus vir hulle gedoen het en vir al die moeite wat hy gehad het om so vêr te reis om vir hulle die lewegewende verlossingsboodskap te bring, het hulle vir hom ’n paar geskenkies gestuur.

Vir Paulus beteken dit so baie. Baie meer as die waarde van die geskenke. Net bloot die feit dat daar iemand oor die water is wat aan hom dink en wat hom belangrik genoeg ag om vir hom dankie te sê, beteken al klaar vir hom sakke vol.

Wanneer ons gee, moet ons ook uit dankbaarheid gee. Uit dankbaarheid vir dit wat Christus vir ons gedoen het. Ja, wanneer jy besef wat Jesus vir jou gedoen het, kan jy nie anders as om Hom te eer deur vir ander geskenke van jouself te gee nie. En nee, dit hoef nie net harde kontant te wees nie. Dit kan enige iets wees, selfs van jou tyd en energie.

Let op dat die mense van Filippi nie na een keer se gee opgehou het nie. Hulle het besef dat Paulus se behoeftes nie na een keer se gee ten volle bevredig was nie. Nee, elke maand kom klop die behoeftes weer aan jou deur – daarom die meermale se gee.

Die hoogtepunt van die gedeelte is egter die volgende vers: die belofte: 17Tog is die geld wat julle vir my gestuur het nie die belangrikste nie. Wat belangriker is, is dat God vir julle ook wonderlike dinge gaan teruggee omdat julle so goed vir my was.

En dit is so, as ek net kyk na my eie lewe. God hét die vrywillige gewer lief – ja, die ander ook. Maar die wat uit dankbaarheid gee, word net nog meer geseën. Let wel: Uit dankbaarheid. Dit werk nie om te gee, sodat jy kan ontvang nie. Daai kite kom nie van die grond af nie. As jy egter gee, omdat jy net dankie wil sê vir alles wat God vir jou gegee het, sal jy selfs nóg meer van God ontvang.

Mag jy oorvloedig van God ontvang, omdat jy oorvloedig uit dankbaarheid gee.

Om oor na te dink

Gee jy?

Hoeveel keer gee jy?

Glo jy dat God die blymoedige gewer seën?

Gebed

Vader, dis nie altyd vir ons maklik om te gee nie. Ons sukkel self soms om ons eie somme te laat klop. Tog wil ons gee. Ons kan mos nie alles net op onsself en ons mense spandeer nie. Help ons om met wysheid ander te seën. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?