God se Woord in vandag se woorde

Die gewone ou storie?


Filippense 2:6-11

Ek wonder of ons regtig besef wat Jesus vir ons gedoen het? ’n Mens hoor partymaal stories van mense wat alles in hulle lewens opgegee het om in ’n afgesonderde plek die Evangelie te gaan bring. Dit is mooi.

Maar wat die almagtige God gedoen het, kan nie eintlik met so ’n goeie daad van ’n mens vergelyk word nie. Partymaal fouteer ’n mens om aan Jesus te dink as ’n mens, seker omdat ons Hom so geleer ken het. Dan verwater die idee van God wat mens geword het. Dan besef ’n mens nie eintlik watter opoffering dit vir God was om af te daal, neer te daal, om verneder te word, om as mens die aarde te kom bewandel nie.

Ons het so gewoond geraak aan die storie van Jesus wat na die aarde gekom het, dat ons nie meer besef wat regtig gebeur het nie. Dit het sulke algemene kennis geword dat ons nie meer geroer word deur die feit dat Jesus mens geword het, gesterf en opgestaan het sodat ons kan lewe nie.

Miskien moet ons begin met ’n belydenis waar ek en jy vir God vergifnis vra dat ons nie regtig verstaan waardeur Hy moes gaan om as almagtige Koning af te daal na die vlak van ’n nietige mens nie.

Miskien moet ons vergifnis vra dat ons partykeer kies om nie geroer te word deur die idee van God se liefde wat Hy vir elkeen van ons het nie.

Miskien moet ons vergifnis vra dat ons so lekker op die aarde bly dat hierdie hele aarde toe kom en hang aan ’n kruis nie meer vir ons sin maak nie.

Miskien moet ons net in ’n hoekie gaan sit en in alle opregtheid vir God sê dat ons eintlik onbeholpe is om werklik te verstaan hoe Hy oor ons voel.

Miskien moet ons eerlik bely en God vra vir nóg ’n stukkie genade.

Jesus was bereid om verneder te word. Tog was Hy ook bereid om te sterf vir ander mense wat eintlik sleg was en is. As ons werklik verstaan wat hier aangaan, wat die impak daarvan op die toekoms van ons lewe het,

–      kan ons mos nie ongeroerd en onveranderd bly nie.

–      kan ons nie anders as om iets te wil doen nie.

–      kan ons nie anders as om lofliedere te laat opstyg na dié grote Koning nie.

–      wil ons in die straat af dans.

–      moet ons vir ander gaan vertel, want ons is te bang iemand anders mis die bus.

Vriend, mag ons vandag en môre so leef dat Jesus se vernedering nie onnodig was nie.

7Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie. 8As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop.

Mag ons lewe van die opgestane Here vertel.

Mag ons so leef dat God ons eendag ook sal optel en ’n spesiale plekkie by Hom sal gee.

Om oor na te dink

Waar moet jy vra vir genade?

Wat moet jy doen om nie ongeroerd te staan nie?

Hoe moet jy jou lewe verander sodat Jesus se vernedering nie onnodig was nie?

Gebed

Here, hoe kan ons regtig hier diep binne ons verstaan waardeur U moes gaan? Hoe kan ons regtig verstaan wat U vir elkeen van ons as sondaars bewerkstellig het? Leer ons om ons lewens so te leef dat ander mense ons dankbaarheid kan sien. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?