God se Woord in vandag se woorde

Die gratis winkel


Met die kruisiging het Jesus ’n winkel met ’n hoop splinternuwe klere op die hoek van elke dorp oopgemaak. Enige mens kan daar instap en sy vuil klere gaan omruil. Soos ’n mens inkom, brand daar ’n lekker vuur. Dit is juis in dié vuur waar jy jou ou klere ingooi om tot as te verbrand en saam met dit die spore van jou sonde. Nou kan jy die wêreld ingaan en die mense wys wat Christus vir jou gedoen het.

En tog weet ons dat ons gou weer teen die wêreld skuur en dan sit daar weer ’n kol. As jy in ’n steenkoolmyn werk met wit klere aan is dit mos onafwendbaar dat jy êrens aan ’n ding gaan stamp. Die swart merk sal duidelik sigbaar wees.

Alhoewel ons nie meer van die wêreld is nie, is ons tog nog in die wêreld. Dit veroorsaak dat ons so nou en dan gaan struikel. Ons moet ons eie kwesbaarheid en onvermoë om in alle omstandighede staande te bly, erken. Daar gaan dinge op ons pad gebeur wat ons iets gaan laat doen wat buite die wil van God is en dan sit daar ’n kol.

Dit is egter hier waar Jesus se genade nie ophou nie. As ons verby die winkel loop, roep Hy met swaaiende arms: Kom kry vir jou nog ’n paar skoon klere. Ek het reeds vir daardie swart kolle aan die kruis gesterf. Dis onnodig dat jy dit moet dra. Kom kry ’n nuwe pakkie.

En so, met elke keer se aantrek van die nuwe pakkie, gebeur daar iets. Hoor hoe mooi sê Paulus dit: 10God het egter vir julle ook ’n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe beter ken.

Om die beeld so bietjie verder te rek: Hoe meer ’n mens in die winkel kom om jou ou klere in die vuur te gooi en die nuwe klere aan te trek, hoe meer leer jy van die winkeleienaar. Hoe meer ’n mens in die teenwoordigheid van iemand is, hoe meer praat julle, hoe meer luister julle na mekaar en hoe beter leer julle mekaar ken.

Ek is so dankbaar dat God besluit het om aarde toe te kom en ’n winkel met nuwe klere oop te maak. ’n Winkel wat nie werk met geld nie. Nee, alles is gratis, maar meer nog, hier het ons die kans om Jesus beter te leer ken, om Hom in persoon te ontmoet en Hom van nader te leer ken.

Wat vir my so onverstaanbaar is, is dat baie mense draaie om die winkel loop. Mense wat eenvoudig net anderkant toe kyk en ontken dat die winkel bestaan. Nog meer onverstaanbaar is mense wat die winkel daar sien en bewustelik kies om dit te ignoreer. Hoekom die heeltyd met vuil klere rondloop as daar ’n winkel staan met silwerskoon klere? Alles heel in die mode en nog gratis daarby!

Ek besef al hoe meer hoe groot is ons verantwoordelikheid om ons dankbaarheid te wys vir alles wat ons so gratis ontvang. Ons moet juis vir die manne met die oogklappe gaan wys hoe lyk ons nuwe klere. Ons moet hulle gaan vertel van die eienaar van die winkel en wat Hy alles moes opoffer om vir ons die mooi skoon klere gratis oor die toonbank aan te gee.

Wanneer die mense dan deur ons vir Jesus van naderby leer ken, sal hulle mos ook hakskene wys en so vinnig as moontlik by die winkel wil uitkom. Of hoe?

Teks

Kolossense 3:9-11

Om oor na te dink

Hoe lyk jou klere?

Maak jy tyd om Jesus by die winkel te ontmoet?

Hoe moet jy jou lewe anders inrig?

Gebed

Vader, hoe sê ’n mens dankie vir so ’n winkel? Ek moet so gereeld ’n draai maak daar, want ek stamp nog gedurig teen die wêreld. Ek wil U meer en beter leer ken en ek wil ook vir ander daarvan vertel, want hulle mis so uit! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek