God se Woord in vandag se woorde

Die Heilige Gees en twee bruin skoentjies


Sukkel jy om staande te bly? Het jy eenvoudig net nie genoeg antwoorde op al jou vrae nie? Voel die lewe te veel en jou krag te min?

Dan is dit tyd om versterkings in te kry. 7Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk …

Hy maak ons sterk om regop te stap, al kry ons swaar. Soos vir Hannetjie (skuilnaam). Hier is haar aangrypende laaste brief aan haar seun:

As ek nog net een keer met jou kon praat, sou ek nog een keer wou sê hoe lief ek jou het en dat ek altyd met trots aan jou dink.

Dat die trots my hart wil laat bars oor die ongelooflike vordering met jou spraak.

Die beroerte twee jaar en vier maande gelede was baie sleg. Ek is so jammer dat ons nie nog meer kon doen om jou beter te kry nie. Ek het al baie gewonder wat het daardie nag gebeur. Ek is so jammer dat jy nie kon praat nie, nie kon sê wat jy wou nie. Ek is so jammer dat jou huwelik nie hierdie groot toets kon deurstaan nie, dat sy jou gelos het toe jy haar so baie nodig gehad het, dat jou besigheid ook nie bestand teen beroerte was nie, maar dit was alles niks in vergelyking met die ongeluk en jou dood nie.

Toe die foon lui en ek dink dis jy, antwoord ek: “Hallo seun.” Maar dis iemand van die polisie en sy sê dat jy in ’n botsing was. Ek vra hoe dit met jou gaan. Sy sê dis ernstig, ek moet kom. Dit was net na 10h.

Terwyl ons ry, bid ek woordeloos. My hele wese skree: “Praat met my,” maar praat is stil. Kommer en angs knaag aan ons altwee. Dis nie warm nie, tog is my hare in my nek nat van die sweet.

Net buite Kriel sien ons die ligte, die verkeersknoop en weet ons …

Hulle sê ons moet wag, ons kan nie nou nader gaan nie. Ek stap onderdeur hulle geel en rooi band tot voor die vragmotor. Ek vra of die bestuurder beseer is: “Nee, hy is slegs getraumatiseerd.”

Seker so 100 meter verder sien ek jou bakkie dwars oor die pad met silwer foelie bo-oor. Toe, my liewe kind, weet ek. Hulle keer my voor en lei my terug. Ek moet wag totdat hulle klaar is met meet en foto’s en weet nie wat nog nie. Ek vra na jou, na jou hondjie Tiny, maar niemand wil my antwoord nie. Diesel is oral. Ouma bel en wil weet of jy leef. Ek sê ek weet nie.

Jou vriend, wie jy sou besoek, sluit by ons aan. Toe, na wat soos ’n ewigheid voel, begin werkers sand op die pad gooi. Iemand sê dat dit vir ons ’n troos moet wees – jy was opslag oorlede. Bevestiging.

My kop klop, my hart ruk, ek is naar. Ek praat met ouma, jou sussies en die Dominee. Vra vir ouma om vir my boeties te sê. Toe eers begin werkers om jou uit die voertuig te sny. Nadat jy op ’n draagbaar gelaai is, word ek toegelaat om jou te sien. Net jou koppie word vir my gewys. Onder die kombers steek jou twee bruin leerskoentjies uit. My hand het na my mond gegaan. Ek het gebuk, my regterhand uitgesteek om aan jou te raak. Iemand het my arm geneem en gesê dat ek nie aan jou mag vat nie. Ek moes bevestig dat dit jy is. Dit was nie, jou beserings was so erg, maar die twee bruin leerskoentjies was wel joune.

Jou sussie het gebel en gevra of jy jou hart vir die Here gegee het en ek kon dit bevestig. Paasnaweek.

Hulle wou nie dat jou hondjie saam met jou in die voertuig gelaai word nie. Iemand het haar uit die wrak gehaal en vir my gegee. My kind, daar was nie ’n merkie op haar lyfie nie – dit het gelyk of sy slaap. Ek het haar op die sitplek in ons motor gesit om haar by die huis te kom begrawe. Jou vriend het haar weer geneem en gesê hy sou dit doen. Negentien jaar was sy jou troeteldiertjie.

Toe ry die voertuig weg met jou. Tussen ons trane deur, met ’n gevoel van algehele verslaenheid, kyk ons die voertuig agterna.

Ons ry terug, weer in stilte. My trane drup sommer vanself oor my gesig, in my nek tot op my bors. By die huis wag jou niggie saam met ouma. Rou snikke skeur uit ons binneste terwyl ons in mekaar se arms staan. Woorde het ons nie.

Die nag daal op ons neer en die ure wil net nie verbygaan nie. Ek sit in ons woonkamer onder ’n kombersie. Jou sussie het seker elke twee ure gebel. Ek het vir haar gesê dat ek oortuig is dat jy by Jesus is, dat daar nou geen beroerte ongemak is nie en dat die Vader jou dalk wil gebruik om seker te maak dat ons in pas met Hom is, sodat ons saam met jou by Jesus se voete kan sit en halleluja sing saam met die engele.

Saterdag was ons huis vol besoekers, maar Sondag, vroegdag, het ons reggemaak om jou te besoek.

Ek is alleen in. Hulle het jou vir my op die vloer gesit en my alleen gelos by jou. Ek het om jou geloop, jou oop gemaak en na al jou wonde gestaar. Ek het aan jou gesiggie gevat, nog met die twee bruin leerskoentjies aan. Ek het op die koue vloer gaan sit en in ongeloof na jou gestaar.

My seun, ek is so jammer, so baie jammer dat jou lewe die laaste twee jaar en vier maande nie vir jou lekker was nie. Tog is ek dankbaar vir die voorreg wat ons gehad het om jou laaste paar maande so gemaklik as moontlik te maak.

Jou tong was vas, maar tog het jy my getroos toe ek die kar gestamp het. Daardie aanraak van jou hand op my arm. Die blink in jou oë as jy vol kattekwaad was. Koffie vir almal maak, maar myne eers wegsteek in die kombuis. Ek dink nie een van ons weet regtig hoe swaar dit vir jou moes wees dat jy nie kon praat nie. Maar ek weet verseker dat jy moes terugkom huistoe om weer met Vader te kon regmaak.

Hoe lank ek by jou gesit het, weet ek nie, iemand het my kom haal.

’n Paar dae later het die oproep gekom. Die ondersoek is afgehandel en ek moes jou weer gaan uitken. Die keer is jy darem op ’n trollie en skoon, al jou wonde is nou vol steke. Jy is nou gereed vir jou laaste reis op aarde, sonder jou no. 13 bruin leerskoentjies.

Dankie seun, vir 42 jaar en nege maande. Dis met verwagting dat ek uitsien na ons weersiens.

Liefde, Ma.

Dis net die Heilige Gees wat ’n mens krag gee om dié pad te stap.

Laat toe dat die Heilige Gees die groot krag in jou lewe is.

Teks
2 Timoteus 1:3-7

Om oor na te dink
Hoeveel van die Heilige Gees is merkbaar in jou lewe?
Hoeveel ruimte gee jy vir die Heilige Gees?
Wat nou?

Gebed
Vader, ek het nie nou woorde nie. Laat U Heilige Gees met groot krag ook in my lewe werk. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek