Die Heilige Gees in aksie
Willie vertel ’n storie oor hoe die Heilige Gees met hom gewoel het:
Ek ry die oggend van Cullinan af Pretoria toe en sien ‘n baie netjies geklede ou man met ’n gehawende wieletjies tas in dieselfde rigting stap as waarin ek ry. Ek is absoluut gekant daarteen om rylopers op te tel, en moenie my vra hoekom nie, want julle almal ken die antwoord.
Ek ry toe maar oudergewoonte verby, maar nie sonder om op te let hoe natgesweet en uitgeput hy lyk nie. Omtrent so 1 km verder sê die Heilige Gees vir my ek moet daai man gaan optel, maar ek stry! Wat van hy trek ‘n gun en vat my kar? Ek meen, kyk hoe mooi trek die president van Wonderland aan, en ek vertrou hom nie eens nie!
Maar Hy los my nie om maar my ry te kry nie, en omtrent nog ‘n kilometer verder besef ek dat ek nie die einde hiervan gaan hoor nie, en draai toe maar half teësinnig om.
Nou in die teenoorgestelde rigting as waarheen ek wil gaan, ry ek weer verby die ou man. Nou staan hy net en kyk na die karre wat verby jaag – ‘n poelies van, twee leë taxi’s, ‘n Mazda Drifter, ‘n Mercedes C reeks, ‘n Tshwane Electricity Contractor met ‘n Ford Ranger bakkie, nog ‘n half vol taxi.
By die Mamelodi kruising draai ek om (dis so 15 km van Pretoria af), want dis die eerste veilige plek, al doen ek dit op ‘n sperstreep, maar die land se geldsake is in ‘n erger toestand as die verkeer op hierdie stadium.
En daar staan hy steeds!
Toe ek aftrek, gryp hy sy tas in sy arms en hardloop na my kar se linker agterdeur. Ek laat die linker voorvenster sak en sê hy moet inklim. Dankie, my grootbaas!
Om ‘n lang, gesellige storie kort te maak: Die Here het vir hom gesê hy moet Moria toe gaan om vir reën te gaan bid, en dan moet hy terug kom Ekangala toe waar hy by ‘n steenkoolmyn werk.
So vêr, sê hy, seën die Here hom nog heeldag, en hy is baie gelukkig. Na hierdie trippie weet ek: Iewers gaan daar baie reën val!
7Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie.
Voorwaar het Willie se storie hierdie teks waar gemaak. Willie het krag ontvang, want dis eintlik nie meer iets wat ’n mens vandag doen nie – om ’n vreemdeling langs die pad op te tel nie. Willie het oorgeloop van liefde vir ander. Willie het beslis die regte ding gedoen.
Mag daar ook sulke stories oor ons manier van doen geskryf word. Mag ons ons ore oop hou vir die stem van die Heilige Gees en mag ons altyd doen wat Hy vir ons sê om te doen.
God se wêreld gaan dan beslis anders lyk.
Teks
2 Timoteus 1:3-7
Om oor na te dink
Erken jy die Heilige Gees se stem binne jou?
Is jy bereid om in gehoorsaamheid te reageer, al is dit ongemaklik en ongerieflik?
Gebed
Heilige Gees, ek bely vandag dat ek nie altyd U stem hoor nie. En wanneer ek dit hoor, is ek nie altyd gereed om daarop te reageer nie. Wees my genadig en help my om al hoe meer afhanklik te word van U leiding hier binne my. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.