God se Woord in vandag se woorde

Die herstelplan!


As iemand ooit vir jou vra wat is die kern van die Christendom, kan jy maar net hierdie vers vir die persoon lees: 10Christus Jesus, wat vir ons ons saak met God regmaak, het aarde toe gekom en nou kan ons almal duidelik sien hoe goed God vir ons is. Christus Jesus het die dood wat so ’n houvas op ons almal gehad het, se mag kom breek. Hy het die pad na die ware lewe vir ons oopgemaak sodat ons geestelik vir ewig kan lewe. Dit is die goeie nuus wat Jesus vir ons gebring het.

Dit is al, maar ook alles waaroor die evangelie gaan.

Kyk mooi na wat hier staan. Jesus se rol word baie duidelik beskryf. Hy is die een wat alles op Hom neem om die mens se saak reg te maak. Jesus is die een wat die timmer en herstelwerk self kom doen. Is dit nie wonderlik nie?

God laat die herstelwerk nie aan ’n ander party oor wat namens Hom die werk moet doen nie. Nee, die herstelwerk is vir God té belangrik. Daarom, toe Hy begin dink het aan wie Hy kon stuur om die herstelwerk te doen, was daar net een persoon wat Hy in gedagte gehad het – Jesus. God het geweet Hy was die regte en enigste persoon wat Hy totaal en al kon vertrou om die opdrag 100% uit te voer, tot die dood toe.

En Hy doen toe presies dit!

Verskeie motormaatskappye het die afgelope tyd baie pyn gevat. Daar is ’n reeks foutiewe komponente in die voertuie ingebou en hulle moes teen miljoene rande al die voertuie terugbring om die parte te vervang. Dit het ’n bielie van ’n herstelplan gekos om dit alles reg te kry.

Net so het God ook ’n bielie van ’n herstelplan bymekaar gemaak. Nie dat die mens geskep is met ’n foutiewe komponent nie. Daarvoor het ons self gekies. Maar tog, op God se koste stel Hy ’n herstelplan saam en op Sy koste voer Hy dit ook uit.

Ongelooflik! Nee, eintlik gelooflik.

Wat was die oplossing? Dit is eenvoudig: Die bande wat die mens vashou en hulle verhoed om vry te wees, wat eintlik deel was van die aanvanklike plan, moet losgesny word. Die vyand het al hoe meer veld gewen en die mens kon net nie meer die aanvalle teenstaan nie.

Daarom die nood herstelplan van God. Maar in plaas daarvan dat Hy almal terugroep na Hom toe, soos die motormaatskappye gedoen het, gaan Hy na die mens. Sy Seun is die een wat op die ou end na die aarde gaan om aan die kruis die dood te oorwin sodat die mens verlos kon word uit die gevangenis van die dood. Die herstelplan is 100% suksesvol!

Hoekom doen God dit? Hoekom sal God dan so vêr gaan vir sondige mense?

Op ’n manier sien ons hier ’n stukkie van God se hart. God se oorborrellende liefde vir die mens kry hier gestalte. Wanneer God die stukkende kinders van Hom raaksien, kan Hy nie anders as om ’n herstelplan saam te stel nie.

Dit is ’n baie duur program, maar selfs al kos dit Sy Seun se lewe, sit Hy steeds die bal aan die rol.

Uit liefde!

Net vir jou!

Teks
2 Timoteus 1:8-12

Om oor na te dink
Wat sê jy vir God oor die herstelplan?
Wat sê jy vir ander oor God se herstelplan?
Wat doen jy as gevolg van God se herstelplan?

Gebed
Vader, Jesus, hoe sê ’n mens dankie vir so ’n bielie van ’n plan? ’n Plan wat U lewe gekos het. Net vir my, sodat die sonde wat ek doen nie vir altyd tussen my en U kom staan nie. My dankie woorde is te min. Mag my manier van lewe dit eerder sê. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek