God se Woord in vandag se woorde

Die les van die pakkie skaam


Een of ander tyd kom oneerlikheid uit. Ja, daar is vergifnis vir ons verkeerde dade, dankie tog daarvoor, maar op ’n manier kom verkeerde dade altyd iewers uit.

Ek onthou nog toe ek en my vriende as tienjariges besluit het om skelm te rook. Ons het êrens geld in die hande gekry en ’n pakkie skaam gaan koop. (Dit was ’n pakkie van tien sigarette). Nogals Lexington. Twintig volt manne. Ons het in ’n digte heining ons eerste dampie gemaak. Natuurlik met ’n groot gehoes en geproes.

Niemand sou seker van die skelmstreke geweet het nie, maar op een of ander manier het ons die heining aan die brand gesteek. Ons het ons as afgeskrik en verward na water gesoek om die vuur dood te kry. Later het ek my pa se klein plastiekgieter wat hy vir sy bonsai boompies gebruik het, loop haal. Maar toe die ding so min water gooi, toe gooi ek sommer die hele gietertjie in die vlamme. Ek weet nie lekker wat ek op daardie stadium gedink het nie.

Op die ou end het iemand ons kom help. My pa se ondervraging het begin by sy verlies aan ’n gieter. Dit het hom nie lank gevat om uit te kom by die oorsprong van al die kwaad nie: die pakkie skaam.

Ek en my maats het nie ’n probleem gehad dat my pa uitgevind het oor die vuur nie. Ons sou ons pak soos manne vat. Ook vir die vervanging van die gieter was ons bereid om ’n paar Saterdae in die tuin te werk. Maar my pa moes nie uitvind van die pakkie skaam nie. Maar om een of ander rede het my pa dit altyd reggekry om die wortel van die kwaad uit te grawe. Ons boude het erg gebrand.

Die gat in die heining het nooit toegegroei nie. As ek daar verbygestap het, het ek sommer kliphard gesê: Skelmstreke kom altyd uit…

Daarom: 10… Praat die waarheid met mekaar. Moenie lieg nie. Julle is eintlik soos iemand wat sy ou klere uitgetrek en nuwe klere aangetrek het. Die ou klere is julle slegte ou gewoontes en die verkeerde manier waarop julle geleef het. Daarvan moet julle ontslae raak soos van ou klere.

Dis nie maklik nie. Dis asof ons default wanneer ons die waarheid so ’n draai of twee gee. Ja, ons is in sonde ontvang en gebore. Ons word sommer outomaties na factory settings ge-reset en as ons ons weer kom kry, is die waarheid fort.

Ons moet walle bou om te keer. Ons moet die vuil klere uittrek en weggooi sodat ons dit nie weer kan aantrek nie. In alles moet ons 100% seker maak dat ons die waarheid praat en doen. Dit is die enigste ware pad, want die pad van onwaarhede en halwe waarhede is ’n pad van selfverwoesting.

Mag God ons help om in alle omstandighede die waarheid te praat al maak dit seer en al dink ons dit is die makliker pad. Laat mense ons leer ken as mense wie se ja hulle ja is.

Teks

Kolossense 3:9-11

Om oor na te dink

Hoe gereeld is onwaarheid deel van jou lewe?

Wat kan jy maak om in alles die waarheid te praat?

Is jy gereed om die vuil klere uit te trek en weg te gooi?

Gebed

Here, help my om in alles die waarheid te praat. Die volle waarheid. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek