God se Woord in vandag se woorde

Die prentjies wat ons maak


Hier reg aan die begin van Paulus se brief aan die mense van Kolosse spreek hy sy verwondering uit. Hy haal sy hoed af vir die groepie jong Christene wat na aanhoor van die Evangelie nie anders kon as om dit aan te gryp en in ’n lewende God te glo nie. En hulle hou uit. Al is die odds teen hulle. Al glo die res van die mense om hulle nie. Al word hulle uitgelag vir hul geloof, byt hulle vas, want hulle weet dis die waarheid.

En die gevolg van hierdie mense se geloof en vasbyt? Dat God se naam geëer word: 3Wanneer ek bid, kan ek God nie genoeg dankie sê vir wat Hy vir julle doen nie. Ek praat nie sommer van enige god nie. Ek praat van God, die Vader van Jesus Christus, ons Here. 

Weet jy wat sê Paulus eintlik hier? As hierdie ouens in sulke omstandighede kan aanhou glo, moet daar ’n God wees. Op hulle eie sal hulle dit nie maak nie, daarvoor is hulle te lig in die broek. Die manier waarop hulle bly glo en lewe in baie ongunstige omstandighede vertel ’n storie van ’n almagtige God wat agter hulle staan en dit alles laat waar word.

So vertel ons elkeen ’n storie. Die manier waarop ons die lewe leef teken ’n prentjie. Ja, alles in ons lewe word in die prentjie vasgevang. Waarvan ons hou en waarvan ons nie hou nie. Ons wortels en waar ons vandaan kom. Ons persoonlikhede en die impak wat ons in die wêreld het.

Sonder dat ons dit besef, skilder ons elkeen ’n prentjie deur die manier waarop ons die lewe leef. Eintlik kom maak ons ons hart oop en wys vir die mense om ons hoe dit daar binne lyk en dit is sleg om te sê dat die prentjie nie altyd so mooi is nie.

Ek kry ’n prentjie van ’n eienaar van ’n winkel op die dorp wat my naar maak. Ek staan agter ’n kliënt wat gebel is om sy produk te kom haal. Die winkelklerk stel hom in kennis dat die produk ongelukkig deur iemand anders verkeerdelik aan ’n volgende kliënt gegee is. Die man is ontsteld en wil die eienaar sien. Hy het vêr gery om die produk te kom haal. Die eienaar weier om met hom te praat. Nadat hy ’n paar keer daarop aandring, kom die eienaar uitgestorm en bulder dat indien die kliënt homself nie onmiddellik verwyder uit sy winkel nie, gaan hy die sekuriteit roep om hom te verwyder.

My mond het oopgehang. Nee, ek was geskok. Dis die eienaar se mense wat verkeerd gedoen het. Eintlik moes die eienaar verskoning aangebied het en spesiale reëlings gemaak het om die produk op sy koste spoedig by die kliënt uit te kry.

Die eienaar het vir my as kliënt ’n baie lelike prentjie geskilder wat my naar maak.

Soveel anders as die mense van Kolosse. Hulle prentjie het Paulus beweeg om God te prys. Die netto effek van die mense van Kolosse was dat God se Naam verheerlik is. Daar moet ’n God wees. Ja, daar moet ’n God wees as daai ouens kan glo. Daarom eer ek God. Daarom kan ek nie anders as om te glo in die bestaan van ’n almagtige God nie. Eer sy Naam!

En terwyl ek so met ’n glimlag op my gesig sit en die mooi prentjie van die mense van Kolosse sien, wonder ek hoe die prentjie lyk wat ander van God sien as hulle na my kyk. Is my prentjie nader aan die mense van Kolosse of nader aan die eienaar van die winkel?

Sjoe, ek wonder hoe lyk my prentjie en of God die eer ontvang. En jy? Hoe lyk jou prentjie?

Skrifgedeelte

Kolossense 1:1-8

Om oor na te dink

Besef jy dat jy besig is met ’n prentjie?

Wat sien ander mense as hulle na jou kyk?

Is jy tevrede met die prentjie?

Gebed

Vader, daar is tye wat my prentjie nie lekker lyk nie. Tye wat ek weet mense nie vir U sien nie. Vergewe my dit. Vergewe my dat ek nie altyd mense help om lofliedere tot U te sing nie. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?