God se Woord in vandag se woorde

Die reaksie op ons aksies


Filippense 3:4-11

Dit was op die skerms van die gym waar ek die eerste keer van Oscar Pistorius en Reeva se trauma gehoor het. My hart het so ’n kramp gegee en ek het hom bitter jammer gekry. Die hofsake daarna was nie maklik nie en elkeen het sy eie opinie gehad.

In die vroeër jare was daar nie sulke lang prosesse met redenasies wat heen-en-weer vlieg nie. As jy iemand se lewe geneem het, moes jy jou lewe inruil vir daardie persoon se lewe. Klaar. Dit was eenvoudig. Vir elke aksie is daar ’n reaksie.

Dit geld egter nie net vir moord nie. Vir alle sondes is daar ’n reaksie. Die Bybel is baie reguit daaroor. Die reaksie op sonde is die dood. Elke mens sondig. Ek en jy doen gedurig verkeerde dinge. Of ons doen nie die dinge wat ons moet doen nie en dit is ook sonde. Die reaksie op ons elkeen se sonde, dit wat ons moet inruil as betaling van ons verkeerde dade, is ons lewe.

Dit was die werklikheid vóór Jesus se koms na die aarde. Ons sondes sou ons reguit in die kake van die dood gedruk het. Eintlik het ons geen kans gestaan om die hel vry te spring nie. Vir Oscar sou die mense gegryp en net daar met klippe doodgegooi het.

Gelukkig het ons ’n wonderlike Vader wat ’n hart groter as ’n taxi het. Baie groter! Die feit dat sy kinders deur die kake van die dood gesteel word, was vir Hom net te veel. Al hoe Hy dit kon keer was om sy Seun aan ’n kruis te laat sterf. Op ’n manier moes Jesus eers deur die kloue van die dood gaan, sodat ons wat in Hom glo, nie daardeur hoef te gaan nie. Die reaksie van ons sondes is nie dat ons moet sterf nie. Nee, die reaksie op ons aksie van sondes is Jesus wat in ons plek deur die kake van die dood opgeslurp word.

11Ek weet tog dat ek soos Hy eendag lewendig uit die kloue van die dood sal stap.

Soos Paulus kan ek en jy weet dat ons nie hoef bang te wees vir stories oor die dood nie. Ons hoef nie te wonder of ons dit gaan maak of nie. Wel, ek kan vir seker sê dat ek dit nie sou maak nie. Daarvoor is ek net te sondig en ek sou in die kloue van die dood vasgeval het. Maar omdat Jesus die reaksie was op my sondes, kan ek met sekerheid sê ek sal dit maak!

Sjoe, dis darem ’n wonderlike wete.

Kom ons teken ’n prentjie om dit duidelik uit te beeld. Kom ons sê dis in die tyd van die Bybel en Oscar het in daardie tyd sy meisie se lewe geneem. Die stad se mense het bymekaargekom, elkeen met ’n klip of twee in die hand. Almal weet wat gaan gebeur, maar net voor die eerste klip deur die lig trek, stap ’n man voor Oscar in. Hy sê hy is bereid om die reaksie te vat op Oscar se oortreding. Hy is bereid om sy lewe te gee vir die lewe van Oscar se meisie.

Na die verbasing oor is, begin die een klip na die ander hom tref. Agter hom word die boeie om Oscar se polse losgemaak en hy stap vry weg.

Dis presies wat Jesus vir ons gedoen het. Hy het in ons plek in die kloue van die dood gestap. Vir my sondes. Vir jou sondes en ook vandag vir Oscar se sondes.

Mag ons ’n lewe leef wat deur een woord opgesom word: Dankbaarheid. Mag almal deur ons dade sien hoe dankbaar ons is vir Jesus se reaksie op ons aksie van sonde.

Om oor na te dink

Hoe lyk jou aksies?

Verstaan jy God se reaksie?

Hoe lyk jou aksie op God se reaksie?

Gebed

Jesus, dankie vir wat U kom doen het. Ek weet presies wat ek verdien op al my sondige aksies. Ek weet ek maak dit nie en sou nooit deur die kake van die dood kon kom nie. Dankie dat U in my plek deur die kake van die dood is. Mag my lewe my dankbaarheid elke dag weerspieël. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?