God se Woord in vandag se woorde

Die regte ding om te doen


My tjommie se besigheid kry swaar, want dis aanmekaar die ander voorsieners wat voorgetrek word. En as jy nie agteraf vir die persoon wat die bestelling moet afteken ’n hoop kontant in die hand druk nie, is die kans dat jy enige bestelling kry tussen nul en minus een.

My vriend weier om so besigheid te doen. Daarom trek sy besigheid swaar. Tog byt hy was en glo hy dat die Here hom sal help om planne te maak om sy besigheid deur te trek. Hy glo dat die Here hom sal wys watter deure hy moet oopmaak en watter hy maar eerder moet toe hou. Al word die hele landskap om hom gebou op oneerlikheid, vertrou hy dat God vir hom sal deurkom.

So maklik raak ’n mens deel van die stroom. So maklik oortuig ’n mens se benarde finansiële situasie jou om maar ook so te doen. Almal doen dit. Ek het nie ’n keuse nie. As ek wil oorleef in die deurmekaar wêreld sal ek ook maar ’n paar rand moet stoor vir die besluitnemers. So maklik regverdig ’n mens dit en sien jy nie meer die verkeerd daarin raak nie.

Ek wonder hoe ’n mens vir God kan vra om jou te help en te seën met ’n bestelling of ’n nuwe kontrak as jy aan die agterkant besig is met skelmstreke. Doen eerder die regte ding. Stap die skoon paadjie, want so maak jy dit vir God maklik om jou te seën.

7… Ook mag hy glad nie in skelm saketransaksies betrokke wees nie.

Natuurlik geld dit nie net vir die besigheidswêreld nie, maar vir alle plekke in ons lewe. Oral moet ons eerlik wees. Dit wat uit ons mond kom, moet altyd 100% eerlik wees. As mense agterkom dat jy nie die volle waarheid vertel nie, gaan hulle niks glo wat uit jou mond kom nie. Op ’n manier hang jy ’n bordjie voor jou kop: Moenie glo wat ek sê nie, want ek is skelm …

In jou optrede, wees altyd eerlik, sodat ander jou ten volle kan vertrou. In jou verhoudings, wees eerlik. Moenie ander partye toelaat om oor die heining te klim nie. Dis ’n resep vir groot moeilikheid en seer.

Doen die regte ding. Altyd. Soos my vriend waarvan ek hier bo vertel het, gedoen het. Te midde van die gestoei om kop bo water te hou, kom hy na ’n paar maande agter dat een van sy groot kliënte ’n paar miljoen te veel in sy rekening inbetaal het.

Hy het lank gewroeg oor wat die regte ding is om te doen. Baie het gesê dat hy dit moet hou. Hulle sal dit nooit agterkom nie en dis hulle fout. Ander het selfs beweer dat dit die antwoord op sy gebede is.

Dit was vrek moeilik, maar my vriend het die geld terugbetaal. Dit was die regte dinge om te doen.

Kom ons wees eerlik in alles wat ons doen. Kom ons maak seker dat daar geen grys areas êrens in ons lewe te vind is nie. Kom ons maak vir God maklik om ons te seën deur altyd eerlik te wees en die regte dinge te doen.

Teks
Tit 1:6-10

Om oor na te dink
Waar het jy al oor die eerlikheidsdrade gefoeter?
Hoe moet jy anders maak?
Waar moet jy ontslae raak van oneerlikheid in jou lewe?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat daar ’n paar plekkies in my lewe is waar ek nie 100% eerlik is nie. Ek wil dit nie so hê nie. Help my om in alle opsigte eerlik te wees. Help my om die regte ding te doen. Altyd! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek