God se Woord in vandag se woorde

Die regte dinge om te doen


Ek dink aan Liewe Heksie wat maar ’n beperkte woordeskat gehad het en as Koning Rosekrans ’n groot woord gebruik wat sy nie verstaan nie, het sy skaam met haar toon in die grond gekrap. Ek het ook nou so ’n oomblik waar ek my groottoon staan en draai in die grond, want wat presies beteken die woord integriteit? 8Maak God se wil op die regte manier bekend. Tree altyd met integriteit op.

Gelukkig is ons vir Heksie vandag een voor en kan ons vir Oom Google vra om die betekenis van integriteit vir ons oop te breek. Die eerste webwerf is ’n taalwoordeboek en tot my verbasing is die derde voorbeeld die volgende: Jesus was ’n man van integriteit, en dit is waarom Hy so hoog geag word.

Verbasend dat ’n sekulêre webtuiste so ’n voorbeeld gebruik. Tog het Jesus so ’n inpak hier op die aarde gemaak dat baie na Hom opkyk en Hom graag as die perfekte voorbeeld gebruik.

’n Persoon wat integriteit het, is altyd eerlik, lewe in die lig en is nie bang dat alles wat hy of sy doen of sê verlig gaan word nie. Maak nie saak wat hulle doen nie, mense sal altyd na die tyd sê: Dit was die regte ding om te doen. Almal weet dit.

Nou die dag gaan soek ek ’n nuwe dakkie vir my gazebo. Die son het die ou ene pak gegee. By die een tak van ’n groot buitemuurse winkel kry ek die prys, maar hulle het nie voorraad nie. Ek ry by die naburige dorp aan en sien nog so ’n winkel. Hulle het wel voorraad van die dakkie, maar nie die prys nie. Ek wag lank, maar op die ou end kom die bestuurder daar aan. Die prys is dieselfde as die vorige winkel s’n.

Ek wonder hoekom het ek hom nie gesê wat die prys is nie? Het ek gehoop hy kry dit nie en gee vir my ’n goedkoper prys? Sou ek vir hom gesê het as dit minder gekos het, dat hy die verkeerde prys beet het?

As integriteit my eerste oorweging was, sou ek sommer van die begin af die prys gesê het en dit betaal het.

Kom ons bring dit nog nader aan die lyf. As iemand by die kasregister vir jou te veel kleingeld gee, gee jy dit terug of hou jy dit? Dis mos sy of haar fout, nie joune nie. Integriteit sou dit net daar, sonder om twee keer te dink, teruggee.

Ek sien in Vrouekeur ’n artikel wat vra wat mense met integriteit in gemeen het:

    1. Hulle is eerlik.
    2. Hulle is opreg.
    3. Hulle het waardering vir mense.
    4. Hulle het respek vir ander mense se tyd.
    5. Hulle misbruik mense nie.
    6. Hulle hanteer konflik beskaafd.
    7. Hulle is op ander mense se gevoelens ingestel.
    8. Hulle weet hoe om jammer te sê.
    9. Hulle is nederig.
    10. Hulle doen goed waar hulle kan.

As ek die lysie so kyk, besef ek ek moet so ‘n bietjie aan my integriteit werk, want dis die regte ding om te doen.

Teks
Tit 2:6-8

Om oor na te dink
Hoe sterk is die rol wat integriteit by jou speel?
Waar het jy die wa al gemis?
Waar moet jy met meer integriteit optree?

Gebed
Here, soms steek ek integriteit effe weg en doen meer wat ek wil. Ek weet dit is nie altyd in lyn met U wil nie. Soos ’n dief in die nag bekruip die verkeerde my. Ek wil dit nie doen nie, maar as ek weer kyk, het ek gefaal. Help my tog, Vader. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek