God se Woord in vandag se woorde

Die selfvernietigende pad, weg van God


Soms kom ons by verse in die Bybel wat ons eintlik nie wil lees nie, wat ons hoop nie daar was nie. Tog is dit nodig om dit te hoor, want dis die waarheid. As kinders van God hulle rug op God draai, is daar niks wat daaraan gedoen kan word nie.

Nie ’n duisend osse wat geslag word om geoffer te word nie. Selfs Jesus se bloed wat aan die kruis gevloei het, het nie vir dié ouens gevloei nie. Hulle het hulle kans gehad.

26As ons die regte pad leer ken het, en dan aanhou om moedswillig dinge te doen waarvan God nie hou nie, is daar nie meer ’n offer wat sal maak dat God Hom nie aan die sondes sal steur nie.

Glad nie ligte musiek nie en mag ek en jy nooit in daardie ry by die hemel staan nie!

Ek het al vertel van mense met wie ek op Facebook vriende is. Hulle was deel van die kerk, een was selfs ’n predikant. Êrens langs die pad het hulle geloofskarretjies se wiele afgekom. Hulle glo nie meer nie.

Maar in plaas van wegstap en in ’n ander rigting beweeg, staan hulle op die kantlyn en lewer net kritiek en lag in hulle mou vir die kerk. Dis so jammer. Soms sit ek met trane in my oë en kan nie glo dat mense dit kan sê en doen nie.

Nou hoor ek sommige mense sê hoekom unfriend ek hulle nie? Want ek hoop met my hele hart eendag hoor of sien hulle van my inskrywings wat hulle net weer aan die dink laat sit. Dalkies kom daar net ’n wyse oomblik en hulle besluit om weer hul eerste Waarheid lief te kry.

Maar, sê die mense dan, die vers sê tog dat daar geen offer gaan wees om hulle weer toelating tot die hemel te kry nie. Dis dan hier waar my naïwe, kinderlike geloof inskop en ek glo dat as so iemand laag voor God gaan buig, Sy liefde groot en oorgenoeg gaan wees om die sondaar ook te vergewe.

Daarom sal ek bly leef om ’n voorbeeld van Jesus se liefde te wees. Ek probeer altyd om verby hulle dade te kyk en die dalk onsekere mens agter in die hoekie raak te sien. Ek wonder altyd as hulle so alleen op hulle bed lê of hulle soms sê: “Sê nou maar net daar is ’n God …”.

Die wete vuur my aan om net nog harder te probeer, want ek is dalk die enigste stukkie ligstraal wat God se lig in daardie persoon se donker lewe kan inskyn. Ons mag nie ophou om God se hande en voete te wees nie. Ons mag nie ophou om God se lig in die donker wêreld te skyn nie.

Hoe erg moet dit nie vir enige wese op aarde wees om hierdie woorde uit God se mond te hoor nie: 27… “Jy is skuldig,” en dan die gloeiende vuur in te stap wat die vyande van God gaan verteer.

Aijaijai! Mag ek en jy, ons familie, vriende en al die mense met wie ons in kontak gekom het, nooit, maar nooit hierdie woorde hoor nie.

Teks
Hebreërs 10:26-30

Om oor na te dink
Ken jy mense wat hul rug op God gedraai het?
Wat kan jy doen om God vir hulle te wys?
Wie kan jy vra om te help?

Gebed
Onse Vader, my hart is so seer vir die mense wat hulle rug op U gedraai het. Mag my voorbeeld hulle anders laat dink. Mag my optrede U liefde uitstraal. Dalk, net dalk kan hulle gedagtes oor U weer terugdraai … Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek