God se Woord in vandag se woorde

Die skrywer


Ek was nie op die program nie.

En ek glo dit nogal, want ‘n sesde kind in ‘n pastorie daardie jare was óf ‘n gedwonge aanneming wat verkeerd geloop het, óf ‘n glips. My ma het glo, terwyl sy daar in die hospitaal was met my ouer sus se geboorte, sommer die knipwerk laat doen. Dokter Olaf Smith het haar verseker dat die nuwe metode 100% “fail proof” is.

Dit was seker nie heeltemal drie maande na my ouer sus se geboorte nie, toe is my ma een oggend naar. Sy dog toe dis die vorige aand se hoender wat dalk nie lekker vars was nie, maar toe sy die volgende oggend weer nie wel voel nie, weet sy daar is fout. Na ses keer dieselfde gevoel, stry ‘n mens nie met ‘n vrou nie. Klaar. My pa wou nog sy arm in die stuiwerbeurs gooi, maar het gou besef hy moet sy mond toehou, want immers was hy ‘n redelike groot rolspeler in die affêre en daar gaat hulle tweetjies stil-stil met die kewer na die dokter. En ja, dit was toe so. My pa het met sy pet in die hand nie geweet of hy moet geluk sê of wat nie, maar het darem die dokter bedank vir die nuus. Van daardie dag af het ons van der Merwes nooit weer ‘n rekening van die dokter ontvang nie.

Ek was nog altyd ‘n goeie swemmer.

Met vyf kinders wat vernoem moes word was die meeste van die name reeds opgebruik en met dié aankondiging het hulle nege maande gehad om op ‘n naam af te kom. My pa het my nooit meegedeel wat die naam sou wees as ek ‘n dogtertjie sou wees nie, maar as ek na my naam kyk wil ek nie eintlik weet waar hulle sou uitkom nie.

Hierdie is ‘n lang storie, so sit maar terug en relax.

My pa se broer was Boerneef. Toe my pa op universiteit kom, besluit hy om vir hom ook ‘n skuilnaam bymekaar te maak. Hy neem toe die “ger” van sy eerste naam, Gert en die “jo” van sy tweede naam Johannes en kom by Gerjo uit. Dit was nie lank nie of al sy vriende het hom Gerjo begin noem. Maar duidelik was daar te veel tyd in die nege maande om te dink aan ‘n naam, want my naam eindig nie hier nie. Ek wonder of my pa probeer opmaak het vir sy aandeel in die affêre?

Tydens die nege maande onthou my pa van ‘n skoolhoof vriend aan wie hy belowe het dat hy hom sal vernoem as hy eendag ‘n derde seun het (Ek wonder of die Dros of Akker toe al oop was op Stellenbosch?). En whalla!

Daar word ek beslaan met die naam van Gerjo Ben van der Merwe. Let wel, sonder ‘n koppelteken en ek word op altwee my voorname aangespreek. Daar is nooit genoeg blokkies op enige vorm vir my naam en van langs mekaar nie! Jy moet sien hoe vinnig teken ek ‘n blokkie. In die besigheidswêreld stel ek myself maar voor as Ben, want om een of ander rede kan die Ingelse nie om die g en die j in een woord kom nie. Ek reageer natuurlik op enige iets van George, Gerrie, Jo tot by Gerry. Jis, Ghirdjo, how are you? Oh, hey. Your talking to me?! Yes, no fine.

As die jongste van ses beweer die ander lede van die gesin tot vandag toe dat ek voorgetrek is. Ek ontken dit ruiterlik. Wees jy asb die beoordelaar hier. Voordat ek my eerste stel skoolklere in ontvangs kon neem (wat elke jaar “hand-me-downs” was), het ek my arm drie keer gebreek. Een keer met “open the gate” op die pastorie se voorgras. My pa was net op pad na ‘n begrafnis en my ma was een of ander ACVV vroue se vergadering aan die lei. Ek was te klein om te onthou wie tot my redding gekom het, maar ek weet met die derde ene was dokter Olaf besig om steke in my ma se kop te sit na ‘n gevallery op die stoep toe hy vir haar sê dat hy ná haar weer vir my moet gaan gips aansit. Dit is weer so! Ek het by vriende op die plaas Lourensford gekuier en was net mooi keelvol vir die sonbesies wat so raas. Op pad na hulle het ek op ‘n droë takkie in die wilgerboom getrap en na die aarde neergestort. Op pad ondertoe eers my kop teen die houttafel in ‘n harrsingskudding in gedruk en toe my arm breek geval.

Ek was duidelik nie ‘n goeie boomklimmer nie, maar vir seker ‘n goeie swemmer.

Om terug te kom by die familie wat oortuig is dat ek voorgetrek is: nog bewyse. My ouer broers het hul eie pyltjies gemaak deur ‘n speld tussen 4 vuurhoutjies met gare vas te draai en dan ‘n stukkie karton in sy stert te druk. Watter beter bewegende teiken was daar nie as hul kleinste pokkel boetie nie? Ek kan nog die vrees onthou waar ek op volspoed voortstrompel en nie weet wanneer een van daardie pyltjies my hakskene gaan deurboor nie. Ek dink die pendilum swaai na my kant toe.

Ek het tot vandag toe nog engtevrees, kan myself nie eers heeltemal onder ‘n duvet toemaak nie. Juis omdat hulle soveel genot daaruit geput het om ‘n kussing oor my gesig te druk tot net voor ek aan die huil gaan. (Waar swaai die pendilum nou?)

Eenkeer speel ons met swaarde op die garage se dak en toe ek weer sien, trap ek agtertoe waar daar nie meer dak oor is nie en val op my kop. (Wie’s jou pappa nou, as ons na die pendilum kyk?) Miskien moet ek eerlik wees, want dit was nie eintlik ek wat van die dak afgeval het nie, maar my oudste broer. Ai, dit klink na so ‘n lekker storie en sou so graag die hoofkarakter wou wees! Maar die ander voorafgaande was regtig waar – al klink dit so erg.

Miskien verstaan ek die “nie-op-die-program” ding beter wanneer ek besef dat ek toe die enigste man in die huis was nadat my pa en een broer binne drie maande oorlede is terwyl my ander broer in die weermag is en dit terwyl ek maar in standerd ses was. God het dalk met ‘n lang plan gewerk. Maar die rol as man het ek nie altyd goed gespeel nie. Daar was ‘n paar kere wat ek keelvol was vir die klomp vrouens en dan het ek my klere, hond en ‘n bietjie kos gepak en op my motorfiets geklim om weg te ry. Gelukkig het my ouer suster dan darem wysheid in my kop kom praat met: waar gaan jy kos kry as dié in jou sak op is? Dan het ek gewoonlik maar weer afgeklim, alles op hul plek gaan terugpak en met die hond gespeel.

Dat ek verantwoordelik was vir ‘n paar grys hare op my ma se kop, is voorwaar so. Om ‘n voorbeeld te noem vir die ontstaan van een grys haar (of dalk ‘n paar). Clicks maak oop in die dorp en vir die eerste keer sien ons 5 tienermanne ‘n pakkie van daai goed wat my pa nie gedra het met die ontstaan van my nie. Dis baie snaaks en ek kan nie meer onthou wat alles deur ons kop gegaan het nie. Toe ons buite kom sien ons dat een van die manne drie van die goed in sy sak gedruk het en ek wil hom eers terugjaag, maar helaas, die ordentlikheid was van korte duur. Ons blaas een op en loop met dit, soos ‘n peuter wat uit die Spur uit kom, in die dorp rond. Die ander ene maak ons in die flieks se toilette vol water. Het jy al gesien hoeveel water vat so ene? Dit is baie pret, maar my beste vriend, Heinrich, kon weens ekstra wiskunde klasse nie aan die aktiwiteit deelneem nie en ek neem een huis toe vir sy besigtiging.

Ons kon nie wag om die volgende oggend na skool by die huis te kom nie. Ek kan nie onthou nie, maar ek vermoed ons het nie tot na die laaste periode van die dag gewag nie. Om eerlik te wees vermoed ek eerder dit sou skraps na eerste pouse gewees het wat ons die skool noodgedwonge moes verlaat.

Die onraad wat ek vermoed het, het my dadelik geslaan toe ek die deur oopgestoot het en moes waarneem dat my bed opgemaak is, geen klere op die grond kon aantref nie en selfs elke boekie op my rak te vinde is. Rooi alarms het in my kop afgegaan, ‘n ligte sweet het op my voorkop uitgeslaan, maar ek het nog bly hoop. Êrens het ek onthou van die hoop beskaam nie, maar nie eintlik geweet wat dit beteken nie. Dit is dalk nou die tyd daarvoor, het ek gedink. Ek het op my lessenaar afgestorm en die laai oopgemaak. Ek het my hart hard hier in my keel hoor klop. Doef, doef en nog ‘n doef. My vriend wou iets sê, maar het gou in my oë gesien dat dit nie nou ‘n goeie tyd is vir iets sê nie. Stadig het ek die-eerste-in-sy-lewe-reggepakte-skoon-laai oopgeskuif en die bruinpapier opgelig. Daar was niks!

Sug.

Ek het verwoed die volgende laai oopgeskuif. Dalk het ek dit in die ander laai gebêre? En toe die volgende ene… tot by die laaste laai. Almal was reggepak. En die ding? Weg! Ons het alles omgedop en gesoek. Selfs die hele vullisdrom gaan uitpak. Maar geen sien van die blik kantien.

Toe my ma later die dag daar aankom, het Heinrich hom gou uit die voete gemaak. My ma het my kamer stil binne gekom. Kyk, sy was so ‘n klein, statige dame wat na matriek in Lutzville eers ‘n draai in ‘n finishing skool op Wellington gaan maak het. Wat kon sy doen? Hierdie klein fyn dametjie en die groot standerd-8 bulletjie?

Sy het gekniel met Bennie langs haar en sy het gebid en gebid en gebid.

Ag, as ek nou terugkyk, kry ek sommer trane in my oë. Sal ek dit ooit vergeet?

Maar daar was nog ‘n keer en dit is toe my ma vir Tannie Boadecia Bredell by die kerk Sondag dankie sê dat ek Vrydagaand by Albert op die plaas kon slaap. Nee, sê Tannie Boadecia, sy het eintlik ‘n melktert in die kar vir my ma om dankie te sê dat Albert by ons in die dorp kon slaap. Dit was ook vir Vrydagaand!

Maar ons het eintlik videos by my meisie tot laat nag gelê en kyk. Daar het regtig niks gebeur nie (belowe – true as nannies!), maar na Sondagskool het ek en my ma maar weer gekniel.

(rus)

Ek is met genade alleen deur matriek, want leer was nog nooit my beste vak nie. As Matie het studies omtrent dieselfde plek ingeneem. Dit is nou die heel laaste plek op die wegspring rooster. Kyk, moenie my verkeerd verstaan nie, ek het baie hard gewerk, maar niks te doen met swottings nie. Ek het vir oom Johan Ferreira van InterKaap bus gery. Ek kan nog onthou dat ek een Desember vakansie oor die 43000 kilometer gery het, net met ‘n bus en net in die nag. Weet jy hoe baie is dit? Ek het by Bobby McGees, ‘n upmarket restaurant, gewerk. As ek 18h00 daar instap, dan stap Ben, die eienaar, daar uit. Dan speel ek die till, ek grill en ek kyk dat die kelnerinne die kliënte gelukkig hou. Dis natuurlik grand mense wat daar eet en verwag dat die bestuurder by elkeen ‘n draai maak en hoor hoe gaan dit met die kinders of kleinkinders wat al weer oorsee rondjakker. Saans as almal weg is, is dit net ek wat die kombuis en kroeg weer kan volmaak (op Engels: stock). Na 02h00 strompel ek moeg daar uit en stap dan rustig terug na woonstelletjie in die Laan – alleen, OK. Wat is die kans vir die bywoning van ‘n 08h00 klas? Later het ek my eie besigheid gehad, Sproeikor, maar dit het eers begin toe ek op die Kweekskool was. Weens die feit dat ek so hard gewerk het, moes ek noodgedwonge my driejarige BA graad in vyf jaar inprop. Dit was onder andere weens akademiese studies, want ek het immers ‘n meestersgraad in Grieks 2 en Hebreeus 2! (Ek het dit drie jaar bestudeer voordat hulle my jammer gekry en my deurgesit het!)

Toe is ek uiteindelik Kweekskool toe. My ma het nogal die eerste dag saam met my ingestap en al die professore het haar waardig gegroet en ek was bly dat ek my pa se name gehad het. Maar met my lang hare en my oorbel en bike het ek so effe uitgestaan. Ek het dit nie geweet nie, maar my pêlle het my later daarvan vertel. My vrou het gesê as sy my op Stellenbosch ontmoet het, ek nie eers ‘n kans sou gehad het nie! Inteendeel, ek sou dalk die onderwerp van haar gebed gewees het!

Die akademie was nog steeds nie ‘n prioriteit nie. En dit was in een van die eerste klasse wat Sproeikor gebore is. Sjoe, ek het baie geld gemaak. Nou moet jy weet, ek kom uit ‘n era waar ek R50 per dag verdien het vir die groot verantwoordelike werk om ‘n bus vol mense elke nag te karwei van Kaapstad na Port Elizabeth en terug die volgende aand. Eintlik was dit baie geld in daardie tyd. Of R100 per aand by Bobbies en natuurlik ‘n ete en ietsie om te drink – as almal weg was. Maar met Sproeikor was dit anders. Daar was drie nulle voor die komma as ek een installasie klaar gemaak het!

Maar om al die balle in die lug te hou was nie so maklik nie, want sien, as jy ‘n klas mis op die kweek, dan was jou kanse om ds. eendag voor jou naam te sit, so skraal soos 7  mooiweer dae agter mekaar in die Kaap (hulle sê mos die Kaap is soos ‘n baba: as dit nie winde het nie, dan is dit nat).

Dit het voorwaar ‘n bietjie innoverende dinkwerk geverg. Daarom het ek soggens voor 6 die manne opgetel by Lwandle, daar duskant Somerset-Wes en saam met hulle slote gegrawe tot net na half agt. Agtuur het ek saam met die (ander) manne en een vrou in die klas gesit (met ‘n ligte paar sweet druppels op die bo-lip), maar dit was nie lank daarna voordat ek weer aangesluit het by die manne in die tuin in Somerset-Wes nie. Gelukkig het die kweekskool groot vensters! Maar die probleem was dat ons modules geloop het, wat beteken dat ons die heeldag dieselfde proffie gehad het. Daarom was ek altyd getrou op my plekkie (met ‘n paar groter sweetdruppels op die bo-lip) vir die laaste klas, twintig oor twaalf tot een uur. Dan was die proffie onder die indruk dat hy dalk ‘n fout begaan het om my een of ander tyd tydens enige ander klas in die oggend te kon mis. Net na een het ek my weer by die manne in die tuin (nee, nie van Eden!) aangesluit. Dan het ek die pype begin lê en die spuite geïnstalleer. Nadat ek die manne afgelaai het, gaan ek terug en koppel die rekenaar en “keching-keching” daar spuit die ou se hele tuin vanself nat en ek stap weg met R1000 se wins in my sak! Kan jy dit glo?

En partymaal wil ek effe sleg voel. Want op ‘n manier weet ek dat ek nie 100% committed was vir die studies nie, maar ek het vasgebyt. Ek kon nie anders nie. Ek weet dat die Here met my op pad was, al was dit net om my met my lang hare, oorbel en bike op die pad te hou.

Ek en James het ‘n woonstel gedeel in die Laan waar ek onder andere ook die opsigter was – nog ‘n inkomstetjie. Dit was hier waar Cornie ingehardloop gekom het met die Landbouweekblad wat oop is by die Opsitkers. Met ‘n groot spotprent by: Amper dominee en Tokkelok op soek na ‘n pastoriemoeder! Met al die beskrywings besef ons dat dit niemand anders as ek en James kan wees nie. ‘n Week later stroom die briewe in. My suster, wat op daardie stadium by die Landbouweekblad gewerk het, sê dit was ‘n “all time rekord”, want gewoonlik kry ‘n man twee of, as hy baie gelukkig is, drie briefies per advertensie. Ons sin het hier by die 50 gedraai! En daar was goeie aansoeke, hoor, met ‘n paar plase wat op die koop toe ingesluit word. Maar ene onthou ek nog so goed: Broers, het die Tannie geskryf, julle moet nie julle vrou in die Opsitkers soek nie, maar op julle knieë! Ons het darem vir die Tannie ‘n briefie teruggeskryf dat dit eintlik James se suster en vriendin was wat vir ons ‘n poets gebak het.

Terug by die Kweek het die proffies gehoor van die nuwe didaktiese maniere en gee ons periodes af om in groepies saam te werk. Die noodwendige plek vir Kweekskoolstudente is uiteraard van die saak enige van die pragtige koffiewinkels op die dorp. Ons groepie van vier, Eds, Aukie, Cobi en ek, het egter tuiser gevoel op die Akker of Dros se stoep. Dit was natuurlik nog voor die Dros takke oor die hele land gehad het. Maar hier op die twee stoepe het ons paar manskappe gou-gou al die kerk se probleme van vandag tot by die vorige eeu opgelos.

Ek kan nog onthou dit was net hier waar Auki gesê het hy gaan vir Linda in Malawi kuier en daar en dan besluit ek om saam te gaan. Ek het sommer direk van daar na Standardbank gegaan en my studentelening vergroot. Dit was vet pret in Malawi en ons het die hele land deurkruis. Ek het net ‘n week of so se klasse gemis en moes vir my straf ‘n boek deurlees, maar Auki het dit swaarder getref. Hy het net ‘n paar dae na my gearriveer, maar moes toe ‘n mondeling doen oor 4 boeke! Genade was aan my kant.

Met weereens ‘n hoop genade, baie herre en ‘n paar mondelings kry ek my graad binne die aangewese tyd. Vir elkeen van my gesinslede was dit ‘n wonderwerk en is ek terstond tot ‘n held geslaan, want dit het nog nooit in ons familie gebeur nie.

Die oorskakeling van student na werkende mens was baie traumaties. Nie dat ek bang was vir werk nie. Nee, hard kon ek werk, maar om dit elke oggend op presies dieselfde tyd vir vyf dae in ‘n ry te doen, was nogal erg. So neem ek en Jaco toe ‘n ou bankrot kwekery oor – hy ontwerp en bou tuine en ek sit die besproeiingstelsels in. Ons werk ons as af, maar in die twee jaar wat ons die kwekery het, neem ek net twee maal R1000 huis toe. Later moes ek uitvind dat een van die werknemers sy hande in die “till” gehad het!

Dis in die tyd wat my beter helfte op die horison verskyn. My ma bel my en vertel van die meisie wat ‘n jaar oorsee aupair werk gedoen het. Sy het blykbaar haar boyfriend pas lewendig verloor en soek nou iemand om die komende Desembermaand saam met haar te gaan na al haar vriendinne se troues. Op daardie stadium van jou lewe het jy omtrent elke naweek mos ‘n troue aan. Ek moet haar bel vir ‘n ontmoeting. Nee, sê ek, sy kan maar bel. Ek is te besig by die kwekery.

So gaan ‘n maand of wat verby en my ma bel later en herinner my aan die date. Ek is nog steeds te besig, maar dit was nie lank daarna nie toe kom die oproep. “Wanneer kan ons mekaar voor die troue ontmoet, want ek gaan nie op ‘n blind date na ‘n troue nie?! Maar so het ek Renata deur die jare goed leer ken, jy laat nie vir haar wag nie, dan doen sy dit self.

Ja, die aand toe sy die deur oopmaak, toe val my se oë omtrent net daar uit en ek glimlag. Ek dink ek het die volgende oggend nog met dieselfde glimlag op my gesig opgestaan. Maar daai aand toe sê ek vir haar hier kom ‘n ding en die volgende aand toe vra ek haar sommer om te trou. Net so. En as dit nie was vir haar jonger suster wat binne 3 maande sou trou nie, het ons nog voor dit getrou.

Die eerste aand se gekuier het egter laat geloop en ons is eers na twaalf terug huis toe. Daar het ons seker vir nog twee ure koffie gedrink en toe uiteindelik gaan slaap. Toe Renata verby haar pa-hulle se slaapkamer stap, sien sy dat hulle ligte nog brand. Verbaas stap sy in en vra hoekom slaap hulle nog nie. “Nee,” sê haar pa, “hulle is bekommerd oor haar en die nuwe ou se laat kerjakker in die nag.” “Maar Pa,” sê Renata verontwaardig, “hy het immers teologie gestudeer.” “Ja, my kind,” sê haar pa rustig, “ek was ook ‘n Matie en ek weet hulle is die stoutste klomp manne op Stellenbosch!” Nou dat ek bietjie meer wysheid het, dink ek hy was nie so vêr verkeerd nie!

Dit was ‘n wonderlike troue. Ek moes net die twee dae voor die troue saam met my aanstaande swaer, Alex, varkblomme gaan pluk. Oor die 700 van hulle, maar ek moet sê die Stellenbosch se stadsaal het mooi gelyk.

Kort na die honeymoon en met omtrent al die geld wat ons by die troue gekry het in die kwekery ingesit, het die geen bydrae aan die koffers in die huwelik van my beginne pla. Ja, goed, ek het darem ‘n paar rand saans as bestuurder verdien by my broer, Johann, se Spur in die Strand en al het ek die verantwoordelikheid om die broodwinner te wees ernstig opgeneem, was dit nie goed genoeg om net ‘n take away pizza huis toe te bring nie. Gelukkig dat Albert (ja, die ene wat saam met my videos gekyk het) in die tyd na my toe kom en vra of ons nie by hulle op die plaas wil kom bly nie. Daar staan ‘n huis oop. Dit was een Desembermaand wat Allies sy rug so seer maak dat hy ‘n operasie moes ondergaan. As gevolg van die operasie moes hy 3 maande plat lê. Hy vra my toe om parstyd vir hom uit te help. Wat ek toe gedoen het: vir sewe jaar lank! By hom en sy pa, Oom Koos, leer ek alles van wingerde, mense en die wynbedryf. Dit is eintlik ‘n ongelooflike “rewarding” werk, want in die jaar werk jy baie hard en nog harder in parstyd, maar kort daarna kan jy beginne proe aan jou harde werk. Sjoe, ek was anders na die tyd op die plaas.

Van hier het ek ‘n pos gekry op Wolwedans, net buite Stellenbosch, daar by Pietman. Glo my as ek sê dit is die beste wingerdplaas in die wêreld! Die beste hellings, die beste grond. As die doltrekker so loop en die rooi grond na bo stoot, voel dit vir jou jy kan dit eet. Dan kry ek sommer trane in my oë! Op Wolwedans is Kruispad gebore. In die oggend as ek vroeg opstaan kon ek stilraak en loer oor die mooi wingerde en berge en kon ek onder my vel ‘n stukkie van God ervaar.

Dit was hier waar my vriend, Marius, my genader het om by hom in sy fabriek aan te sluit. Maar ek het een groot probleem gehad: ek was bang dat ek eendag daar bo in die hemel sou kom en dan sal Petrus sommer daar in die ingangsportaal vir my ‘n leë kansel op aarde wys en vir my sê dat dit myne was. ‘n Verlore kudde sonder ‘n herder.

Daarom moes ek op ‘n manier vrede kry om ‘n langtermyn verbintenis in die sakewêreld te kon maak. Ek skrik een oggend 4 uur wakker (ek sien dit as God wat my wakker gemaak het!). Onseker oor die volgende paradigmaskuif in my lewe, gaan kniel ek in my studeerkamer op die mat. Dan bid ek, dan is my gedagtes by die besigheid. Dan sluimer ek in en met ‘n skrik bid ek weer, nodeloos om te sê daar word nie eintlik ver gevorder nie. Op ‘n stadium val my oog op ‘n boek van Jack Deer “Surprised by the Voice of God” (ongelooflike boek!) en ek maak by die gedeelte wat handel oor hoe ‘n mens die Bybel nie moet lees nie, oop. Hy sê dat ons dikwels die Bybel lees sonder ‘n verwagting dat daar regtig iets gaan gebeur en juis dáárom gebeur daar niks nie! Jack gaan voort en sê: “the Bible is a guide to dynamic encounters with God, who works wonders.” Die Bybel is vir ons gegee sodat ons God se stem kan hoor en ons juis daarop kan reageer met “life changing” geloof.

Met ‘n verwagting dat God vandag nog deur sy Woord praat, met ‘n verwagting dat God vir my spesifiek gaan help met ‘n paar kardinale besluite, pak ek toe die gedeelte in 1 Korintiërs aan.

En God praat met my!

12… kyk net na ons hande, hulle is hard en skurf soos ons werk om aan die lewe te bly.

En ek onthou die sewentigjarige oom se hande wat my net die vorige dag stewig vasvat toe hy groet. Hy doen nou houtwerkies om hom besig te hou. Grof, vol merke, oud, maar sterk. Op en wakker en aan die gang.

En ek sien in my geestesoog die hande van Paulus wat grof is, vol gate waar die naald wat die tente aan mekaar moet werk, verbygeglip het. Die man van God was in ‘n tentmakersbediening, waar hy aan die een kant sy eie geld moes verdien om aan die lewe te bly om God se werk aan die ander kant te gaan doen.

En die vrede wat die mens se verstand te bowe gaan sak oor my neer!

En dit word vir my so duidelik soos daglig: God sal my nie nou roep om alles te verkoop en êrens in die woeste weste swaar te gaan kry om sy Naam te gaan uitdra nie. Nee, wees jy ‘n tentmaker. Verdien jou brood by die besigheid en daarmee saam doen jy My werk. Dis jou opdrag!

En ek is opgewonde!

God praat nog vandag deur sy Woord

En so bevind ek my toe aan die stuur van Betcrete WP, waar polycrete venster- en deurrame en balustrades vervaardig word. Dit was nie altyd maanskyn en rose nie en ons het ook gesuffer met die gewone probleme soos kontantvloei, arbeid en verskaffer probleme. Maar God stap saam met ons. Keer op keer as dit na ‘n moewiese ongeluk lyk, kom bring God die verligting of die werk in.

Totdat die Here se plan met Kruispad vlerke begin kry het.  Toe word dit te moeilik om al die balle in die lug te hou.  Toe’s ek en my vrou weer terug na die Woord en so kry ons toe verdere leiding op die pad vorentoe.  Vandag is ons voltyds met Kruispad besig omdat die Here ons daarvoor geroep het.  Ons is bederf met die wete dat ons binne Sy wil vir ons lewens is en dat Hy ons gewillig en bekwaam maak om vir Hom te werk.

Die van der Merwes woon in Stellenbosch. Renata tree saam met Gerjo Ben uitvoerend op. Haar dag word gevul met die hantering van e-posse wat handel oor geloofskwessies; die skryf van radio-boodskappe wat op verskeie radiostasies uitgesaai word asook deur WhatsApp versprei word; die koördinering van Kruispad se gebedsbediening; die redigering van alle publikasies, die hantering en administrasie van alle boekverkope asook huweliksberading saam met Gerjo Ben.  Alet-Mari (19) is ‘n student by BHC in Kaapstad. Sy is behulpsaam met verskeie IT-take in die Kruispadbediening. Mia (18) is ‘n Spraak-,Taal- en Gehoorterapie-student aan die US. Sy hanteer die logostiek van die Kruispadboeke. Benno is in Gr 10 en word ook ingespan met allerlei funksies om sy ouers te ondersteun in hulle roeping.

In die oggend vroeg is dit ek en die Here. Net ek en Hy en sy Woord. Dit is ‘n groot voorreg om ‘n stuk van my talente in Kruispad te kan inploeg, en wanneer die stof gaan lê, kan ek maar net sê alle eer aan die Here!

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek