God se Woord in vandag se woorde

Die stomp en die splintertjie


Jesus vertel van die man wat die koning R20 miljoen geskuld het. Die man was bankrot en kon nie die geld terugbetaal nie. Die koning wou hom in die tronk laat gooi, maar nadat hy gesmeek het, het die koning se hart sag geword en al sy skuld afgeskryf. (Miskien moet ek die verhaal vir my bankbestuurder gaan vertel!)

Buite die paleis loop die man in iemand vas wat hom R9000 skuld. Hy het sy geld geëis en toe die man nie kon betaal nie, het hy hom in die tronk laat gooi. Toe die koning van die storie hoor, was hy briesend en het toe die man in die tronk laat gooi waar hy gemartel is.

Wat maak jy met al die skuld van ander mense? Hoekom is dit tog so dat ons onsself so geniet as ander mense foute maak? Ja, hulle foute sien ons gou raak, maar ons eie weet ons nie van nie. Om een of ander rede is ons oë so ingestel dat ons ’n splintertjie doer anderkant kan raaksien terwyl ons om een of ander rede verby ons eie boomstompe kyk.

Maar eintlik is dit nie waar nie. Ons boomstompe is verwyder. Jesus het mos aan die kruis gesterf vir ons sondes, vir ons foute en vir alles wat ons verkeerd doen. Ja, ons het nie meer die swaar sak vol foute om rond te sleep nie. Dankie tog!

Nou kom die moeilike gedeelte: Ons moet die ander se splinters vergeet en vergewe. Dit is die opdrag: 13Gee mekaar ’n kans sonder om mekaar met kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al julle foute verbygekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie.

Wanneer jou skuld afgeskryf is, moet jy dit ook doen aan die mense wat vir jou skuld. As God jou foute uitvee, moet jy ander se foute ook uitvee. Moenie jouself verlustig in ander se foute nie.

Dit is nie so maklik nie, veral as dit die mense is wat naby jou leef. Hoe maklik wys ons nie op ons eggenote se foute nie? Hoeveel keer grawe ons nie die vrot koeie uit die sloot en slaan hulle daarmee nie? Dit is nie wat God wil hê ons moet doen nie!

God wil hê ons moet die vryheid wat Hy vir ons gee, aangee aan die mense rondom ons. Hulle verdien dit net so min soos ons. Tog is dit nie net sommer vir vergewe nie. Lizzy het gesukkel:

My broer is koelbloedig in ’n stadsgebied voor sy huis waar sy vrou en 4 kinders wag, deur vyf rowers geskiet. Dit was nooit bevestig of dit wel ’n rooftog was nie aangesien hy die hele week se lone saam met hom gedra het en dit net daar onaangeraak gelos is.

Daardie oggend het ek by die grootste kruispad van my lewe gekom: Haat of vergewe.

Ek het toe besluit wraak kom my nie toe nie en dit vir Jesus gegee.

Ek het besluit elke knie sal buig en elke tong sal getuig dat Hy die Allerhoogste is en voor Hom hulle skuld erken.

Vergewe is nie maklik nie. En tog word dit van ons verwag. Ons moet ander behandel soos God ons behandel. Ons moet vergifnis uitdeel soos God dit aan ons uitdeel. In oormaat en sonder vrae.

Kom ons draai die sisteem hier binne in ons om en ons kyk mekaar se foute mis. Kom ons soek die goeie in mekaar. Kom ons blaas mekaar se sterk punte op. Kom ons oorval mekaar met komplimente. Kom ons saai God se genade, waarvan ek en jy soveel tonne ontvang, oor ander.

Teks

Kolossense 3:12-17

Om oor na te dink

Wie moet jy vergewe?

Kan jy dit doen?

Hoe moet jy dit doen?

Gebed

Vader, dankie dat U verby ons foute kyk omdat Jesus se bloed ons vrygespreek het van al ons skuld. Help ons met U Heilige Gees om reg te leef en in gehoorsaamheid te doen wat U van ons verwag. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek