God se Woord in vandag se woorde

Die Vegklub


Ons het nou ’n paar keer stilgestaan by vers 22. Paulus wys vir ons die pad deur te sê dat ons ons bes moet doen om die verkeerde dinge van die lewe uit te los. Soveel strikke word elke dag vir ons gestel en kom ons wees nou maar eerlik – dit is nie altyd maklik om hulle mis te trap nie.

Daarom moet ons bewustelik die goeie dinge najaag. Ons moet opreg wees in wat ons doen. Ons geloof moet stewig geanker wees. Die liefde moet in alles wat ons dink, doen en sê sigbaar wees en orals waar ons kom, moet ons vrede bewaar en agterlaat.

Dit klink so mooi. Maar tog weet ons dat dit nie so maklik is nie, want die lewe gebeur daar buite. Ongelukke kom oor ons pad aangehol. Dis eenvoudig net te vinnig om eers briek te trap. Mense kom in en trap op ons harte en stap weer uit. Ons geldsomme werk ook nie altyd uit nie. Die werk vat meer as sy pond vleis en verhoudings bly maar ’n uitdaging.

Dit raak ’n gestoei om kop bo water te hou en aan die lewe te bly. Dis moeilik om in sulke omstandighede opreg te wees. ’n Mens se geloof glip maklik en jy wonder waar jou hulp vandaan kom. Liefde is nie noodwendig die eerste keuse nie en vrede bly soek.

Dis moeilik man.

Ons moet besef dat ons dit nie op ons eie kan doen nie. Ons is eenvoudig net te lig in die broek. Daarom sluit Paulus die vers af met die volgende: 22… werk saam met almal wat in ’n opregte verhouding met die Here staan.

Na die Julie-vakansie word die mooiste diere foto’s en video’s ge-post. Dis wonderlik om te sien hoe die dinge in die diereryk werk. Dit is veral fassinerend om te sien hoe troppe diere in tye van krisisse mekaar sal bystaan. So byvoorbeeld sal ’n wildebees ’n leeu bestorm wat sy maat vir middagete in die oog het.

Een video wys ’n klein olifantjie wat vasgeval het in die modder. Die hele trop olifante het later ’n beskermingslaer om die kleintjie getrek terwyl ’n paar ander die olifantjie probeer uitstoot.

Op hul eie sal hulle dit nie maak nie, maar saam kan hulle selfs die aanval van ’n leeu die nek inslaan.

Net so op ons eie is die kans maar skraal dat ons die regte keuses sal maak. Ons het ander mense nodig. Ons het ander mede-Christene nodig om ons te help teen die aanvalle.

Ek is so dankbaar dat een van my tjommies besef het dat ons mekaar nodig het. Hy het ’n groepie begin wat elke Vrydagoggend voor werk bymekaar kom. By die groepie vra ons mekaar eintlik net een vraag: Het jy die afgelope week binne die wil van God geloop?

By die groepie kan ons eerlik wees. Ons kan mekaar bemoedig en help om teen die krisisse van die lewe op te staan. Ons kan mekaar lei om die regte dinge te doen en die verkeerde vir eers te systap.

Die groepie van ons se naam is Vegklub, want saam kan ons die wêreld aanvat en heel aan die anderkant uitkom.

Moenie die wêreld op jou eie probeer takel nie. Kry vir jou mede-Christene met wie jy hande kan vat. Vra vir God om jou te wys saam met wie jy ’n pad moet stap, want saam kan julle oorwin.

Teks
2 Tim 2:20-26

Om oor na te dink
Saam met wie kan jy teen die verkeerde veg?
Kry jy die voorskrifte reg?
Wie kan jou help?

Gebed
Vader, dankie vir die riglyne. Ek erken dat ek soms sukkel. Ek besef ek kan dit nie op my eie doen nie. Wys my die mense uit met wie U wil hê ek moet ’n pad stap. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek