God se Woord in vandag se woorde

Die verlossing is so groot


Daar is geen ander pad na die hemel as deur Jesus nie. So eenvoudig soos dit. Al doen ek net goed in my lewe en geen verkeerde nie (en ek vermoed so iemand moet nog gebore word), sal die hekke van die hemel nog steeds toe bly.

Die enigste manier waarop ek en jy die Ewige Lewe kan beërwe en vry die hemel kan instap, het niks met ons te doen nie. Dit is slegs op grond van Jesus, wat mos God en Here is, se reddingsdaad aan die kruis.

Dis nie lekker om te sê nie, maar as jy nie vir Jesus as jou verlosser aangeneem het nie, as jy Hom nie as die Koning van jou lewe aanbid nie, is dit jammer, maar dan is die hemel vir jou toe.

Dit is so sleg om te weet dat daar geliefdes om ons is, wat eenvoudig te hardekop is om die eenvoudige boodskap in hulle lewens waar te maak. Sommige is eenvoudig net te hardekwas om ruimte te maak vir Jesus in hulle lewens. Ek wonder darem hoekom?

3As dit so was, watter kans het ons dan om los te kom as ons die wonderlike verlossing ignoreer wat Jesus bring? Die Here het self begin om mense te vertel hoe hulle weer by God kan uitkom. Mense wat Hom hierdie dinge hoor sê het, het dit weer vir ons kom vertel. Daarom weet ons dit is waar.

Hierdie verlossing van sonde is vir seker wonderlik of soos die Griekse woord tay-lik-oo’-tos, wat in Engels vertaal word met great. Barnes (e-sword) sê dit is great, want die outeur is great. Jesus en God is wonderlik en uit hulle liefde vir die mens word daar ’n bobaas verlossingsplan in mekaar geweef.

Die verlossing is vir seker great, want dit verlos ons van ons pak sonde! Weet jy hoe pap sonde ’n mens kan druk? Dit neem al die genot uit die lewe en trek net ’n klomp amps.

Die verlossing is wonderlik en groot, want dit red ons van die ewige verderf. Ons ken die storie. Die straf wat ons verdien met die bokse vol sonde waarmee ons sit, is ver van God se teenwoordigheid – die hel. Dit is juis van die hierdie benarde situasie wat ons gered word.

Die verlossing is so groot omdat dit bewerkstellig is deur die oneindige vertoon van krag, wysheid en liefde. Die almagtige God het mens geword. Hoe groot is dit nie? Maar in die proses moes Hy verneder en verloën word. Hy moes ly en op die ou end soos ’n moordenaar aan ’n kruis sterf.

Die verlossing is so groot, want Jesus moes deur die dood gaan, maar gelukkig was die dood nie sterk genoeg nie. Die dood kon Hom nie onder hou nie en Jesus het as die oorwinnaar aan die ander kant uitgestap. Hoe groot is dit nie?

Wat mis die mense nie alles uit wat nie in Jesus glo nie?

Mag ons lewens elke dag van die groot verlossingsdaad van Jesus vertel. Mag mense omdraai omdat hulle ons geloof in die wonderlike verlossingsdaad van Jesus sien. Mag God se Gees ons so help lewe.

Teks
Hebreërs 2:1-4

Om oor na te dink
Hoe groot is Jesus se verlossingsdaad vir jou?
Leef jy dit?
Sien ander dit raak?

Gebed
Here Jesus, as U nie vir my kom sterf het nie, sou die lewe sonder enige hoop gewees het. Hoe angswekkend om te dink ek sou elke dag met my sondelas moes loop, wat net al hoe groter word, en nooit, ooit kon uitsien na ‘n ewigheid by U nie. Help my om onbeskaamd hiervan te getuig. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek