Die vrugte van ’n intieme verhouding met God
Kom ons staan weer ’n rukkie stil by ons verhouding met God. Ons moet doelbewus streef na ’n intieme verhouding met God. Dit is slegs binne so ’n intieme verhouding met God waar ek en jy werklik kan groei, waar ons kan leer en meer soos Jesus word.
In ’n intieme verhouding met God 10… kry julle weer by Hom alles wat julle op geestelike gebied nodig mag hê. Hy sorg dat julle niks kortkom nie. Hy is mos die Een wat mag uitoefen oor alle magte, ook oor die geestelike magte.
Alles wat ons op geestelike vlak nodig het, is by Jesus Christus beskikbaar. Hy is in beheer van alle geestelike magte en Hy sal sorg dat ons niks kortkom nie. Christus sal ons help om die regte besluite te neem. Hy sal ons help sodat ons nie in verkeerde paaie afdraai nie en so vir ons ’n klomp gestoeiery spaar.
Ek onthou van ’n vorige koppe stamp met my vrou jare gelede.
Ek was nog in die besigheidswêreld en het hard gewerk. Ek was ’n week uitstedig vir sake. Ek stap die Vrydagaand moeg by die huis in, maar baie opgewonde om weer by die huis te wees. Ek sien uit na ’n rustige tyd waar ons as gesin kan saamwees en net lekker sports kan hê.
Maar met die intrapslag verstaan ek en my vrou mekaar verkeerd. En kyk, wanneer ’n mens mos soos ’n Lister-enjin op loop is, gaan haal ’n mens mos al die goed wat jou pla uit die verlede op. En gou is die atmosfeer dikker as wat enige een kan of wil hanteer. Die hele Saterdag is in sy kanon en niemand is lus vir iets nie. Aan die einde van die dag besef ek dat daar net een wenner is: Die vyand!
Ai, hoekom laat ons toe dat ons geluk so gesteel word?
Een van die groot redes hoekom ons verval in gevegte met mekaar, is omdat ons vir ’n oomblik effens wegbeur van God se leiding. Die selfsugtige ek neem oor.
Ja, Jesus het klaar al die magte oorwin, maar as ons nie naby aan Hom beweeg nie, hoor ons nie hoe Hy ons lei nie. Dan moet ons alleen opstaan en ons is beslis te swak om die vyand te oorwin. Net soos ek en my vrou in die strik getrap het en ’n hele naweek van saamwees opgefoeter het.
Lees weer vers 10. Die voorwaarde is om in ’n hegte verhouding met Hom te staan. Wanneer daar iets fout gaan, soek ons die oorsaak telkemale op verkeerde plekke, gewoonlik nie by onsself nie. Wanneer ons egter in ’n intieme verhouding met God staan, sal ons sensitief wees vir sy stem en gespaar word om in sulke onnodige situasies te beland wat al ons vreugde steel.
Soek vir God en roep Hom aan. Maak moeite met jou verhouding. Bring baie tyd met God deur sodat daar ’n intieme verhouding tussen julle kan ontstaan waar jy vir seker niks sal kortkom nie.
Teks
Om oor na te dink
Waar kort jy iets?
Waar sukkel jy?
Hoe intiem is jou verhouding met God?
Gebed
Here, ons het U nodig! Sonder U maak ons so droog. U is die een met al die wysheid. Ek wil meer tyd met U deurbring sodat ek U stem kan hoor en weet hoe om die regte pad te stap. Amen.