God se Woord in vandag se woorde

Die wet is goed – dit maak vry


Ek kry ’n WhatsApp boodskap van ’n vriend:

Ek werk deur Loop en Val. Gisteraand lees ek Romeine 3:21-31 en toe maak jy vir my iets duidelik. Jy sien, ek het bietjie gesukkel met hoe ‘n mens die genade boodskap versoen met die wet en watter rol die wet nog vandag speel. Ek verstaan nou beter. Ek het grootgeword met die wet as ’n swaard oor my kop. Dankie.

Ek wonder hoekom mense dit doen. Hoekom laat hang mense die wet van God soos ’n swaard oor ons kop? Is dit omdat hulle bang is hulle kinders breek los? Is dit uit onkunde of is dit omdat die swaard nog heeltyd oor hulle koppe hang?

Dit is so verkeerd. Die wet is nie daar om ’n bal en klou aan ’n mens se voet vas te maak nie. Die wet is nie daar om iemand mee te dreig of bang te maak nie. En ek sien in my geestesoog hoe ’n kwaai omie of tannie met ’n brilletjie op die neus en ’n vingertjie in die lig al die stories bymekaarmaak oor wat alles met jou gaan gebeur as jy dit sou waag om een van die wette te breek.

8God se wet is goed, dit weet ons. ’n Mens moet dit net reg gebruik.

Die teenoorgestelde is ook waar: God se wet is nie goed as ons dit nie reg gebruik nie.

Kom ons vereenvoudig dit. ’n Mes is goed as jy dit gebruik om ’n lekker stuk vleis te sny, maar in die hand van ’n moordenaar is daardie mes gevaarlik. ’n Voertuig is goed om ons van punt A na punt B te neem, maar dit is lewensgevaarlik as ’n dronk bestuurder agter die stuur sit.

Dieselfde wet kan mense vry maak of deur vrees vasbind. As die wet gebruik word as straf wanneer mense oor die grense beur, raak mense bang, te bang om hulle voete by die deur uit te sit, want sê nou maar net …

Hoe moet ons dan vandag die wet gebruik? Eerstens moet ons weet dat Jesus nie die wet kom doodkrap het nie. Na Jesus se lewe op aarde is God se wet nog steeds in plek vir ons almal om na te volg.

Wat Jesus wel kom doen het, is om in my en jou plek die pak te vat vir die straf wat ons toekom omdat ons nie altyd die wette nakom nie. Ons kan seker sê dat Jesus die angel van die wet kom trek het. Die angel, of die dood wat ons verdien oor ons wettelose lewe kom nie meer in spel nie, omdat Jesus reeds daarvoor aan die kruis gesterf het.

Wanneer die straf en negatiewe impak van die wet nie meer in die prentjie is nie, verdwyn die vrees en kom spoel liefde in. Jesus het mos gesê dat die grootste gebod die liefde is.

As die wet van God met liefde geweek is, is dit ’n hulpmiddel, ’n kruk waarop ons kan steun om deur die lewe te kom. Dan raak dit ’n rigtingwyser en ’n helper om te keer dat ons nie oor die grense van die lewe foeter en onsself seermaak nie.

Die wet wil ons beskerm teen die swaar en die seer in die wêreld. Eintlik wil die wet van God ons juis vry maak. Die wet wil die slotte en kettings en bal en kloue afsaag sodat ons rêrig die lewe kan geniet, soos God dit bedoel het.

Teks

1 Timoteus 1:8-17

Dink bietjie hieroor

Hoe voel jy oor die wet?
Watter effek het die wet op jou manier van leef?
Is die wet vir jou ’n bate of ’n las?

Gebed

Vader, dankie vir U wet. Dankie dat dit my wil help, eerder as slaan. U wet is goed. Help my om vreugde te vind in U wet. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek