God se Woord in vandag se woorde

Dink mooi oor God se Woord


Mense vra dikwels vir my om die stukke wat ons uitstuur te verkort. Dan vra ek: “Hoekom?” “Dit neem te veel tyd om dit deur te lees.” Dan vra ek hoe lank neem dit vir jou om dit deur te lees? “Seker so vyf minute.” “Is dit al tyd wat jy vir God het in jou besige dag?” vra ek sag. Ek kry gewoonlik nie ’n antwoord nie.

As my vrou na my toe kom en sê die rekenaar het nou weer iets snaaks gedoen en haar werk is weg, is my reaksie altyd dieselfde: Garbage in. Garbage out. Wat jy insit, kry jy uit.

Dieselfde in ons verhouding met God. As ons só min insit, wat kan ons dan verwag?

Soveel mense vra my raad. Moet hulle aansoek doen vir ’n nuwe werk? Moet hulle die verhouding verbreek of nie? Gaan hulle hel toe as hulle seks voor die huwelik het? Wat is God se wil vir hulle lewe? En nog vele meer.

Dan vra ek: “Hoeveel tyd bring jy met God se Woord deur?” Ek kry gewoonlik ook nie hier ’n antwoord nie …

Ek vermoed ons lewens lyk soos dit lyk omdat ons eenvoudig net te min tyd met God se Woord deurbring. Hoe kan ons weet wat God se wil vir ons lewens is as ons nie elke dag ’n afspraak met Hom nakom nie?

Ek praat ook met myself.

Elke oggend staan ek vroeg op om stil te word. So dikwels kyk ek net gou na my  e-posse en hanteer dit “gou”. Of ek kyk net “vinnig” die nuus op ’n paar platforms. Soms glip ek vinnig by die bank in om te sien hoe staan die sake daar. As ek daarna vasval op die sosiale netwerke, is dit verby. As ek weer sien, is dit ontbyt en afsprake.

En my verhouding met God is nie ’n treetjie vorentoe nie. Inteendeel, dis eintlik agtertoe, want hoe minder energie ek in ’n verhouding sit, hoe groter is die kans dat dit oppervlakkig en kunsmatig word.

Enige verhouding groei deur middel van tyd en energie. Ook ons verhouding met God. Onthou, dis nie God wat anders moet raak in die verhouding nie, maar ons. Ons moet leer en verander. Ons geloof en vertroue moet opgebou word.

Daarom die opdrag: 7Dink mooi na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om dit alles reg te verstaan.

Dis eenvoudig: Lees die woorde in God se Woord. Lees die stories en leer. Lees die opdragte en doen. Lees die woorde oor en oor en laat toe dat dit jou denke, woorde en dade verander.

Dan is ons weer by Nike se slagspreuk: Just do it!

En saam met die opdrag die belofte: God sal Sy kant van die verhouding nakom. Hy sal jou help om dit wat jy lees, te verstaan. Hy sal die kennis van Sy Woord vir jou oopbreek. Hy sal jou help om dit deel te maak van jou wese. Hy sal jou die krag gee om dit te doen.

Jy kan by elke kruispad in jou lewe weet watter keuse om te maak as jy God se Woord deel maak van jou dag.

Teks
2 Tim 2:1-7

Om oor na te dink
Weet jy wat is God se wil vir jou lewe?
Bring jy genoeg tyd met God se Woord deur?
Wanneer gaan jy ’n plan maak?

Gebed
Vader, ek moet bely dat ek nie genoeg tyd vir U in my lewe maak nie. Ek weet dat ek nie genoeg van U wil vir my lewe weet nie. Ek smag daarna om meer tyd met U deur te bring. Help my om elke dag my afspraak met U na te kom. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek