God se Woord in vandag se woorde

Dink voor jy iets sê of doen


Ek kry ’n e-pos van ’n geestelike wat my voete onder my uitslaan. Hy sê dat ek arrogant is om met Kruispad so in sy voorkamer in te storm en dat hy nie daarvoor gevra het nie.

Ek is ontsteld, maar toe ek sien hul bediening se leuse is iets soos, “Ons gee om en maak ’n verskil”, toe verloor ek dit. Ek stuur toe ’n e-pos terug waarin ek hom inlig dat ek hom met graagte sal afhaal, maar ek verstaan nie hoe die kap van arrogansie in lyn kom met hul leuse nie. In die naskrif sê ek sommer dat hy ’n knorpot is.

Dit was ’n fout.

’n Vriend van my het lekker gelewe en seker alles gehad wat hy wou hê. Soos my Ma sou gesê het, vooraanstaande mense in die samelewing. Toe begin dinge verkeerd loop en op die ou end is hy en sy vrou uitmekaar en hulle het alles verloor. Ek sien nou die dag vir haar en net ’n tydjie daarna vir hom en ek skrik. Albei lyk sleg, sommer baie sleg.

Ek kry hulle jammer en ek kry die kinders baie jammer. Want hier is nêrens wenners te sien nie, maar net slegte verloorders. En later slaan dit my: die Bybel sê dat as twee mense trou, hulle een word.

Met ander woorde voordat jy getroud is, is jy half en in die huwelik word die twee halwes saamgesmelt tot een. Maar wanneer jy skei, is jy nie weer half nie. Nee, jy is vêr minder as half. Dalk hier rondom ’n kwart-mens, maar die redes om uit mekaar te gaan raak gou so groot dat jy genoeg skietgoed het om dit te regverdig.

Dit was ’n fout.

En so kan ons elkeen ons lysie foute hier neerskryf.

Ek bly wonder hoe ons kan keer dat die omstandighede waarin ons is ons help om verkeerde besluite te neem. En soos gewoonlik pop die antwoord uit die Bybel op. 6… Sê vir hulle om met wysheid op te tree.

Ja, wysheid is die antwoord. As ek die moeilike geestelike met wysheid hanteer het, my emosies eers op hok gekry het, sou daar nie ’n ligte e-pos storm gewees het nie. As my vriend en sy vrou ’n hoop wysheid op hulle huweliks-tafeltjie neergesit het, was daar nie nou kwart-mense wat rondgestap het nie. Nee, daar sou net wenners gewees het.

Toe Salomo enige iets in die wêreld kon kies, van verskriklik ryk tot al die aansien in die wêreld, kies hy wysheid. Hoe wys was dit nie?

Barnes (e-sword) breek die betekenis van wysheid in verstaanbare stukkies op:

Wysheid moedig ’n mens aan

    • om versigtig en strategies op te tree
    • in beheer te wees van passie en aptyt
    • versoekings te weerstaan
    • beheer te word deur geloof
    • denke in toom te hou
    • rustig wees in hul gedrag.

Dalk kan ons die reëltjies opsom met: Dink voor jy doen en sê. Dan sal ons minder foute maak.

Teks
Tit 2:6-8

Om oor na te dink
Waar maak jy foute?
Hoe dik loop jou wysheid?
Wat moet jy van nou af anders doen?

Gebed
Here, ek is so vinnig uit die blokke en meer as gereeld op pad in die verkeerde rigting. Soveel keer maak ek droog en doen ek skade aan U beeld. Ek wil dit regtig nie doen nie. Soos Paulus kan ek ook kliphard getuig dat dit wat ek wil doen, doen ek nie en dit wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. Wil U my nie asseblief met hierdie foutjie in my help nie? Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek