God se Woord in vandag se woorde

Direksiebrief 2019


Dit is ’n baie groot voorreg om as die direksie van Kruispad terugvoer te gee oor die afgelope jaar se bedrywighede.

Die Here gebruik Kruispad.com op verskeie platforms om God se woord in vandag se woorde te bedien. Ongeveer 165 000 mense word weekliks bereik.

Die hoogtepunte van die jaar was soos volg:

Renata het haar eerste boek, U Woord en ek, in Augustus bekendgestel. Die boek is baie goed ontvang en is reeds in sy tweede druk. Al 5 Kruispadboeke is beskikbaar by https://shop.247.org.za/ of by CUM boeke landswyd.

Een van die hoogtepunte is die nuwe leiersgids wat na ’n jaar se sweet en ontwerp uiteindelik die lig gesien het. Hieroor is ons as direksie verskriklik opgewonde. In kort werk dit as volg:

Elke week ontvang die jonger generasie hul daaglikse boodskap via WhatsApp. Wanneer hulle dan later in die week bymekaarkom, volg die leier die leiersgids op die App. Die gids neem die leier se hand en bied hom al die inligting wat hy of sy benodig vir die aanbieding van die kring of groep. Die handleiding bevat onder andere die volgende: ysbreker, gebed, Skrifgedeeltes, besprekingsvrae en interaktiewe vrae. Die interaktiewe module dui aan as die vrae verkeerd of korrek beantwoord word. Verder bevat die gids skakels na nog inligting oor die onderwerp, video’s en ’n plek om vrae terug te stuur.

Die leiersgids word vroeg volgende jaar op Roadtrip247 uitgerol en sal daarna ook op Kruispad se platforms beskikbaar wees.

Of Kruispad en Roadtrip247 se gebruikers by die kantoor, skool of kerk is of selfs onder ’n bos, hulle kan nou met die druk van ’n knoppie ’n volledige gids kry om ’n groep te lei om God se Woord in vandag se woorde deel van hulle wese te maak.

Dit is die eerste in die wêreld! Aan God kom al die eer toe!

René Badenhorst sluit Januarie 2020 by ons aan om ons by te staan met redigering en die samestelling van leiersgidse.

Ons bedank elke Kruispadleser uit die diepte van ons hart wat die Kruispadspan ondersteun deur middel van jul gebede, jul finansies, die aankoop van Gerjo Ben en Renata se boeke, persoonlike terugvoer en vele ander wyses. Dit maak dit vir hulle moontlik om getrou te fokus op dit waarvoor die Here hulle voltyds sedert 2012 geroep het.

1 Korintiërs 9:16 As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ‘n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!

Mag jy ’n geseënde rustyd beleef en mag die Here se teenwoordigheid en vrede deel van jou lewe wees.

Vriendelike groete

Gideon Hefer: Direksie Voorsitter

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek