Dis my God!
Ons staan stil by die vraag: Wie is God? Hoe leer ’n mens God ken?
Wanneer ’n mens na ’n skildery kyk, vertel dit vir jou ’n storie van die skilder. Sommige ouens ken skilders so goed dat hulle jou kan vertel in watter emosionele stadium hulle was of watter ouderdom die skilder was toe hy die betrokke skildery geskilder het.
Sonder dat ’n mens dit besef, gee jou handewerk ’n kykie in wie jy is – of anders gesê – jou handewerk vertel jou storie.
Net so wys God wie Hy is, hoe sy hart lyk, deur sy handewerk. Die slim mense sê dat God Hom op twee maniere aan ons bekend maak. Die een is die spesifieke openbaring – die Bybel. In die Bybel leer ons baie van God ken en kry ons baie inligting oor sy persoonlikheid en karakter.
Daar is egter ’n ander plek waar ons meer van God kan leer ken (hier praat die slim mense van die algemene openbaring) en dit is die natuur. God het alles gemaak. 16Net mooi alles, of dit nou in die hemel of op die aarde is, is deur Hom gemaak. Of jy dit kan sien of nie, of jy dink dit is sterk of nie, of jy daarvoor wil neerval en dit aanbid of nie, maak nie saak nie; alles is deur Hom gemaak.
Dis my God!
Soos wat jy die skilder en die skrynwerker kan leer ken deur hulle handewerk, só kan jy vir God leer ken deur sy handewerk. Kyk maar na die berg hier in die Kaap. Dis groot, dis sterk, dis majestueus. Kyk na die verskeidenheid van diere, hulle kleure, hulle bou, hulle spiere, hulle snaakse manier van doen. Kyk na die prag en praal van die bome, plante en blomme. Kyk na die sterk strome en branders. Kyk na die wind wat woes ruk-en-pluk of saggies suis. Kyk na die druppels wat sommerso uit die lug val. Kyk na die kragte wat ons op die aarde vashou en wat die sonnestelsels in hulle wentelbane hou.
Dis my God!
God het alles gemaak. Sien jy ook die prentjie van ’n almagtige, groot, sterk, majestueuse, kleurvolle, soms snaakse, woeste, sagte, bo-menslik slim, kreatiewe en nog vele meer God? God is só groot dat ek Hom nie ten volle in my brein kan inpas nie. Ja, God is groter as die prentjie wat ek van Hom het.
Dis my God!
En God is só groot dat Hy Homself vir my kom gee. My God is só lief vir my, Hy is só bekommerd oor my wat nie vanself by Hom kan uitkom nie, dat Hy bereid was om sy eie Seun aan ’n kruis te laat sterf. God loop oor van liefde vir my en jou.
Dis my God!
Dis ons God!
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Hoe groot is jou God?
Sien jy God om jou?
Ken jy vir God?
Gebed
As ek so teen die berge kyk, staan daar geskrywe: God! As ek so oor die vlaktes kyk, staan daar geskrywe: God! As ek so oor die golwende see kyk, staan daar geskrywe: God! Loof Hom! Loof Hom! Loof God! Amen.