God se Woord in vandag se woorde

Dis oorlog


Deesdae kan ’n mens ’n goeie idee kry van wat werk en wat werk nie. ’n Mens kan selfs sien hoe vêr trek die Kruispadstukke byvoorbeeld op Facebook deur die aantal likes en shares.

Boodskappe wat ander moed inpraat en hoop gee vir dié wat swaar trek, word maklik gedeel. Maar ander trek nie so vêr nie. Dis asof mense nie eintlik boodskappe wil hoor wat aanpraat en leiding gee nie.

En tog kan ’n mens nie net sekere boodskappe in God se Woord oorvertel en tjoepstil bly oor die ander nie. Dis dan asof ’n mens sommige blaaie uit die Bybel skeur.

Een so ’n boodskap is dat swaarkry om een of ander hoek vir God se kinders wag. Dit wil ons eintlik nie hoor nie. Daarom soms die stilswye daaroor.

Daarom, sonder om doekies om te draai: 3Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus. (1983-vertaling) Die Griekse woord vir ontberings is kak-op-ath-eh’-o en om net te kyk na die woord kan ’n mens sien hier is nie lekker tye op pad nie. Die woord kan ook vertaal word met swaarkry, to undergo hardship en suffer trouble. Bloot die feit dat ons die titel van soldaat ontvang, veronderstel ’n oorlog.

Ons is gelukkig om vandag in ’n land te woon waar ons nie in lewensgevaar is omdat ons in God glo nie. Daar is wel ander lande waar mense se koppe afgekap word omdat hulle in Jesus Christus as hulle Verlosser glo.

Eintlik woon ons heel lekker en rustig, maar die probleem is dat ons blasé raak. Ons vergeet van die oorlog wat aan die gang is. Ons staan nie meer op vir waarin ons glo nie en alles word afgewater. Wie wil in ieder geval nou na die oorlog gaan terwyl ons rustig op die strand in die son kan lê!

Iemand gaan my dalk kruisig as ek die volgende sê, maar ek dink dat OGOG (die organisasie wat godsdiens uit die skole wil haal) nie net sleg is nie. Jy sien, ewe skielik moet die Christene weer opstaan vir hulle regte. Ons moet weer gaan veg vir ons reg om ons kinders ’n Christelike opvoeding te gee. Nou kan ons die stof van die Bybels gaan afblaas en seker maak dat God se Woord weer gelees en toegepas word.

Kyk maar na die kommunistiese lande. Hoeveel groei was daar nie in die kerke toe die Christelike geloof onder druk was nie? Wanneer die oorlog opvlam, word mense gedwing om erns te maak en moet hulle besluit of hulle ernstig genoeg is om op te staan vir dit waarin hulle glo. Is hulle ernstig genoeg oor hulle geloof om oorlog toe te gaan en daarvoor te veg?

Vra jouself bietjie die vraag: Is ek bereid om vir my geloof in God swaar te kry? Is ek bereid om te sterf vir my geloof? Is ek bereid dat my kind of my eggenoot moet sterf vir my geloof in my God?

Ek is dankbaar dat sulke vrae nie regtig aan my gevra word nie. Daarvoor kan ons almal vir God dankie sê vir die hoop genade wat ons ontvang.

Ons moet egter nie toelaat dat die omstandighede waarin ons nou is, ons blasé maak en dat ons aan die slaap gevang word nie. Kom ons maak erns met ons geloof. Kom ons berei ons voor vir die oorlog. Kom ons sorg dat ons geloof sterk genoeg is om ons pakkie swaar te dra wanneer dit om die draai aangerol kom.

Teks
2 Tim 2:1-7

Om oor na te dink
Is daar oorlog by jou?
Is jy voorbereid?
Sal jy dit maak?

Gebed
Here, ek wil graag sterk genoeg wees om die aanslae van die vyand teen te staan tydens geestelike oorlogvoering. Help my asseblief om nooit te huiwer om in moeilike tye steeds vas te hou aan my geloof in U nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek