God se Woord in vandag se woorde

Is dit vir God lekker?


Efesiërs  5:1-5

Ek soek nou die dag na Casper se program op CliffCentral. Ek wou na iemand op sy show luister. Nog voor die begin kom daar ’n vrouestem op en sê die volgende: If you are sensitive to topics like science or religion, we cordially invite you to f*off. 

Sjoe, dit sny dwarsdeur my. Hoekom moet ons vloek om snaaks te wees?

Paulus kom sit ’n stopbord voor: 4Oppas wat julle sê. Moenie lelik praat, vuil stories of skurwe grappe vertel nie. Dit pas nie by ’n Christen nie. Praat liewer só dat dit vir God aangenaam is om te hoor.

Want die gevolg: 5Hiervan kan julle seker wees: as iemand onsedelik of vuil leef, of so graag ryk wil word dat hy van geld ’n afgod maak, is daar nie vir hom plek in die nuwe wêreld van Christus en van God nie.

Ja, God is ’n genadige God en die Bybel sê mos as ons ons sondes bely, is Hy getrou en regverdig om ons alles te vergewe. Ek wonder net altyd of God nie gaan moeg word vir ons as ons weet dat ons nie binne Sy wil optree nie, maar steeds voortgaan om die verkeerde te doen. Dis dalk die verkeerde vraag, maar ek gaan nie wag vir ’n antwoord nie: Is daar ’n plek waar die genade eenvoudig net opraak?

In my kinderdae het my ma ons altyd gewaarsku om versigtig te wees. Maar dan het ons nie ore nie. Ons het soveel fun dat ons net nie aandag gee aan die waarskuwings nie.

So het my ma ons altyd gewaarsku om nie op die garage se dak te speel nie. Maar ai, watter lekker plek was dit nie om met ons swaarde teen mekaar te veg nie. Eendag het my broer een tree te veel teruggegee en van die dak afgeval. ’n Ry steke in die kop was die gevolg. Dit kon baie erger gewees het.

Dit is soos om op ’n gladde stoep te speel. Een of ander tyd gaan jy jou alie afval.

Daar is niks fout met grappe nie, inteendeel, God wil hê ons moet lag en fun hê. Daar is ook niks fout met geld en om baie daarvan te hê nie. Ons moet dit net binne God se wil gebruik. As geld jou baas raak, as jy ten koste van verhoudings, jou familie, jou kinders geld najaag, maak jy droog. As dit vir jou meer gaan oor die huis waarin jy bly, die kar wat jy ry en die skool waarin jou kinders is en minder oor die mens, dan blaf jy teen verkeerde deur.

Miskien moet ons ’n vraag uit vers 4 saamstel en elke keer onsself daarmee konfronteer: Is dit wat ek nou gedoen het, is dit wat ek nou gesê het, aanneemlik vir God? Val dit lekker op God se oor? Is dit vir Hom ’n lekker prentjie om die dinge wat ek doen, te sien?

Paulus wil nie kettings en balle aan ons voete kom sit nie. Hy wil ons nie beperk met ’n klomp reëls en regulasies nie. Eintlik wil hy ons beskerm en help om vry te bly, want sien, dinge soos vuil grappe en die skewe gebruik van geld begin ’n houvas op jou kry. Dit is juis dit wat jou vasgryp en jou vryheid steel. Dalk maak dit nie nou vir jou sin nie, maar gaan sit ’n bietjie stil en vra jouself die vraag: Wat neem die meeste van jou tyd op? Wat jaag jy na? Wie dien jy?

Dalk moet ons iemand vra om ’n eerlike opinie te gee van hoe hulle ons lewe ervaar. Miskien moet ons hulle een vraag laat antwoord: Dink jy dis lekker vir God om te sien hoe ek hier op aarde leef?

Om oor na te dink

Hoe praat jy?

Hoe leef jy?

Is dit vir God lekker om jou te sien?

Gebed

Vader, soms is daar tye wanneer ek nie binne U wil leef nie, ek weet dit. Ek is jammer daaroor. Ek is jammer dat ek soms selfs weet dat ek nie reg lewe nie en dit dan steeds doen. Help my om nie daarmee aan te gaan nie. Ek wil juis ’n lewe leef waar U geëer word, sodat dit lekker is vir U om my raak te sien. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek