God se Woord in vandag se woorde

Domino’s wat omval of nie


Ek verkyk my altyd aan die mense wat ure lank domino’s op ’n sekere manier langs mekaar uitpak, sodat wanneer hulle die eerste domino omtik, dit op die volgende domino val. ’n Kettingreaksie skop in werking wat op die ou end al die domino’s wat uitgepak is, omdop.

Mense pak dae aaneen derduisende domino’s net om binne ’n paar minute omgedop te word. Die hele kettingreaksie word veroorsaak deur die eerste een wat iemand moet omstamp.

Dit is dalk baie simplisties gestel, maar dit is hoe ek God, die skepping en die mense ook sien. God het lank beplan aan die mens en die hele wêreld en alles gereed gekry vir daardie eerste dag toe Hy die mens sy eerste asem gegee het. Dis die eerste domino wat omgetik word en so het die hele mensdom sy eerste tree gegee.

God is die een wat alles begin het. Maar net so gaan Hy ook die een wees wat die hele proses gaan stop. Op ’n dag, en ons weet nie wanneer dit gaan wees nie, gaan Hy ’n stokkie insteek en keer dat ’n domino die volgende een laat omval. Die hele proses gaan meteens stop.

14… totdat ons Here Jesus Christus weer kom. 15Dit sal gebeur wanneer God dink dat dit tyd daarvoor is. Dan sal Hy sorg dat dit gebeur. Hy is mos ons wonderlike en enigste Heerser. Hy regeer oor almal wat in hierdie wêreld regeer en Hy heers oor almal wat in die wêreld heers.

God het die proses begin en dit is Hy wat dit weer sal stop. Tog hoef ons nie bang te wees hiervoor nie, want die Een wat moet besluit wanneer dit gaan wees, is God wat oorloop van liefde en baie omgee vir ons elkeen. God sit en wag nie vir ’n tyd waar Hy ons gaan uitvang nie. Nee, dis juis die teenoorgestelde. God wil hê dat soveel as moontlik mense na Hom toe moet kom.

Dit is goed dat ons net weer hoor wie ons God is. Hy is die enigste Heerser. Daar is niemand soos Hy nie. Daar is niemand bo Hom nie. Daar is geen ander heerser wat naby Hom kom nie.

In die wêreld baklei leiers oor wie die grootste en sterkste is. Die Amerikaners sê dis hulle. China sê hulle het weer die grootste invloed omdat hulle die grootste vervaardiger in die wêreld is. En hier aan hulle hakskene kom blaf Noord-Korea omdat hulle sê dat hulle die grootste bomme het.

Maar eintlik is hulle nie ’n fraksie teen die Een wat die oorsprong van alles is nie. Dis Hy wat hulle geskape het. Iemand heers oor die heersers van die wêreld en dit is ons God, die Almagtige, geseënde God.

God is die enigste Heerser. Hy is die Koning van al die konings en die Here van al die heersers. Enige oomblik kan Hy ’n stokkie voor die ander heerser se domino’s steek en keer dat hulle verder heers.

Alle kragte kom van Hom af. Jy sien, dis Hy wat die energie insit om die eerste domino om te kantel. As Hy nie besluit het om die eerste een om te tik nie, sou almal nog regop gestaan het.

Maak seker dat jou beeld van God in lyn is met die ware prentjie. Gee Hom die eer deur as Koningskind te lewe.

Teks
1 Timoteus 6:11-16

Om oor na te dink
Hoe lyk jou beeld van God?
Moet jy dalk anders oor Hom begin dink?
Leef jy soos Koningskind?

Gebed
Here, U is die begin en die einde van alles. Die Alfa en die Omega. Ek weet dat as U ook die begin en einde van my lewe is, hoef ek vir niks te vrees nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek