Doom nie nodig nie
Dit ontstel my as manne van God mors. Hulle sê en doen wat hulle wil en dis asof die mense, sonder om te dink, blindelings agter hulle aanloop. Hulle boodskap is heeltemal van die waarheid gestroop.
Soos die pastoor wat mense met die insekdoder, Doom, in die gesig gespuit het om die demone te verjaag. En ja, ons almal het gelag vir die grappies, soos die een ou wat sê hy wonder of die ou ’n ware Doom–e-nie is.
Ja, eintlik is dit lagwekkend. Nee, meer belaglik, want dit is so vêr van die waarheid. Dit is so vêr van die eenvoudige middelpunt van God se boodskap. God het nie shows nodig om mense na Hom te trek nie. God hoef nie vir die verkeerde redes die opskrifte van die koerante en nuusbulletins te haal nie.
God het klaar sy ding vir die mens gedoen, maar dis asof ons dink dis nie genoeg nie. Daarom vang mense sulke belaglike goed soos die Doom Pastoor aan. Ai, hoe dom kan die mens-dom (no pun intended, maar tog wil dit na dié storie sin maak…) wees nie? Hoekom moet ons altyd ’n stertjie aanlas om die boodskap meer verstaanbaar te maak?
Die boodskap is eenvoudig: 10… Jesus is God se eie Seun. God self het Hom uit die dood laat opstaan. Net Jesus kan ons red van die oordeel van God op die laaste dag.
That’s it! Dis nie nodig om gifkannetjies uit te haal om demone uit te dryf nie. Dis nie nodig om enige groot kerkgeboue op te rig met groot speakers, skerms en ligte wat flits nie. Net die eenvoudige waarheid. God het Jesus, sy eie seun, uit die dood opgewek met een doel: Sodat jy nie self hoef te betaal vir jou sonde nie. Die straf vir die sonde (wat mos die dood is) wat jy eintlik self moes dra, het Jesus namens jou kom dra.
Jesus is dood in jou plek. Die straf vir jou sondes is klaar gedra en die hofsaak is afgehandel. Niks kan meer teen jou naam staan nie.
Jy hoef nie bang te wees vir die dag wanneer jy jou voete in die hemel sit nie. Jou maag hoef nie draaie te maak vir die hofsaak wat voorlê nie, want wat ookal daar gesê word – en ek vermoed dit is vir ons almal dieselfde: Jy is skuldig – gaan nie meer saak maak nie. Die skuld vir die skuldoplegging is klaar betaal.
Dit lyk vir my asof hierdie boodskap te eenvoudig is en nou moet die kerk die pap dikker maak sodat die mense dit kan glo. Dit laat dink my aan my vriendin se pa wat ’n baie gesaghebbende boek geskryf het. Dit was nie ’n baie dik boek nie en hy het gedink dat R50 per kopie genoeg is. Hy het egter nie een boek verkoop nie.
’n Vriend beveel hom toe aan om die prys aansienlik te lig. Hy het die prys drie keer meer gemaak. Binne ’n kort tydjie was al sy boeke uitverkoop. Mense koppel die waarde van iets aan die koste daarvan.
Nou die vraag: Is die koste van ons God se seun se lewe dan nie genoeg vir ons nie? Blykbaar nie. Daarom dat ouens mal dinge doen soos om Doom in ander se gesigte te spuit.
Moenie agter die dwase aanloop nie. 10… Jesus is God se eie Seun. God self het Hom uit die dood laat opstaan. Net Jesus kan ons red van die oordeel van God op die laaste dag.
Dit is oorgenoeg!
Om oor na te dink
Is God se boodskap vir jou genoeg?
Glo jy dit?
Leef jy dit?
Gebed
Vader, ons is jammer dat ons U boodskap soveel swaarder maak as wat dit nodig is. Dankie vir U liefde en omgee vir ons. Dankie vir U seun wat in ons plek gesterf het en die pak vir ons sondes gedra het. Help ons om dit uit te leef sodat ander ook die eenvoud van verlossing kan ervaar. Amen.