God se Woord in vandag se woorde

Dors!


My kinders loop hier rond met rooi hakskeentjies. Die een wat in die Kaap studeer, kan nie wag dat die klok 14:00 slaan nie, want dan kan sy in haar kar spring en huis toe jaag, want sien, die vriendjie bly net hier om die draai. Heel naweek kuier hulle oor-en-weer.

Soms, so deur die geselsery, hoor ek hulle lyne het nog êrens deur die week ook gekruis …

Die ander dogter het nie die afstand aan haar kant nie. Vrystaat is vêr. Maar dit pla hulle nie, want vir ure gesels hulle op Facetime en WhatsApp. En as ek weer sien, stap hy by die voordeur in. “Met die bus gekom, Oom.” Al is dit net vir ’n nag of twee …

Ek onthou nog daardie dae. Die dae toe ek pas vir Renata ontmoet het. Kyk nè, jy maak mos enige planne om by mekaar uit te kom. Daar is iets hier binne jou wat net nie genoeg kry nie. Dis iets onversadigbaar. Al was jy heeldag in mekaar se geselskap, wil jy net nóg ’n bietjie langer kuier.

Ek vermoed dit is daardie selfde smagting wat Dawid gehad het om net in God se teenwoordigheid te kom. Psalm 42:2 Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn? En weer in Psalm 63:2 Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ‘n dor en droë land, ‘n land sonder water.

Ek sien ’n prentjie van ’n mens wat dae lank in ’n woestyn ronddwaal, met geen water nie. Al waaraan daardie persoon kan dink, is water. Elke sekonde van die dag smag hy net na ’n paar druppels water. As hy deur die mis wakker word, is die eerste ding waaraan hy dink, water. Hy roep dit uit. Hy skree na die hemel: “O, God! Gee my water!”

So smag Dawid na God. So moet ons ook smag na God en tog doen ons dit nie. Ons is heeltemal te besig. Ons is te besig om kop bo water te hou. Ons is so in onsself gekeer, dat God net-net op die rand van ons lewe inpas. Eintlik het ons nie tyd vir onsself nie. En vir stil raak om by God te kom, nog minder.

Ek verlang na die begin-dae toe ek en Renata nie genoeg van mekaar kon kry nie. Ek verlang na die onophoudelike gesels en gekuier. Deesdae aanvaar ek alles so vanselfsprekend. Dit veroorsaak dat ek nie genoeg spesiale oomblikke skep om net op haar gefokus te wees nie.

Tog besef ek dat besig wees ’n stokkie hier kom insteek het. Ons het so gewoond geraak aan mekaar dat ons nie meer besef wat ons het nie. Ons het toegelaat dat die besige lewe tussen ons ingedruk het en dat ander dinge meer belangrik geword het as alleen-tyd met mekaar. En so word ons van spesiale oomblikke ontneem.

Dit kan omgedraai word. Ons kan weer smag na mekaar, as ons ons prioriteite weer herorganiseer. Ons kan weer na mekaar hunker as ons die besige goeters wat die wêreld kom staan maak het, een vir een afbreek.

En só ook met God. Ons is nog God se eerste liefde. Hy hunker na ons. Hy wil graag soveel meer tyd saam met ons spandeer. Hy dors na ons. Maar die mure wat ons opgerig het, bring skeiding.

Kom ons breek bewustelik die mure af. Kom ons maak ’n punt daarvan om weer by God uit te kom en na Hom te dors en te hunker, want dan sal ons minder aan die wêreld vasgekleef wees. Dan sal ons hunker na Hom en nie meer kan wag vir die dag as Jesus weer kom nie: 13Daarom sien ons baie uit na daardie wonderlike dag wanneer ons wonderlike God en Verlosser, Jesus Christus, terugkom. Ons kan nie meer wag dat dit moet aanbreek nie!

Teks
Tit 2:11-14

Om oor na te dink
Dors jy regtig na God?
Kan jy nie wag vir Hom om weer te kom nie?
Wat kan jy doen om weer jou eerste liefde vir God te herstel?

Gebed
Here, as ek dink aan wanneer U weer kom, raak ek bang. Ek is nog so vas aan hierdie wêreld. Herstel tog my eerste liefde vir U. Daardie liefde waar alles rondom U draai, en die res minder belangrik is. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek