Druk die pause knoppie
‘n Nuwe jaar, ‘n nuwe dekade met ‘n hoop nuwe geleenthede. Mag God elke tree in 2020 saam met jou stap.
Ons moet ons bak skoon kry deur eerstens die verkeerde dade uit te haal. Dan moet ons die bak mooi en blink poets, sodat dit aantreklik lyk om gebruik te word. Hier is ’n hele paar voorstelle om dit reg te kry: 22… streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ‘n rein hart die Here aanroep.
Die eerste voorstel is dat ons opregtheid, of soos die oorspronklike vertaling sê, geregtigheid, moet laat seëvier. Die kernwoord is “reg”. Ons moet reg lewe teenoor God. Ons verhouding met God moet reg wees.
Daar moet geen paddas in die pyp wees nie. Ons ken die verskil tussen reg en verkeerd. Jy sien, as ons verhouding met God reg is, help God ons juis om ook op al die ander vlakke van ons lewe die regte dinge te doen.
Dan kan ons kyk na ons verhouding met die mense rondom ons. Ons moet die regte dinge doen om seker te maak dat die verhouding met die mense naby ons reg is. Wees opreg in alles wat jy doen. Doen dinge uit liefde. Haal die eie ek uit die prentjie en kyk waar jy vir ander tot hulp kan wees.
Dit is soms makliker gesê as gedaan. Inteendeel, eintlik spring die teenoorgestelde altyd eerste op. Dit verg dikwels selfdissipline om nie die verkeerde te doen nie.
Terwyl ek wonder hoe ’n mens “beter” kan doen in die afdeling om te keer dat die verkeerde deurglip, kom Jesus se prentjie by my op. Jesus was die toonbeeld van geregtigheid. Hy het alles reg gedoen.
Sy verhouding met God was reg. Hy was die heeltyd ingestel op God. Hy het altyd gedoen wat reg was in God se oë en elke tree binne Sy wil gestap.
Sy verhouding was reg met Homself. Hy het geweet wie Hy was. Hy het geweet wat Hy op die aarde moes kom doen. Sy selfbeeld was reg. Alles was net reg.
Sy verhouding was reg met die mense rondom Hom. Sy hart het gebloei vir die mense wat swaarkry en Hy kon Homself nie keer om wonderwerke te doen sodat ander se nood verlig kon word nie.
Watter beter leermeester is daar nie vir ons om reg te lewe nie! Jesus was die volmaakte voorbeeld van hoe om reg te leef.
Ek vermoed ons moet so bietjie stadiger deur die lewe beweeg. Ons moet leer om die pause knoppie te druk. Ons moet die knoppie druk elke keer voordat ons ’n besluit neem, hoe klein ookal. Dan moet ons vra: Hoe sou Jesus dit gesê het? Wat sou Jesus hier gedoen het? Met watter oë sou Hy gekyk het?
Op ’n manier wonder ek steeds hoe ek dit gaan regkry, want ek besef my eie tekortkominge. Daarom kan ek net vra dat die Heilige Gees ons sal help om reg te lewe en deur dit te doen, ons bakke blink poleer, want dan sal dit lekker wees vir God om ons te gebruik.
Teks
2 Tim 2:20-26
Om oor na te dink
Waar ontbreek “reg” in jou lewe?
Hoe moet jy anders maak?
Streef jy na opregtheid, geloof, liefde en vrede …?
Gebed
Vader, dis nie altyd vir my maklik om te doen wat reg is nie. Ek probeer, maar ag, ek faal so gou. Op my eie kan ek dit nie doen nie. Ek maak staat op die hulp van my Helper, U Heilige Gees. Amen.