God se Woord in vandag se woorde

Druk net die share knoppie


My mond hang oop as ek kyk na die groei van kruispad.com bediening. Dis meer as ’n handvol tienduisende en daarvoor gee ons aan God die eer. Ek onthou nog hoe ek aan die begin ervaar het dat die Here my lei om die stukke wat ek so skryf, reg te trek en aan ’n klompie mense in my kontaklys te stuur.

Ek het dit eers naamloos gedoen, omdat ek nie wou hê mense moet dit ontvang omdat hulle my nie in die gesig wou vat nie. ’n Klompie het sommer dadelik uitgeteken. Een Tannie het my so sleg gesê dat die see my nie kon skoon was nie.

Die getalle het nie eintlik meer geraak nie. Maar eendag kry ek toe die gedagte (nee, dis die Gees wat dit in my kom lê het) dat ek onderaan die e-pos wat uitgaan moet skryf: Indien jy weet van iemand wat die boodskap nodig het, stuur dit vir hom of haar. Só begin Kruispad toe oor die golwe van die internet woes en ver trek en derduisende mense teken in om God se Woord in vandag se woorde te ontvang.

Aan God al die eer.

Tog het God nie aarde toe gekom en bemarkingsplanne opgestel en bemarkers aangestel en advertensies by mense se skerms afgelaai nie. Dis nie God se styl nie.

Nee, God het mense gebruik. Gewone mense. Mense wat nie noodwendig opgelei is om bemarking te doen nie. Mense wat nie noodwendig teologie studeer het nie. God het gewone mense gebruik om Sy bediening die hoogtes te laat inskiet.

God het nie van die mense verwag om eers ’n kursus te loop om te weet hoe hulle presies moet maak nie. Dis eintlik ’n baie eenvoudige opdrag: Vertel vir ander hiervan. In vandag se terme: Share jou e-pos of WhatsApp of Facebook post. Druk die share knoppie en send. Dis al! God doen die res.

2Jy en baie ander het gehoor wat ek alles oor die Christelike dinge vertel het. Vertel dit nou weer vir mense wat jy kan vertrou sodat hulle dit weer vir ander kan vertel.

My mond hang oop om te sien wat gebeur wanneer God en Sy Gees aan die werk is. Dis wonderlik om te sien as mense hulle roeping snap en uitleef. Die resultaat is soos die Engelsman sê: Mind blowing. Die gevolge blaas jou asem weg en jy staan in verwondering oor wat aan die gebeur is.

Ons almal het die roeping om God se Boodskap oor te vertel. Vandag is dit so maklik om net die share knoppie te druk. As jy weer eendag geroer word deur God se woorde en wonder of jy dit moet aanstuur vir die of daai … Wees getrou en gehoorsaam. Luister na die stem van die Heilige Gees en druk die share knoppie.

Dalk red jy ’n lewe. Ek ontvang so pas hierdie kort e-pos:

Ek was nou op pad om my lewe te gaan neem. Toe kom die kruispad e-pos hier in. Ek het my selfdoodpoging nou eers op die ys gesit.

Dankie vir die een wat getrou was en op ’n vorige rondte die share knoppie gedruk het.

Soli Deo Gloria!

Teks
2 Tim 2:1-7

Om oor na te dink
Verstaan jy jou roeping?
Hoe kan jy dit uitleef?
Druk jy soms die share knoppie?

Gebed
Here, ek weet dat U my ook roep om U boodskap met ander te deel. Help my om gehoorsaam te wees, al huiwer ek soms. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek