God se Woord in vandag se woorde

Een klein daadjie spreek duisende woorde


Een van die Radio Kruispad luisteraars sê: “Baie dankie vir julle audio boodskappies, dit raak diep in my hart.” Indien jy ook die audio  boodskappe 3 keer per week wil ontvang kliek hier of stuur jou naam en selfoonnommer na radio@kruispad.com. Stoor asb. +27 81 420 8459 onder jou WhatsApp kontakte sodat jy die boodskappe kan ontvang.

Filippense 4:10-20

Die mense van Filippi het nie veel gehad nie. Tog was hulle baie dankbaar vir wat Paulus in hulle lewe gedoen het en stuur vir hom ’n geskenkie. Hy het vir hulle die grootste geskenk ooit gebring. Hy het vir hulle die Evangelie gebring en kon hulle vir die eerste keer in hulle lewe vir Jesus kies. So kon hulle op die pad van die Ewige Lewe klim. Aldus hulle dankbaarheid.

Alhoewel die geskenk nie baie groot was nie, beteken dit vir Paulus so baie. 14Dit was baie mooi van julle om my te help toe dit maar sleg met my gegaan het. Dalk verstaan ons nie dat Paulus so aangaan oor so ’n klein geskenkie nie, maar ek vermoed in ’n tyd wat dit regtig sleg gaan, beteken net die feit dat ander aan jou dink, soveel aan jou dink om vir jou ’n geskenkie te stuur, die wêreld vir hom.

Barnes (e-Sword) omskryf die impak van die gebeurtenis so mooi:

It is a good work to succor and help a good minister in trouble. Here see what is the nature of true Christian sympathy; not only to be concerned for our friends in their troubles, but to do what we can to help them. They communicated with his affliction, in relieving him under it. He rejoiced greatly in it, because it was an evidence of their affection to him and the success of his ministry among them. When the fruit of their charity abounded towards the apostle, it appeared that the fruit of his ministry abounded among them.

Ek hou van daai ene waar Barnes sê “not only to be concerned for our friends in their troubles, but to do what we can to help them.” Ek het my al baie keer gevang waar ek vir mense sê dat ek hoop hulle probleme word opgelos of ek sal bid vir jou en jou probleme en omgedraai en geloop het. Maar nooit het ek die vraag gevra wat kan ek nou doen nie? Watter moeite kan ek in myself bymekaarmaak, watter energie kan ek gebruik om ’n stuk van die persoon se swaar, seer en probleme te help dra nie.

Ons Christene is soms lief om sê: Mag God met jou wees en dan besef ons nie dat God juis deur ons dade, deur die dinge wat ons doen om die mense in hulle swaar te help, geopenbaar word nie. Ons vrugte word geken in ons dade en nie soseer deur ons woorde nie.

Daar is ’n Engelse spreekwoord wat sê dat ’n prentjie spreek ’n duisend woorde. Wel, ek vermoed ’n daad waarin jy ander laat goed voel, ander uit hulle moeilikheid help of net ’n bietjie meer waarde kry, spreek duisende woorde.

Ek wil jou uitdaag om ook plekkies te gaan soek waar jy ’n verskil kan gaan maak. Dalk dink jy dit is niks of baie klein, maar vir die persoon waaraan jy dit doen, kan dit dalk alles wees. Mag ons almal plekkies vandag gaan soek waar ons iets aan ander kan doen wat duisende woord sal spreek.

Die wêreld sal anders lyk, ruik, voel en wees!

Om oor na te dink

Waar kan jy iets doen?

Wanneer kan jy iets doen?

Wat kan jy anders doen?

Gebed

Vader, wanneer ’n mens op die pad van die Ewige Lewe geplaas word, is ons so dankbaar. Uit hierdie dankbaarheid vloei daar ’n wil om ook aan ander mense goed te doen. Help ons dat hierdie drang om goed te doen nooit vervaag nie. Help ons om nooit op te hou om plekkies te soek waar ons met ons dade stories van U goedheid kan vertel nie. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?