God se Woord in vandag se woorde

Eenmalig oorgenoeg


Om kinders groot te maak, is nie maklik nie. Die groot basiswoord hier, is seker balans. Jy moenie vir jou kind alles gee nie, want dan leer hulle nie waar dinge vandaan kom nie en dink die wêreld skuld hulle alles.

Aan die ander kant moet ’n mens ook nie die heeltyd op hulle foute konsentreer nie. Later voel hulle soos ‘n mislukking en is die kans goed dat hulle op die ou end boedel oorgee en nou maar wees en doen soos wat die wêreld sê hulle is en doen.

Op ’n manier is dit wat die ou wet van God gedoen het. Die wet het die mense herinner aan wat hulle moet doen. Dit het ook uitgeblaker as hulle verkeerd gedoen het. Dan moes hulle ’n os of bok vat om te probeer om van die sondes ontslae te raak. Maar dis dan juis hierdie offerande wat hulle herinner het aan hulle verkeerde dade. Dis soos ’n bose kringloop.

Doen sonde. Voel sleg. Offer. Word aan sonde herinner. Voel weer sleg en dan doen die mens maar weer sonde.

Behalwe dat die offer nie ’n permanente, volhoubare oplossing was nie, het dit ook ’n negatiewe impak op die mens gehad. Dis soos om ’n kind die heeltyd op sy foute te wys. Later kwyn sy selfbeeld en op die ou end tree die kind maar op soos almal van hom dink. Hy gee bes/gooi tou op/gee moed op.

Ek dink as ek so gedurig moes vergifnis vra vir my sonde, sou ek ook êrens langs die pad handdoek ingegooi het, oorgegee het en nie eers meer probeer het om nie sonde te doen nie.

3Maar al die offers herinner hulle nou juis aan al die foute wat hulle gedurig maak.

Behalwe dat die offers die mens elke keer teruggevat het na die swak dag en hom horing laat voel het, het dit eintlik ook nie sy doel bereik nie: 4Die bloed van bulle of bokke kan mos nie regtig maak dat God Hom nie meer aan al hulle foute steur nie.

En 4… “Allerhande geskenke en offers is nie wat U regtig wil hê nie.

Eintlik was ons mensdom in tamatiestraat.

Maar gelukkig weet ons dat daar ’n nuwe plan uitgerol is. Die Boodskap-vertaling vertel die storie so mooi. Jesus is hier aan die woord: 9… “Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen.” Hy het die ou offers eenkant toe geskuif om sy eie offer te bring. 10So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net Syne geword.

Nou word ons nie meer teruggevat na elke plekkie waar ons die verkeerde besluite geneem het nie. Nou word ons nie elke keer herinner hoe swak en sleg ons is en hoe skeef ons trek nie. Want ons het nou ’n nuwe identiteit gekry.

Ons is nuwe kinders. Kinders wat nie hoef terug te kyk en oor te gee nie, maar wat net vorentoe kyk en weet: Ek is ’n Koningskind. Nou het ek ’n beter selfbeeld en kan ek met gesag deur die wêreld gaan. Ek kan anders leef, omdat Jesus se offer vir my eenmalig oorgenoeg was.

Teks
Hebreërs 10:1-10

Om oor na te dink
Hoe voel jy oor jou verkeerde dade?
Sleep jy swaar daaraan?
Wat maak Jesus se offer vir jou anders?

Gebed
Here Jesus, dankie dat U al die skuld en skande vir my foute wegvat. Help my om nie oor en oor daaroor sleg te voel nie, maar te aanvaar dat U my daarvan vrymaak. Help my om te leef soos wie U sê ek is – ’n Koningskind. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek