God se Woord in vandag se woorde

Eer vir Jesus en vir my


Vers 12 spook nog by my …

Die vorige storie van Abraham wat ’n besembestuurder geword het, het my baie geleer. Daar was twee groepe mense wat met verskillende oë na die mense wat swaarkry, kyk. Die een groep soos die biltongkouer sien mense soos Abraham as ’n las wat so gou as moontlik spore voor hulle oë moet maak, anders help hulle hom sommer met ’n vuis of so uit die pad.

Ek glo nie dis hoe Jesus teenoor Abraham sou optree nie.

Die ander groep word gelei deur Hendrik. Hendrik kyk na Abraham deur sy hart se oë. Dan sien ’n mens anders. Dan sien ’n mens die nood raak. Dan kry ’n mens ook seer as die ander niks het nie. Maar meer nog, dan wil en kan jy nie anders as om ’n plan te maak en iets te doen nie.

Dis presies hoe Jesus sou optree.

Ons lesers is aangeraak deur Hendrik en Abraham se storie. Ons wil ook so optree. Ons wil ook ander help. Ons wil ook werklik ’n verskil maak. Ons word aangehits en gemotiveer om ook plekke te soek waar nood is en om planne te maak om die nood te verlig. Hoe anders gaan die wêreld lyk as elke leser van die storie net een klein dingetjie gaan doen om ander se nood te verlig?

Maar dit gaan oor meer as net Abraham, Hendrik en ons lesers, want sien, die netto effek van dié lewensveranderende storie is dat Jesus geëer word. Op ’n manier kry Jesus gestalte deur dit wat ons doen. Jesus kry hande en voete deur Hendrik se manier van doen. Jesus word sigbaar vir die wêreld, omdat Hendrik bereid is om ‘n verskil te maak en deur Jesus gebruik te word.

Nou maak vers 12 rêrig sin: 12Dan sal julle ons Here Jesus se heerlikheid uitdra soos nog nooit tevore nie. Ander mense sal sien hoe groot en belangrik Hy regtig is. Op julle beurt sal julle met eer beklee word deur die Here. Dit is presies hoe die goedheid van ons wonderlike God en die Here Jesus Christus in julle lewens werk.

Die English Standard Version maak dit nog duideliker: 12 … so that the name of our Lord Jesus may be glorified in you, and you in Him, according to the grace of our God and the Lord Jesus Christ.

Deur Hendrik se werke word Jesus verheerlik. Jesus ontvang roem, eer en glorie deur die goeie werke wat gedoen word. Ons kan amper sê dat ons hande en voete, ons werke, ’n spieël is waarin mense vir Jesus raaksien. Mense in nood staan dikwels verstom oor die goedheid wat hulle ontvang. Dan kan hulle nie stilbly oor die goedheid en guns nie, want hulle word oorval deur danksegging en eer aan die Oorsprong van die goedheid wat hulle via kinders van God ontvang het.

Dit is hoe Jesus eer ontvang deur ons dade. Via ons werke sien ander vir Jesus raak. Mense kom op die manier soms vir die eerste keer met Jesus in kontak en hulle kan nie dieselfde bly as hulle met die hemelse Seun van God in aanraking gekom het nie.

En ons? In die proses ontvang ons eer van Jesus (let wel, nie mense nie) omdat ons net ons werk doen. Nee, ons doen dit nie om eer te ontvang nie. Ons doen goed aan ander uit dankbaarheid vir die redding wat ons van Christus ontvang het. Jesus is dankbaar dat ons dit uiteindelik snap. Hy is dankbaar dat ons geloof in Hom deur middel van goeie dade sigbaar word. En ons ontvang van Hom eer.

Sjoe, hoe klein voel ek nie nou om te dink dat die Almagtige Jesus Christus vir my eer gee nie. Dit kan net genade wees!

Teks

2 Tessalonisense 1:11-12

Dink bietjie hieroor

Kry Jesus eer uit jou dade?

Kry jy eer van Jesus as gevolg van jou dade?

Is jy beskikbaar en bruikbaar vir Jesus?

Gebed

Jesus, dis eintlik vreemd om te dink dat U my ook wil eer. En tog klink dit so wonderlik. Ek wil ook deur my dade aan U eer bring. Ek wil ’n verskil maak daar waar ek woon en werk. Maak my oë oop dat ek die nood kan raaksien. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek