Eie ek op hok
Met die afgelope paar verse word ’n mens so effe voor die bors gegryp. Kyk nou weer hier: 3Moenie net aan julleself dink of heeltyd aandag soek nie. Wees liewer maar die minste sodat ander die meeste kan wees. 4Niemand moet net aan homself dink nie. Elkeen moet ook aan die ander om hom dink.
Eintlik skree ons hele wese hierteen, want in ons natuur begin ons eerste vir ons self te cover. Dit is soos instink. Jou selfverdediging skop onmiddellik in as jy bedreig word. Wanneer jy dus van ander verskil, dink jy eers aan jouself en net aan jouself.
Het ek en my vrou darem nie ’n nare ervaring in ’n winkel op ’n dorp langsaan gehad nie? Kyk nè, vir my is dit moeilik om die prentjie te kry van hoe een teël gaan lyk as dit oor die hele vloer uitgelê is. So is ons by die een winkel na die ander in en uit. Uiteindelik het ons ’n sterk vermoede dat ons die regte teël gekry het, maar nou het ons ’n paar vrae.
Maar ons kry dit net nie reg om iemand te kry om ons te help nie, want sodra ons nader aan die toonbank kom, word ons begroet deur ’n ligte oorlog tussen die baas en sy assistent. Daar het iets verkeerd geloop met ’n bestelling of so iets en die een blameer die ander.
Ons draai toe maar weer om en maak of ons nog teëls soek. Maar elke keer as ons nader kom, word ons nie opgemerk nie en retireer ons weer die rakke in. Gelukkig, na ’n erge stofwolk en ’n assistent wat duidelik ’n bietjie suikerwater benodig, word ons gehelp en ons is vinnig daar uit.
Met nabetragting van die jong oorlog tussen die baas en sy assistent besef ons dat elkeen net sy eie siening en verstaan van die probleem op die tafel gegooi het (ongelukkig ten aanhore van al die kliënte). Nie een kon die ander se storie sien of probeer verstaan nie. As hulle maar net op ’n manier hulle emosies in toom kon hou en mooi luister wat die ander een te sê het, sou die stofwolk nie so groot gewees het nie. Maar ongelukkig het elkeen net aan homself gedink.
Net hierna help ek ’n jong paartjie met voorhuwelikse sessies. Die eerste twee onderwerpe wat ons behandel, is kommunikasie en konflik. Ewe skielik slaan dit my hier teen die bors. Konflik is kommunikasie en onbeheerste emosies. Kommunikasie is so nodig en eintlik die belangrikste element van ’n gesonde verhouding. Dis die eie ek wat dit kom bedinges en dan emosies na die partytjie bring. Dis waar die vlieg in die salf val.
Hoeveel verhoudings kon nog voluit gehol het as dit nie was vir die eie ek wat in die middel gestaan het nie?
Nee, wat. Dis nie die moeite werd nie. Probeer ’n slaggie om die ander een se punt in te sien. Kyk of jy hom of haar nie op hulle platform kan ontmoet nie. Dit sal niks kwaad doen om net vir ’n slag te probeer om die ander een se manier van doen te probeer verstaan nie.
En dan vir die moeilike een: Daar is kere wanneer die beste oplossing is om die minste te wees. Jy weet mos wie jy is. Jy hoef mos nie elke onderonsie te wen nie. Staan terug en laat die ander een die meeste wees. Onthou, volgende keer staan jy weer daar. Hulle sê mos elke hond kry sy dag!
Die wêreld sal vir seker anders lyk as ons meer ruimte vir mekaar het, mekaar se agtergrond en wese beter verstaan, die eie ek vir ’n wyle agter die skerms indruk en die minste wees.
Om oor na te dink
Hoe sterk steek jou eie ek sy kop uit?
Waar moet jy eers terugstaan?
Is dit maklik om die minste te wees?
Gebed
Vader, ek besef maar net weer dat daar soveel plekke is waar ek nog moet skaaf en my eie ek is vir seker een van hulle. Help my om soms die eie ek op hok te kry en meer aan ander te dink. Help my om die minste te wees. Amen