God se Woord in vandag se woorde

“Ek het nêrens om heen te gaan nie”


Ons markeer die pas by die middelpunt van die evangelie. Ons almal het ’n verantwoordelikheid om hierdie verlossingsboodskap uit te dra. Ons almal doen dit op verskillende maniere. Ek kon nie anders as om die komiese verhaal van Johan te deel nie:

Ek en my vrou is seker nou al so 20 jaar besig met ‘n man van die straat wat vreeslik drink. Ek het al vir hom pamflette en ’n Gideon- Bybel gegee, ek het vir hom gepreek en ek hou hom gedurig besig met ‘n werkie, want hy kan regtig enige iets doen en netjies ook, noem maar op.

Een Vrydagaand na werk gee ek weer sy geld vir hom en hy is daar weg. Dit was seker so by agtuur die aand. Ons sit voor die TV en ek hoor iemand roep my op my naam. Ek gaan uit en kry vir ou Johnie voor die hek staan.

Ek sien hy hou in elke hand sakke vas. Ek maak die hek oop en en vra hom wat hou hy vas. “Nee, sê hy, dìt is bietjie rantsoen vir die naweek.”

Ek kyk en sien die twee bottels brandewyn en bier. Moedeloos vra ek hom of ons nie dan net daai middag ‘n onderneming aangegaan het nie.

Ek sê vir hom:“Johnie, as jy ‘n man is en wil hou by jou onderneming met die Here Jesus, maak die twee bottels oop en gooi hulle uit daar op die grond.

Hy kyk my so en sê: “Nee, doen jy dit maar. Jy doen dit op jou eie responsibility“.

Diep moedeloos vra ek hom: “Johnie, as jy nou hier oor die straat loop en ‘n kar trap jou dood, waar gaan jy heen?”

Hy kyk my weer so en sê: “Ek het nêrens om te gaan nie. Ek sal maar hier na jou toe kom.”

Ek het toe maar my seun gevra om hom huis toe te vat. Ag, hy het ‘n groot probleem, maar ons hou aan om die Here te vertrou dat hy ‘n plan met Johnie het.

Dis ’n kostelike storie, want ’n mens verwag nie ’n antwoord van: “Ek het nêrens om te gaan nie.”

En tog, as ’n mens lank daaraan dink, sny dit so diep. So baie mense het geen plek om heen te gaan ná hulle laaste dag op aarde nie. Eintlik maak dit mens se hart so seer. Soveel mense mis uit: 9God het besluit dat ons nooit in der ewigheid aan sy straf onderwerp sal word nie, maar dat ons deur die Here Jesus Christus gered word. 10Daarom het Hy in ons plek gesterf. Dit maak nie saak of ons nog lewe op die dag wanneer Hy terugkom en of ons al dood is nie; ons plek daar by Christus is klaar bespreek. Ons gaan vir altyd saam met Hom leef.

Mag jy soos Johan weer en weer probeer om die boodskap by almal uit te bring.

Teks

1 Tessalonisense 5:4-11

Om oor na te dink

Vir wie moet jy Jesus se boodskap bring?

Wanneer gaan jy dit doen?

Hoe gaan jy dit doen?

Gebed

Jesus Christus, dankie dat elkeen wat in U glo, ’n plek het om heen te gaan ná ons laaste dag op aarde. Dankie vir die opoffering wat U gemaak het sodat ek vir altyd by U kan wees. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek