God se Woord in vandag se woorde

Elke aksie ’n reaksie, behalwe as dit by God kom


Daar gebeur baie dinge in ons lewe, maar ons kan nie alles onthou nie. Ek vermoed dat as ons alles moes onthou ons hardeskyf in ons brein gou vol sou raak. Ons onthou gelukkig net die dinge wat ’n groot impak in ons lewe gemaak het. Rêrige groot dinge. Baie mooi dinge, maar ook baie dinge wat nie so lekker was nie.

So onthou ek ’n paar van die pak slae wat ek as kind gekry het. Die meeste daarvan in die skool. Ons het heel trots ’n merkie op ons das gemaak vir elke hou wat ons met die rottang ontvang het. Dit klink seker vir die jongklomp van vandag barbaars dat ons so pak gekry het, maar ek moet bieg – dit het baie goed gewerk. Ouers en onderwysers het nog gesag gehad en as hulle gepraat het, het ons geluister.

Ek het al die storie vertel, maar dit het so ’n groot impak op my lewe gemaak dat ek dit vandag nog in die kleinste besonderhede onthou. Ons was baie betrokke by die skool. Nie net aan sporte deelgeneem nie, maar ook aan die kulturele dinge soos debataande, revues, skoolkoerant, ens. Dit was veral wanneer ons saans iets by die skool aangehad het wat dit maklik was om die grense te toets. Ag, ek weet nie hoekom nie, maar ons het een debataand ons Afrikaanse juffrou se motor se band afgeblaas.

Ek weet nie hoe hulle dit geweet het nie, maar nog voor die klok die volgende oggend gelui het, het ek al ses van die bestes gekry. Die hoof het nie gedink dit was snaaks nie.

Ek en die res van die viermanskap het gereeld die skool verlaat om die bordspeletjie, Risk te gaan speel. As een van ons per ongeluk êrens gemis word, seker omdat die klas so stil was, moes ons die volgende oggend sommer by voorbaat by die hoof se kantoor gaan staan vir ons welverdiende pak.

Dis in ons gedril: Stout = pak. Tot vandag toe is dit nog deel van my manier van dink. As ek iets verkeerd gedoen het, kom die prentjie van die ses houe by my op. Ons het in die Wetenskapklas geleer dat elke aksie ’n reaksie het. Wanneer die aksie van stout gebeur, is daar ’n reaksie van straf. Dis nou as jy uitgevang word!

Net so werk dit met sonde. Die reaksie na sonde is straf. As ons verkeerd gedoen het, moet ons ons pak vat daarvoor. En dit is reg so. Sonde kan nie ongestraf gelos word nie. So sê die Bybel ook.

Tog het God anders hieroor gedink. God kon dit eenvoudig net nie meer aanskou dat die mens keer op keer die pak moet vat vir die sonde wat hulle doen nie. Daarom: 9God het besluit dat ons nooit in der ewigheid aan sy straf onderwerp sal word nie, maar dat ons deur die Here Jesus Christus gered word.

Op ’n manier is dit eintlik te veel vir ons om te verstaan. By ons is dit ingedril: stout = pak. By God werk dit ook so, maar net anders. By die sonde wat ons doen, is God se reaksie vergifnis! In plaas daarvan dat die reaksie op ons sonde straf en die dood is, is die reaksie vergifnis en lewe.

Hoe genadig is ons God nie!

Maar wat is óns reaksie op God se aksie? Wat kan ons uit dankbaarheid doen vir God se reaksie op ons sonde? Hoe lyk ’n lewe van dankbaarheid?

Teks

1 Tessalonisense 5:4-11

Om oor na te dink

Wat is óns reaksie op God se aksie?

Wat kan ons uit dankbaarheid doen vir God se reaksie op ons sonde?

Hoe lyk ’n lewe van dankbaarheid?

Gebed

Here, U is so goed vir ons. U reaksie op ons sonde is so onverstaanbaar groot. Ja, dis net ’n liefdevolle God wat so ’n reaksie op ons sonde kan hê. Mag ons lewe ’n lewe van dankbaarheid en gehoorsaamheid wees. ’n Lewe waar ons elke oomblik plekke sal soek waar ons ’n verskil kan maak in dankbaarheid vir U reaksie op ons sonde. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek